Gedurende die grendeltyd bevind die oud-Matie en Kapenaar Mia Esterhuyzen haarself by die renosterrehabilitasiesentrum naby Nelspruit waar sy al sedert 2015 bykans elke vakansie as vrywilliger werk. Esterhuyzen is een van 169 studente in die Universiteit Stellenbosch (US) se fakulteit agriWetenskappe wat vroeër die maand virtueel graad gevang het. In haar geval het Esterhuyzen ‘n BScAgric-graad met landbou-ekonomie cum laude verwerf.

Altesaam 3278 Matie-studente het onlangs gegradueer.

“Toe ek hoor van ‘lockdown’, het ek dadelik na die Care for Wild Rhino Sanctuary gegaan om te help. Mens werk baie hard, en soms beteken dit ‘n kalfie moet elke vier ure gevoed word. Dis egter die grootste vreugde om elke dag wakker te word en te weet dat ek ‘n renoster gaan behandel of help,” vertel sy. “Dis ‘n voorreg om hier te mag werk, en ‘n bydrae te maak tot die bewaring van renosters.”

Haar hart lê al by renosters sedert sy as 16-jarige die eerste keer ‘n wesie help versorg het. Sedertdien was dit haar droom om as veearts bedreigde diere te help. Mia, wat in 2013 reeds aan Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad gematrikuleer het, kon vanjaar uiteindelik na vele ompaaie en hindernisse as veeartsenystudent by die Universiteit Pretoria se Onderstepoortkampus begin studeer.

Sy het in matriek die eerste keer aansoek gedoen vir die elite-kursus waartoe slegs ‘n handjievol studente toegelaat word. Sy is egter nie gekeur nie en het daarom in 2014 met ‘n BSc-graad aan Tukkies begin. In haar tweede jaar het sy egter die universiteit verlaat sonder om eens amptelik op te skop.

“Wanneer mens se droom ‘gecrush’ is, verloor mens nogal motivering as jy iets moet swot wat jy net mooi niks van hou nie. Al is ek nogal baie onafhanklik, het dit ook nie juis gehelp dat ek so ver vanaf die huis was nie,” onthou Mia.

In Junie 2015 het sy die eerste keer by Care for Wild as vrywilliger ingeval, eers vir twee weke en toe vir twee maande.

Vir eienaar Petronel Nieuwoudt het sy net die grootste respek, vertel Mia. By haar het sy meer as net oor die versorging van wonde, hoe om voeding vir kalfies aan te maak of die lees van diere se gedrag geleer. Nieuwoudt het Mia geleidelik begin oortuig om weer verder te studeer.

In daardie tyd het Mia se ma “en beste vriendin” haar onwetend ingeskryf aan die US. So het sy plek in die BSc Landbou-ekonomie kursus gekry – ‘n vakgebied waaroor sy nie ‘n bloue duit geweet het toe sy in 2016 danksy ‘n laatinskrywing en baie papierwerk daarmee saam begin het nie.

“Ek het geweet dis my enigste en laaste kans,” onthou Mia, wat besonders dankbaar is vir haar ouers se bystand deur al die jare.

Sy het gehou van die wye reeks modules wat oor haar pad gekom het – van grondkunde en veekunde tot landbou-ekonomie, finansiële bestuur en finansiële rekeningkunde. Sy het ook diere-anatomie en fisiologie as ‘n ekstra vak geneem.

“Ek het wel gereeld gevoel dat landbou-ekonomie nie 100% was wie ek is nie. Dit was egter vir my belangrik om ‘n sukses daarvan te maak. Ek het besef dat as ek nie ‘n veearts kon word nie, ek tog met die graad steeds ‘n verskil kan maak aan die welstand van renosters. As landbou-ekonoom sou ek byvoorbeeld kon kyk hoe mens die mark vir renosterhoring kan laat duik, en met my finansiële agtergrond sou ek die plaas meer kon help.”

Vir haar dosente het sy slegs die hoogste lof. Hulle het haar passie vir renosters verstaan, en toegelaat om waar moontlik aan verwante projekte te werk. So het sy in haar vierde jaar haar mini-tesis gedoen oor die waarde daarvan om handel in renosterhoring te wettig.

Haar dosente het haar ook besonders bygestaan toe sy verlede jaar besluit het om weer eens aansoek te doen vir veeartsenystudies. In haar agterkop het sy gereken sy sou met ‘n meestersgraad in landbou-ekonomie aangaan as sy wéér nie keuring kry nie.

Op 18 September verlede jaar het sy “die beste nuus ooit” ontvang dat sy wel veeartsenykunde kan studeer.

“Dis net geluk, selfs ‘n wonderwerk dalk dat ek gekeur is,” reken sy nou nog na ‘n kwartaal se klasse daarin.

Sy sê danksy Nieuwoudt se mentorskapsrol kon sy aanhou totdat sy haar drome bewaarheid het.

Mia sê sy’s lewende bewys dat mens nie sommer moet opgee op jou drome nie, al dink ander mense dis dalk ‘n saak van onmoontlikheid.

“Moenie ophou nie, al voel jy afgehaal en sonder enige motivering. As dit dalk nie uitwerk nie, vind die tweede beste opsie en maak dit jou beste opsie,” is haar raad aan jongmense. “Mens moet doen wat jou gelukkig maak. Geld is nie alles nie. Jy moet ‘n doel hê wat ‘n bate is vir die wêreld, vir mense en vir diere.”

“Dalk, as ek geweet het daar’s iemand wat so lank geneem het om hul drome te bereik, sou dit my nog meer gemotiveer het,” voeg sy by.

Ontvang van US Kommunikasie en Verhoudings – Geskryf deur Engela Duvenhage.