Op 16 April is Deon Carinus, ’n boer van Devonvallei en ’n raadslid van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, deur die DA ingelig dat hy nie meer vrugte mag help vervoer na behoeftige gemeenskappe nie. Hulle het vir Carinus gesê dat hy die reëls vir raadslede, wat insluit dat hulle nie self kospakkies mag uitdeel nie, moet gehoorsaam. Die foto hierbo van ’n samedromming van mense om die trok het gelei tot die argument tussen Carinus en die DA. (Foto: Verskaf.)

Carinus verduidelik dat hy steeds die vrugte vervoer het omdat hy deur die Stellenbosse Landbougenootskap afgevaardig is om dit af te lewer na groepe in Stellenbosch. Angelika van der Merwe, die algemene bestuurder van die Stellenbosse Landbougenootskap, sê dat Carinus spesifiek gekies is omdat Kalie Kirsten, die Stellenbosse boer wat die sitrusvrugte verskaf, hom vertrou.

Van der Merwe sê hulle het deur Stellenbosch Unite gewerk om te besluit waar Carinus moet aflewer. Sy verduidelik dat hy ’n landbou-permit het om kos te versprei.

Carinus is deur die DA genader nadat hulle ’n foto van sy trok in Kayamandi wat omring is deur baie mense, gesien het. Hulle was ongelukkig omdat hy daar was en omdat daar baie mense was wat naby aan mekaar gestaan het.

Hy sê die insident is betreurenswaardig en dat daar ’n beter raamwerk behoort te wees, maar dat hy wens daar was ’n kans om te verbeter. Carinus verduidelik sy vragmotor het in die pad gestop omdat die hekke waarby hy veronderstel was om in te ry, nie reeds oop was nie. Dit was toe die vragmotor gestop het en ’n samedromming begin het.

Carinus noem dat die DA die volgende dag hul maatreëls weer gekommunikeer het met die waarskuwing dat enigiemand wat dit oortree, in die moeilikheid sou wees.

Hierdie foto van ’n samedromming van mense om die trok het gelei tot die argument tussen Carinus en die DA. Foto: Verskaf.

Sitrusvrugte word deur boere gestuur na gemeenskappe in Stellenbosch, soos Kayamandi. Foto: Verskaf

Stuart Grobbelaar, die woordvoerder vir die Stellenbosch-munisipaliteit, sê daar is vir Carinus gevra om eerder oor te gee aan Stellenbosch Unite, “die amptelike verspreidingskanaal vir voedsel aan kwesbare persone”.

Grobbelaar voeg by: “Daar is ook ‘n protokol deur die minister van plaaslike regering, Anton Bredell, uitgevaardig dat raadslede nie persoonlik betrokke moet raak by kosverspreiding nie.”

Carinus sê hy het nie geglo hy oortree enige reëls nie, aangesien hy net die vrugte vervoer het en nie self uitgedeel het nie. “Dit is die werk van die gemeenskapsleiers,” verduidelik hy.

Boonop doen hy dit in sy kapasiteit as ’n boer en nie as ’n politikus nie. Hy erken wel dat hy verstaan dit is soms moeilik om die twee te skei. Hy glo egter dat hy al gehelp het met voedsel versprei voordat hy in 2009 deur die DA genader is om ’n verteenwoordiger te raak vir die Kaapse Wynland-gebied.

Van der Merwe verduidelik dat daar soms spanning is tussen boere en politici aangesien die boere daarvan hou om direk aksie te neem as hulle gestres of ongelukkig is. Sy sê dit is ’n jammerte dat geleenthede nou verlore is, maar dat dit ’n uitdaging is en dit is hoe sake tans verloop.

Nadat Carinus gekeer is om verder Kirsten se vrugte af te laai, het Kirsten sy misnoëe uitgespreek aan die munisipaliteit. Hy vertel dat die burgemeester, Gesie van Deventer, hom gebel en om verskoning gevra het. Kirsten sê hy verstaan hul behoefte om mense apart te hou as gevolg van die coronavirus.

Grobbelaar sê: “Die munisipale bestuurder het met Kirsten gereël dat hulp verleen word met die lewering van die vrugte aan Stellenbosch Unite omdat dit ʼn uiters waardevolle bydrae van kos is wat dwarsoor die munisipale gebied versprei word.” Kirsten beaam dit, maar sê die munisipaliteit het nog nie na hom toe teruggekom nie.

Hy noem hy het glad nie geweet of daar persoonlike of politieke agendas is nie. “As dit ’n politieke ding is, dan onttrek ek,” het hy gesê. Hy voeg wel by dat hy bang is om “die verkeerde mense te straf”, en dus nie arm mense wil straf as gevolg van politieke stryery nie.

“Die munisipaliteit en Stellenbosch Unite wil graag vir Kirsten en alle boere wat vrugte skenk hartlik bedank vir hierdie waardevolle bydrae tot die voedingskema. Hul skenkings help geweldig baie mense dwarsoor die breër Stellenbosch en word opreg waardeer,” het Grobbelaar gesê.

Carinus sê hy wil net mense help en maak die analogie dat ’n boot se kaptein nie eerste afklim as die boot besig is om te sink nie. Hy beklemtoon dit:“Ons moet deur dik en dun by die mense wees.”

* Die oorspronklike artikel is gewysig om kommentaar deur Deon Carinus te verhelder.