– Dr. Nic Spaull

Terwyl Suid-Afrika dit oorweeg om skole te midde van die COVID-19-krisis te heropen, meen dr Nic Spaull van die departement ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch (US) dat die risiko’s vir onderwysers en ouers aansienlik minder sal wees indien die jongste kinders toegelaat word om eerste terug te keer skool toe.

Spaull het pas ‘n beleidstuk vrygestel met die titel “COVID-19: Who should go back to school first?” Die beleidstuk is in ooreenstemming met epidemiologiese bewyse van regoor die wêreld.

Suid-Afrika se departement van basiese onderwys beplan om skole vanaf 1 Junie 2020 te heropen, met graad 7- en graad 12-leerders wat eerste toegelaat sal word om terug te gaan.

Array

Dr Nic Spaull, Departement Ekonomie, Universiteit Stellenbosch

Spaull voer aan dat grade R, 1, 2 en 3 – eerder as graad 7 – toegelaat moet word om saam met graad 12-leerders terug te keer. Hy meen die res moet in fases teruggaan skool toe en dat spesiale voorsorgmaatreëls vir onderwysers getref moet word.

“Die kanse dat kinders tussen 0 en 10 jaar oud die virus sal opdoen, hetsy van mekaar of van volwassenes, is heelwat minder as dié van volwassenes. Selfs al het hulle die virus, dra hulle dit nie maklik oor nie en gevalle waar hulle ernstig siek word of aan COVID-19 sterf, is uiters skaars,” sê Spaull.

Hy reken hierdie benadering moet gekombineer word met die noukeurige monitering van infeksiekoerse van ‘n ewekansige steekproef bestaande uit onderwysers asook gesinne van graad R-3-kinders. Dit sal die risiko vir leerders en onderwysers tot ‘n minimum beperk, en baie ouers in staat stel om terug te keer werk toe.

Sosiale en ekonomiese voordele

Hy het bygevoeg dat kinders van tien jaar en jonger die grootste versorgingslas op hul huishoudings plaas en verhoed dat baie ouers en versorgers terugkeer werk toe om ‘n inkomste te verdien om hul gesinne te onderhou.

Tweedens is jong kinders die minste in staat tot selfgerigte leer tuis. Dis deels daaraan te wyte dat hulle nog nie geleer het om selfstandig te lees nie, maar ook omdat jong kinders eenvoudig meer menslike interaksie en “aktiwiteit” benodig om te leer. Terwyl skole gesluit is, het alle kurrikulêre leer vir die meeste kinders in Suid-Afrika tot ‘n einde gekom. Dit lei tot verdere ongelykhede in leeruitkomste.

Laastens neem kinders se welstand toe wanneer hulle skool toe kan gaan. Kinders ontvang gratis skoolmaaltye om hul dieet aan te vul, hulle het interaksie met kinders van dieselfde ouderdom en dit gee hul versorgers ‘n blaaskans van andersins ononderbroke kinderversorging. Dít verbeter ouers se geestesgesondheid en stel hulle in staat om te werk, te beplan en te ontspan – wat maak dat hulle beter versorgers is wanneer kinders ná skool tuiskom. Jong kinders wat tuis “opgesluit” word – terwyl daar min gesondheidsvoordele vir hulself of die samelewing is – benadeel die welstand van kinders, ouers en die ekonomie.

Bewyse

Bewyse uit lande regoor die wêreld rugsteun Spaull se beleidstuk dat die kanse dat kinders COVID-19 sal opdoen, skraal is en dat hulle byna nooit daaraan sterf nie.

Volgens syfers wat deur OurWorldinData.org uitgereik is, toon die COVID-19-sterftekoerse per ouderdomsgroep vir China, Italië, Spanje en Suid-Korea ‘n sterftekoers van 0% vir die kategorie 0-9 jaar oud en 0.3% vir dié jonger as 40 jaar oud.

“Navorsingsbevindings in alle lande blyk besonder konsekwent te wees. Kortom, kinders is minder geneig om geïnfekteer te raak, hetsy van mekaar of deur volwassenes, en is minder geneig om die virus oor te dra; selfs al het hulle die virus,” sê Spaull.

Internasionale navorsingstudies

Die navorsingsfasiliteerder Munro (2020) berig dat daar vyf studies (Shenzen, Japan, Guangzhou, Wuhan en Hunan) gedoen is wat spesifiek daarop gemik was om te kyk of kinders die siekte teen dieselfde tempo as volwassenes opdoen nadat hulle aan ‘n positiewe geval blootgestel was.

“Ten slotte het ons vyf studies wat die sekondêre aanvalskoers van COVID-19 volgens ouderdomsgroepe beoordeel. Vier het ‘n aansienlik laer aanvalsyfer by kinders, en een dieselfde by kinders en die algemene bevolking gerapporteer. Dit blyk dus dat kinders minder geneig is as volwassenes om die infeksie op te doen,” sê Munro.

Die Suid-Afrikaanse ervaring

“Selfs al het Suid-Afrika aansienlik minder infeksies en sterftes vergeleke met enige van die lande wat hierbo bespreek is, stem die ouderdomsprofiel van infeksies en sterftes ooreen met die internasionale ervaring,” sê Spaull.

Teen 2 Mei 2020 het 123 mense reeds in Suid-Afrika aan COVID-19 gesterf, maar geeneen van die sterfgevalle was mense onder 20 jaar (NICD, 2020). Van die 3 144 positiewe gevalle van COVID-19 in Suid-Afrika op 19 April 2020, was slegs 0.3% 0-10 jaar oud en 4% 11-20 jaar oud.

Help skoolsluitings?

In ‘n studie wat in die Lancet Journal of Child and Adolescent Health gepubliseer is en waarna dikwels verwys word, het Viner et al (2020) ondersoek gedoen oor die doeltreffendheid van skoolsluitings om die verspreiding van COVID-19 te beperk. Hulle het die volgende gevolgtrekking gemaak: “Data van die SARS-uitbraak in China, Hong Kong en Singapoer dui daarop dat skoolsluitings nie tot die beheer van die epidemie bygedra het nie… Onlangse modelleringstudies van COVID-19 voorspel dat skoolsluitings op sigself slegs 2-4% van sterftes kan voorkom – baie minder as ander sosiale afstandsintervensies.”

In nog ‘n artikel gepubliseer in Science oor die impak van verskillende ingrypings ter beperking van die verspreiding van COVID-19, gebruik Zhang et al (2020) kontakopnames van 136 bevestigde indeksgevalle wat in Wuhan en Sjanghai geïnfekteer is. Hulle kom tot die gevolgtrekking dat “sosiale afstand alleen, soos geïmplementeer in China tydens die uitbraak, voldoende is om COVID-19 te beheer”. Tog argumenteer hulle dat skoolsluitings kan help om die kurwe in toom te hou: “Terwyl pro-aktiewe skoolsluiting op sigself nie die oordrag kan keer nie, kan dit die hoogtepunt van die voorkoms met 40-60% verminder en die epidemie vertraag.”

“As dit waar is dat kinders minder geneig is om die virus oor te dra wanneer hulle besmet is, soos blyk uit die bogenoemde bevindings uit die literatuur, is die aannames verkeerd waarop die skoolsluitingsbeginsels berus, en word die voordele daarvan oorskat,” sê Spaull.

Sal kinders aanhou leer tydens die grendeltyd?

“Gegewe ons kennis oor leerverliese tydens vakansietye, die gebrekkige toegang tot tegnologie en opvoedkundige middele tuis vir die armste 70% van Suid-Afrikaanse kinders, en die gebrek aan voorbereiding vir afstandsonderrig vóór die grendeltyd, is die kort antwoord op hierdie vraag nee.

“As ‘n mens realisties is, vind daar byna geen kurrikulêre leer plaas by die armste 80% van die leerders in Suid-Afrika tydens die grendeltyd nie.

“Siende dat dit vir minstens die armste 80% van leerders prakties onmoontlik is om betekenisvolle leer van die huis af voort te sit, behoort die Departement van Basiese Onderwys eerder te sorg dat skole veilig is vir leerders en onderwysers om terug te keer.”

StellenboschNews.com reflects a diversity of views. The views in this piece are the view of the author and do not necessarily represent the views of StellenboschNews.com.
StellenboschNuus.com weerspieël ‘n verskeidenheid opinies. Die menings in die stuk is die van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig die mening van StellenboschNuus.com nie.