– Danie Keet

Die verkoopsmark het verlangsaam en selfs voor die inperking het kliënte, veral buitelanders, afsprake gekanselleer.

Dis die mening van Mari Carstens van Anna Basson eiendomme oor die stand van die eiendomsmark op Stellenbosch nou in die inperkingstyd.

“Ons kan ook vertragings by die akteskantoor verwag, weens sertifikate wat verval en ander administratiewe prosesse. Daar gaan baie goeie kopies in die mark beskikbaar wees, en vir die eerste keer gaan huiskopers amper voel hul koop ‘n eiendom na waarde.

“Op die oomblik is die huurmark onder druk. Daar is kliënte wat hul huur kan bekostig en dié wat nie volle huur kan bekostig nie.

“Die kliënte wat wel die huur kan bekostig, dring nou aan om minder huur te betaal omdat hulle voel hulle moet ook afslag kry. My raad sou wees, doen die regte ding, om almal te help, betaal jou huur. “Vir studente wat nie op Stellenbosch in die grendelperiode was nie, was dit hul eie keuse. Eiendomme word egter nog steeds beset met meubels en ander privaat besittings. Daar is wel ‘n hele aantal studente wat hier agter gebly het en dit is baie suksesvol in die groter eiendomme,”sê Carstens.
.

Mari Carstens met haar seun Herman wat ook eiendomme verkoop. Foto: Verskaf.

Mari Carstens met haar seun Herman wat ook eiendomme verkoop. Foto: Verskaf.

Sy sê ook dat daar in normale tydperke ongeveer ‘n maand se vakansie in hierdie tydperk sou wees. Hulle probeer help en fasiliteer waar moontlik.

“Huurpryse en verkoopspryse het oor jare bo die normaal gestyg. Ons sien ook ‘n ooraanbod van eenman-woonstelle (16 – 26 vk m) in beide markte. Reeds voor die inperking het ons ‘n redelike afplatting in die residensiële mark gesien.

“Kopers is huiwerig en is op soek na die beste waarde vir geld. Die verlaging van die rentekoerse gaan egter baie help. Dit was in my leeftyd nog nooit so laag nie,” het sy gesê.