– Bo: Die Black Soldier Fly, een van die insekte wat suksesvol verwerk kan word. Foto: Voorsien.

Die natuur se reaksie op die aansienlike daling in menslike aktiwiteite weens Covid-19-verwante inperkingsregulasies noop talle kenners wêreldwyd om uit te wys onder watter geweldige druk die omgewing verkeer.

Hulle bepleit ‘n “nuwe normaal” van pro-aarde opsies wat volhoubaarheid, waterbronne, afvalbestuur, voedselsekerheid, anti-besoedelende stowwe en ‘n skoner omgewing voorstaan. Insekboerdery en insekverwante produkte spreek baie van hierdie kwessies aan, en behoort dus deel van ons “nuwe normaal” te raak. So reken dr Elsje Pieterse van die Universiteit Stellenbosch se departement veekundige wetenskappe, wat reeds meer as 20 jaar oor insekboerdery navorsing doen.

“Insekboerdery is een van die vinnigste groeiende landbousektore ter wêreld. Die idee kom al hoe meer na vore om met insekte te boer as voedselbron, en om uit insekte byvoorbeeld bioplastiek of alternatiewe vir antibiotika te maak.

“Insekte kan binne dae afvalkosse soos vrugtepulp en -skille verteer wat andersins maande lank êrens op ‘n stortingsterrein sou lê en ontbind, terwyl dit in die proses skadelike metaangas vrystel. “Insekte kan gebruik word om plae en indringerplante te beheer, om bioplastiek en biodiesel te ontwikkel, en as voedsel vir diere, soos byvoorbeeld vir braaikuikens of in die akwakultuurbedryf, en vir mense. 

Om met insekte te boer as voedselbron en om uit insekte byvoorbeeld bioplastiek of alternatiewe vir antibiotika te maak, word ‘n al hoe groter opsie.

Om met insekte te boer as voedselbron en om uit insekte byvoorbeeld bioplastiek of alternatiewe vir antibiotika te maak, word ‘n al hoe groter opsie. Foto: Voorsien.

Dr Elsje Pieterse en haar span van die US se departement veekundige wetenskappe kyk na van die insekte wat onder beheerde omstandighede aangehou word.

Dr Elsje Pieterse en haar span van die US se departement veekundige wetenskappe kyk na van die insekte wat onder beheerde omstandighede aangehou word. Foto: Voorsien.

Met ‘n insekboerdery-opset van een hektaar kan mens tot 7500 keer meer proteïen produseer as op ‘n tipiese sojaplantplaas. Insekproduksie is nie waterintensief nie, en veroorsaak nie uitgestrekte landskappe waarop daar niks behalwe een soort gewas vir myle aaneen te sien is nie,” sê sy.

 Verskeie navorsingsgroepe wêreldwyd bestudeer tans die moontlikheid om die antimikrobiese peptiede wat insekte produseer as plaasvervanger vir antibiotika te gebruik om infeksies te behandel. Die kosmetiese bedryf ondersoek die waarde van die louriensuur in insekte aangesien dit soortgelyke immuunversterkende vetsure as klapperolie bevat.

 

Om insekboerdery aanvaar te kry as deel van die “nuwe normaal”, is dit uiters belangrik dat die hoogste moontlike standaarde en beste moontlike praktyke gevolg word. Baie mense sien dit nie as “normaal” nie, en daarom kan die bedryf geensins bekostig om ‘n slegte naam te kry weens substandaard produksiesiklusse of -produkte nie. ‘n Voortdurende, volhoubare voorraad aan verwante bedrywe is nodig sodat daar in die vraag na insekverwante produkte voorsien kan word. Dit moet deurlopend van die hoogste moontlike kwaliteit wees.

 “In Suid-Afrika is die meeste aktiwiteite rondom insekboerdery tans toegespits op die vervaardiging van veevoer en vir gebruik in plaagbestryding. Die verwerking van insekte om in dierevoer te gebruik (byvoorbeeld vir die grootmaak van braaikuikens of in akwakultuur) is wêreldwyd tans die mees ontwikkelde insekboerdery-segment. Na raming sal die insek-veevoerbedryf alleen teen 2030 meer as USD 2 300 miljoen werd wees, en die insekgebaseerde voedsel- en voedingsektor ongeveer 8 000 miljoen dollar sterk,” meen Pieterse.

“Die oningeligte kan maklik dink dat ‘n mens inseklarwes op sommer enige beskikbare bron van afval kan grootmaak, maar dis nie so maklik nie. Onlangs het een van my nagraadse studente, Nina Parry, ‘n studie in die Journal of Applied Entomology gepubliseer wat wys hoedat sekere diëte beter is vir sommige soorte brommers as vir ander, en hoedat dit hul groei, voedingswaarde en oorlewingskoers beïnvloed. Sommige spesies groei beter op kombuisafval wat vis of abattoirafval bevat as op varkmis, byvoorbeeld. Ander brommerspesies se oorlewingskoers is weer so laag dat dit eenvoudig nie ekonomiese sin maak om met hulle te boer nie.”

Pieterse sê dieselfde reëls geld vir insekboerdery as vir enige ander vorm van veeboerdery. Die strengste moontlike beheermaatreëls en die gebruik van laerisiko-afval, sowel as aspekte rondom naspeurbaarheid, gesondheid en veiligheid, moet altyd in plek wees wanneer die mens se voedselketting ter sprake is.

“In sulke gevalle moet insekte nie grootgemaak word op na-verbruikersafval, mediese of industriële afval of gemengde soorte waarvan die oorsprong nie seker of naspeurbaar is nie. Dieselfde geld vir insekte wat bestem is om as veevoer gebruik te word. Hoender wat insekmeel gevoer word, land immers weldra op iemand se bord. Dieselfde eise word gestel wanneer insekgebaseerde kosse vervaardig word, soos proteïenstafies of roomys (‘n produk wat ontwikkel is deur een van my PhD-studente, Leah Bessa).

“Veiligheid en kwaliteit is uiters belangrik vir die eindgebruiker. Om dit te verseker het my navorsingsgroep reeds die afgelope twee dekades die beste moontlike diëte ontwikkel om in insekboerderye te gebruik. Tans is navorsers in my groep besig om veilige bronne vir voorgebruiker voedselafval te ondersoek, soos bakkery-oorskiet, brouersgraan, brouersgis en afval wat afkomstig is van vrugte- en groentepakstore.

“Die Europese Unie verbied dit reeds dat voedsel uit die spysenieringsbedryf en diere-afval vir sulke doeleindes gebruik word. Suid-Afrikaanse wetgewing vereis tans slegs die registrasie van insekte wat as voer in diereproduksie gebruik word. Daarom is ek tans besig om met beleidmakers te praat oor die insluiting van insekte onder breër wetgewing rondom veeboerdery.

“Dieselfde streng maatreëls geld nie wanneer dit kom by die boer met insekte wat in nie-voedselverwante produkte soos bioplastiek en biomateriale gebruik gaan word. Hierdie insekte kan op feitlik enige afvalbron grootgemaak word. Dit sluit naverbruikersafval, gemengde afval, gemufde voer of afval waarvan die oorsprong nie bekend is nie in. In sulke gevalle moet mens egter steeds uiters versigtig wees dat die insekte of hul neweprodukte enigsins in kosse wat vir mense bedoel is, beland nie of deel raak van hul voedselketting nie. Dit is uiters belangrik sodat moontlike besmetting van voedsel met mikrotoksiene, swaar metale en selfs patogene voorkom kan word.

“Insekte se waarde lê in die som van hul dele. Uit hul proteïengedeelte kan bio-afbreekbare plastiek en -verpakking gemaak word. Hul vet kan omgesit word in biodiesel, en die chitien kan gebruik word in biofilters om swaarmetale uit vuil waterbronne te haal,” meen sy.

Om die onderskeie dele ten beste te kan benut, het ‘n voormalige student, dr Michael Woods, ‘n bestaande ensiemgebaseerde hidrolise-proses aangepas om venstervlieglarwes (Hermetia illucens) in proteïene, vet en chitien op te breek. Hy het onlangs sy doktorsgraad hieroor ontvang, en sy bevindinge in vaktydskrifte soos die Journal of the Science of Food and Agriculture en die Journal of Insects as Feed and Food gepubliseer. Sy metode is veral aantreklik omdat dit ‘n “sagter” proses is as bestaande metodes wat onder meer chemikalieë insluit. Dit is ook relatief maklik om die reaksie te beheer en die vorming van onaangename en giftige neweprodukte te voorkom.

“Ons beoog om die proteïengedeelte wat hierdie proses oplewer as voedingsaanvullings vir mense en in spesiale veevoer, soos hipoallergeniese troeteldierkos of in akwakultuurdiëte, te gebruik. Die farmaseutiese bedryf kan die chitien gebruik, en die skoonheidsbedryf die vette in voedingsaanvullings of vir die ontwikkeling van akneeverwante behandelings.

“Hierdie navorsing aan die Universiteit van Stellenbosch het gelei tot die stigting van die onderneming Susento (“sustainability through entomology”). Navorsers wat daarby betrokke is, werk aan tegnieke om produksiedoeltreffendheid te verhoog, om jong larwes en eiers veilig regoor die wêreld te kan verskeep en om toepaslike verbruikersprodukte te ontwikkel. ”