– Danie Keet. Bo: Alto.  Foto: Voorsien.

Te midde van reuse druk op die wynbedryf het twee Stellenbosse wynplase onlangs van hande verwissel.

Alto is een van die bekendste wynplase in die Stellenbosch-wynroete en het reeds in 1693 sy eerste titelakte gekry. Sedert 1919 is dit egter ‘n toonaangewende wynplaas en het veral onder Piet du Toit en sy seun, die WP- en Springbok-rugbyspeler, Hempies, ’n toonangewende naam in die wêreld van wyn geword.

Alto is nou deur Distell aan Ernie Els-wyne verkoop, ‘n transaksie wat tans gefinaliseer word.

Die Plaisir de Merle plaas. Foto: Voorsien.

Die Plaisir de Merle plaas. Foto: Voorsien.

Volgens Dennis Matsane, woordvoerder van Distell, gaan Distell voort met die verkoop van sommige van sy bates om sy mag in die hoofstroom- en toeganklike premium wynsegmente uit te bou.

“Die maatskappy sal waarde ontsluit van sommige bates op die balansstaat met Alto en ook Plasir de Merle wat nou verkoop gaan word.”

Plaisir de Merle is ook een van Stellenbosch se oudste wynplase en geleë in Simondium, waar Jacob Marais die huidige herehuis reeds in 1764 gebou het. Charles Marais, Jacob se oupa, was een van slegs ‘n handjievol Franse wat ervaring met wynmaak gehad het toe hulle in die Kaap aangekom het. Hy het die plaas na hul tuisdorp in Frankryk, Le Plessis Marly in die Ile de France-streek, vernoem.

“Ons hoop om met die bekendmaking van ons finansiële state vir die jaar 2020 in Augustus verdere aankondigings te kan maak. Die verkope is ook onderhewig aan sekere voorwaardes en vertroulikheid tussen die partye,” het Matsane gesê.

Matsane het gesê die welstand van hul personeel en sake-kontinuïteit is van groot belang. Daarmee saam gaan die belangrikheid van ‘n balans tussen die verkoop van produkte vir uitvoerdoeleindes, wat in die geval van albei plase en die groter besigheid, ‘n prioriteit bly.

Logan van Driel, verkoops- en bemarkingsbestuurder van Ernie Els-wyne, het die transaksie bevestig.

“LVS-Capital, wat die beherende aandeel in Ernie Els-wyne het, was suksesvol in sy bod om Alto van Distell te koop. Die bod is pas bekend gemaak, maar die transaksie moet nog gefinaliseer word omdat bepaalde prosesse nou gevolg moet word,” het hy gesê.