– Pietman Retief. Bo: Die Aan de Gragt-gebou en die Pieke.  Foto: Francois Lombaard.

Die huidige inperking, so ongerieflik soos wat dit is, het verskeie voordele ook uitgelig. Die beslissing dat ons van 06:00 tot 09:00 kon stap, het heelwat mense gemotiveer om die berg en rivier in te vaar en om van voor af Stellenbosch se natuur te kon waardeer.

Oor die natuurskoon van Stellenbosch is daar mos nie twyfel nie. Met sy fynbos en sy proteas, met oliene en hardepeer en wilde perske en rooi els in die rivierloop, met Stellenboschberg en Botmaskop en Simonsberg wat oor ons troon, kan daar nie vir beter gevra word nie.

Stel jou dus voor hoe beïndruk Simon van der Stel moes wees die oggend van 8 November 1679 toe hy wakker word op “een klein eilantje rontsom met versch water omstroom” en hoe gemotiveerd hy was om meer landbougrond vir die VOC te ontwikkel.

Hy kon besluite neem, vertel die geskiedenis vir ons, en die besluit om in hierdie “vlacke valeij” grond toe te ken was dus maklik. Hy het ook dadelik daarmee begin, en binne ‘n paar jaar was name soos Welgevallen, Coetzenburg, Blaauwklippen, Voorgelegen, Schoongezicht, Libertas en ander versamel rondom die eiland.

Om ‘n naam te gee vir die rivier was maklik, want dit was die eerste rivier wat ene Willem Muller teëgekom het toe hy in die 1650’s deur Jan van Riebeeck afgevaardig is om die hinterland van die Kaap te ondersoek. En omdat die eilandjie boomryk was, was die naam vir die area ook maklik – Van der Stel se Bosch!

Wat moeiliker sou wees was die onderhandelinge met die plaaslike inheemse bevolking!

Die rivier het ‘n noordelike vloei van sowat 1000 m gehad, van min of meer die Coetzenburg-bruggie tot onderkant Piet Retiefstraat, en het hulle beskerming gegee teen wilde diere, wat volop was, en met ‘n vloei wat perd- en osgedrewe voertuie maklik deurgelaat het. Met die groot vloed van 1768 is die bruggie en amper ook die landdros weggespoel en is die noordelike vloei gestop.

Sommige klippe wat in die rivier gepak is, is steeds in plek.

Om die uitbreiding van die VOC se aktiwiteite ordelik te laat verloop, moes ‘n “gerechthuis” gebou word, met ‘n inwonende landdros wat beheer kon uitoefen. En so het landdros Mulder hier geland en omgesien na die bouwerk van die eerste gebou in Stellenbosch, ‘n Drostdy.

Die eerste gebou was ‘n dubbelverdieping gebou wat gou vervalle geraak het, want dit moes in 1707 herbou word. Die tweede was ‘n enkelverdieping, en in 1710 was die bouwerk klaar. Maar toe stuur landdros De Meurs ‘n slaaf om ‘n kooltjie te gaan haal om sy pyp op te steek, en die suidooster sit dit op die grasdak neer! Sowat 12 van die 14 geboue in die dorp is in die brand vernietig. Die gebou is vier keer herbou, maar gedeeltes van die geboue is ingesluk in die huidige Kweekskool soos dit vandag daar uitsien.

Gelukkig weet ons hoe die ou Drostdy gelyk het teen die middel van die 1800’s toe ernstige besluite deur die dorpsvaders geneem is wat gelei het tot die stigting van die Kweekskool. Ene mev Camijn, wat gebly het waar die De Wetsentrum later ontwikkel het, het twee collages van die Drostdy in 1835 gemaak, en dit is te sien in die Stellenbosch-museum. Die gebou was so indrukwekkend dat Lady Anne Barnard, wat by geleentheid daar oorgebly het, verwys het na die Drostdy se “distinghuised appearance”.

Sommige kommentators beweer dat die eerste geboude woonhuis gestaan het waar die stadsaal vandag staan. Sybrand Mankadan was die eerste sieketrooster van Stellenbosch wat moes omsien na die geestelike belange van die inwoners, en sy huis moes daar staan sodat hy die plaashuis van Jan Botma kon sien wat op die suidelike oewer van die rivier gebou was.

Mankadan het egter ‘n ernstige probleem gehad, wat deur Adam Tas beskryf is as “een lange treyn van dronkenschappe”. As gevolg hiervan is hy teruggeroep Holland toe.

In 1658 het goewerneur Van der Stel met sy VOC-baas, kommisaris Van Rheede tot Drakenstein, die ontwikkelende dorpie besoek, en was teleurgestel met die stadige vordering. (Teen 1683 moes die eerste skooltjie vir kinders al gestaan het, maar die ligging is onseker.)

Die kommisaris en Van der Stel het die dorpie uitgelê met die volgende vier punte: Die Geregshuis op die eilandjie, die Godshuis met die kerkhof rondom waar De Ouwe Werf tans staan, erwe vir dorpsmense tussen die kerkie en die eiland, en die pad wat parallel met die rivier Kaaptoe sou loop, dus De Wagenweg naar de Kaap.

Van der Stel het skynbaar self die strate uitgewys, met De Wagenweg as die hoofstraat, De Kleine Kerkstraat wat vandag Kerksraat is, De Groote Kerkstraat wat vandag Ryneveldstraat is, Pleinstraat en Drostdystraat wat na die Drostdy loop. So ken ons dit vandag nog.

De Wagenweg het die Steenebrug gekruis oor die rivier, in teenstelling met De Plankenbrug wat aan die noorde kant van die dorpie die rivier gekruis het. Die Steenebrug was naby Hagelberg, wat ons vandag ken as Papegaaiberg.

Van belang is dat Van der Stel dadelik met sy eikeboom aanplantings begin het. Op ‘n stadium het hy die landdros opdrag gegee om ossewaens te stuur om 12 000 boompies by die kasteel te kom optel, waarvan 8 000 langs die strate van Stellenbosch geplant moet word, en 4 000 in Drakenstein.

Amptenare is in 1686 aangestel om die dorp te bestuur.