– Cornelia de Kock. Bo: Die Moederkerk. Foto: Francois Lombard.

’n Gebore Stellenbosser wat na Israel geëmigreer het, het op ’n besoek aan Stellenbosch, ten tye van ’n Paul Roos-reünie, gesê: “Israel is die ‘Beloofde land’, maar Stellenbosch is die paradys.”

 Oor die jare heen is daar net één slang in hierdie paradys: die verkeers- en parkeerprobleem. Die aantal briewe en menings wat oor die jare heen oor hierdie onderwerp in plaasliek media verskyn het, is bykans ontelbaar. Stellenbossers se irritasie met die verkeer en alles wat daarmee gepaard gaan, kom van baie ver af.

In die 1930’s en vroeë 1940’s was hier ’n berugte verkeersbeampte baie bedrywig in die dorp. Die spietkop meneer MS Weyers, het die bynaam Five Bob gehad. Sy boetes was altyd net vyf sjielings. Daar word twee verhale oor hom vertel. Hy het die grapmaker, Koos Meyer, oor sy flou fietsliggie aangespreek. Hy wou weet wat Koos nou sou doen as daar ‘n voertuig van voor af kom. Koos het vining geantwoord:”Dan ‘dim’ ek my liggie.”

’n Ander keer het ’n paar studente op ’n straathoek gestaan en gesels. Die oomblik toe hulle Five Bob gewaar het, het een op sy fiets gespring en weggejaag. Five Bob het hom agterna gesit. Toe hulle uitasem tot stilstand gekom het, wou die geregsdienaar weet waarom die jonge man dan weggejaag het, aangesien hy tog ’n fietslisensieplaatjie gehad het. Die agbare student wou natuurlik net sy vriende wie se fietse ongelisensieerd was, red.

In die 60’s en 70’s van die vorige eeu het Stellenbosch sy eerste vroulike verkeerskonstabel gekry. Bessie/Bibi Liebenberg het glo ook flink boetes uitgeskryf. Sy is spoedig Boetebessie gedoop. Hierdie woord wat op Stellenbosch ontstaan het, het spoedig landsbesit geword en is verewig in ’n Leon Schuster-fliek.

Volgens ’n ongetoetste bron het die woord, fliek, ook sy ontstaan onder Stellenbosch-studente gehad.

In die onlangse verlede het verkeerskopsere oor mini-sirkels gegaan. Op ’n dag is verkeerstekens by al die mini-sirkels aangebring: “First at line. Proceed first.”

Wat ’n Babelse verwarring het dit nie tot gevolg gehad nie! Die motorbestuurders was gewoond om toe te gee aan regs en moes toe aanpas by die nuwe reëls. Jeremiades is oral gehoor.

Nog ’n klip in Stellenbossers se skoen, of ’n doring in die vlees, is die nuwer parkeerstelsel in die strate, agter die stadsaal en by groot kettingwinkels.

En daar verander die prentjie toe gedurende die eerste drie weke van inperking: Stellenbosch hiberneer. Daar is geen motors in Pleinstraat, Birdstraat of watter straat ook al nie. Daar is parkeerplek te kus en te keer. Die oudste dorp in die land word eensklaps ’n ware Eden.

Nogtans begeer ons so ’n abnormale dorp nie. Bring maar die parkeerbeamptes, die studentemotors en die miernes van bedrywighede so spoedig moontlik terug.

StellenboschNuus.com weerspieël ‘n verskeidenheid opinies. Die menings in die stuk is die van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig die mening van StellenboschNuus.com nie.