– Johan du Preez. Bo: Jan Olivier met sy Stellenbosse judokas. Foto: Johan du Preez.

“Ek bied judo aan as ‘n sport. Judo kan egter ook handig wees in selfverdediging.”

Reeds met die intrapslag is dit duidelik dat die 75-jarige Jan Olivier van Stellenbosch (of Oom Jan, soos hy alom bekend is in judokringe en vir seker vir hom ‘n eretitel) nie maar net nog ‘n judoafrigter is nie. Met ‘n 7de Dan-gradering – een van Suid-Afrika se hoogs gekwalifiseerde afrigters – vier hy vanjaar ‘n halfeeu as voltydse afrigter in hierdie sportsoort.

Hy is inderdaad enig in sy soort wat sy filosofie oor en benadering tot judo betref, en daar bestaan ‘n lang lys van judoprestasies en organisatoriese rolle wat hy vervul het.

 Wat hom nog verder laat uitstaan en bemind maak, is sy omgee en liefde vir mense, veral kinders.

Jan demonstreer ‘n judogreep aan een van sy studente. Foto: Johan du Preez.

Jan demonstreer ‘n judogreep aan een van sy studente. Foto: Johan du Preez.

Jan Olivier hou ‘n ogie oor sy judostudente. Foto: Johan du Preez.

Jan Olivier hou ‘n ogie oor sy judostudente. Foto: Johan du Preez.

Hy maak in 1964 as eerstejaarstudent sy begin by die Universiteit Stellenbosch met judokennis, word later afrigter van Maties-judo en is tot in 2017 by die klub betrokke. Ná voltooiing van sy studies in 1970 begin hy met voltydse judoafrigting. Soos ‘n mens kan verwag, het die beskeie, stil en innemende Oom Jan nie met ‘n ophef begin nie. Nee, hy het met ‘n ou Volkswagen-kombi, gelaai met judomatte, smiddae in Stellenbosch van skool tot skool gery om judo af te rig… maar met ‘n verskil.

Die grondwaarhede van judo het hom die geleentheid gegee om gesonde beginsels by kinders te vestig en lewensvaardighede oor te dra. Hierdie beginsels sluit in respek, omgee vir en vertroue in mekaar, selfvertoue en spanwerk, om maar net enkeles te noem. Verder kon hy deur middel van judo die kinders se konsentrasie- en uithouvermoë verbeter en hulle leer hoe om met die minste inspanning die beste resultate te bereik.

“Judo bied ‘n ‘sagte’ manier om waardevolle lewensbeginsels te vestig en ‘n positiewe energie te skep,” sê Oom Jan. “Judo stel almal gelyk, dit laat deelnemers toe om hulself te leer ken, dit skep innerlike waardigheid veral wanneer kinders dalk onseker oor hulself is, en dit bring jou vinnig terug aarde toe indien jy te hoog wil vlieg.”

Oom Jan se omgee vir kinders het daartoe gelei dat hy vir 15 jaar lank tot onlangs een maal per week vanaf Stellenbosch na Rondebosch gery het om judoklasse by die Vera Skool vir Kinders met Outisme aan te bied. Volgens hom het dié skool se kinders nie die vermoë om judo in die ware sin van die woord te beoefen nie, maar kon hy die beginsels van judo toepas om vaardighede oor te dra en hulle te laat deel in aktiwiteite wat hulle binne hul vermoë terdeë kon geniet.

“My ervaring by die Vera Skool was sekerlik die hoogtepunt van my loopbaan as judoafrigter, en my respek vir diegene wat met hierdie kinders werk is mateloos.”

Oom Jan het in judo in Suid-Afrika en internasionaal diep spore getrap. Hy was onder meer die stigterslid van die Boland Judo-unie in 1972, waar hy geïntegreerde judodeelname bevorder het gedurende ‘n era van afsonderlike deelname aan sport. Hy het in verskeie saakmakende judobeheerliggame as voorsitter of president gedien. Hy was, onder meer, die komiteevoorsitter wat die samesmelting van onafhanklike judoliggame gekoördineer het om Judo Suid-Afrika in 1993 te stig, en was die eerste president van hierdie organisasie.

Hy verwerf menige toekennings, onder meer die Wes-Kaapse regering se sportlegende-toekenning in 2014 en ‘n spesiale toekenning van die Internasionale Judofederasie in 2008 vir sy bydrae tot die ontwikkeling van wêreldjudo. Dit bring hom in die geselskap van, onder meer, Albert II, die Prins van Monaco en Vladimir Putin, die president van Rusland, wat ook soortgelyke erkenning in die verlede gekry het.

As president van Judo Suid-Afrika, het Oom Jan ‘n rol gespeel in die toelating van die eerste Suid-Afrikaner in judo, Duncan McKinnon, tot die 1996-Olimpiese Spele in Barcelona. Onder sy afrigting word Tania D’Aguiar in 2000 in Sydney, Australië die eerste Suid-Afrikaanse vrouejudoka om aan die Olimpiese Spele deel te neem. Vier jaar later kwalifiseer nog een van sy judokas, Henriëtte Moller, vir toelating tot die Olimpiese Spele in Athene. Tot op hede is hierdie twee judokas die enigste Suid-Afrikaanse vroue wat in judo vir die Olimpiese Spele gekwalifiseer het, en tot die spele toegelaat is.

Dit is nie moontlik om te bereken hoeveel mense, en veral kinders, Oom Jan oor die afgelope 50 jaar in judo afgerig het nie. ’n Duisend? Dalk nader aan tienduisend? Dalk meer! Dit is ook onmoontlik om te weet wat van elkeen daarná geword het en hoedat Oom Jan se insette in hul kinder- en jongmensjare hul lewens beïnvloed het. Wat ons wel weet, is dat ‘n menigte bekendes en onbekendes wêreldwyd met wie Oom Jan ‘n pad geloop het, steeds kontak met hom behou en dikwels impromptu by hom aandoen wanneer hulle in Stellenbosch is.

Jan Olivier was, en is steeds, sy tyd vér vooruit. As toegewyde omgeemens met ‘n rebelse streep, het hierdie hoogs gekwalifiseerde judoafrigter – wat as sensei, oftewel leermeester of afrigter, aangespreek behoort te word – verkies om maar net Oom Jan te wees. En in hierdie byna vaderlike rol het hy saam met menige kind en jongmens die reis op pad na volwassenheid op sy unieke manier gestap.

Maar die reis is nog nie voltooi nie. “Jongmense hou my jonk,” sê Oom Jan. “Ek sal aanhou judo afrig tot die dag wanneer my studente vir my ‘n kierie as geskenk gee. Dan sal ek weet dit is tyd om op te hou.” Maar tot dan sal hy steeds by die Van Der Stel-sportklub op Stellenbosch op die mat besig wees om dit te doen waaraan hy sy lewe toewy – die toerus van jongmense met lewensvaardighede deur die beoefening van judo.

As judoafrigter is daar baie dinge wat Oom Jan anders as ander afrigters maak. Maar sy liefde vir mense, en veral vir kinders, is dít wat hom spesiaal maak.