– Wallace du Plessis.

By ‘n ongelukstoneel is daar altyd sekere baie belangrike dinge wat jy in ag moet neem en uitvoer. Daar word normaalweg van die 9 belangrike stappe gepraat.

 Die normale stappe bly van krag gedurende die Covid-19 inperkingstydperk, maar jy moet nou nóg meer aandag gee aan jou eie veiligheid gedurende hierdie tydperk. 

As jy eerste by ‘n ongelukstoneel opdaag, of dalk self ‘n slagoffer is, is dit van kardinale belang dat jy deurgaans persoonlike beskermingstoerusting (PPE) moet gebruik. Jou eie veiligheid asook die beveiliging van die toneel, bly die eerste en baie belangrike stap.

Dit is ‘n goeie idee om Latex-handskoene, ‘n spaar mondmasker of twee, ‘n plastiese blaaspypie (vir mond-tot-mond asemhaling) en ‘n bottel handreiniger in jou motor aan te hou.
Jy moet onder geen omstandighede jouself (of andere) in gevaar stel nie. ‘n Noodhulptassie, noodkombers (emergency blanket) en brandblusser is absolute noodsaaklike items om te alle tye in jou motor te hê.

Die tweede stap behels om noodhulppersoneel se hulp in te roep en uit te vind wie op, of naby, die toneel kan help. Hulp kan egter slegs verleen word indien helpers die nodige beskermende toerusting byderhand het. Stel vas wat die omvang van die beserings is. Verskaf aan die nooddienste soveel as moontlik akkurate en deeglike inligting.  Adres en aanduidings van die ligging van die ongelukstoneel, hoeveel slagoffers, pasiënte, sterftes, asook hoeveel voertuie/motors betrokke was. Daarna moet jy die ongelukstoneel merk (stap 3) deur waarskuwingsdriehoeke strategies te plaas sodat aankomende motors genoeg tyd het om of te stop of veilig verby te ry.

Tydens stap 4 moet jy seker maak dat jou eie voertuig op ‘n veilige plek parkeer is, en nie in die pad van aankomende verkeer of noodvoertuie nie. Indien daar ‘n brandgevaar bestaan, moet dit  oorweeg word om pasiënte so vinnig as moontlik weg van die gevaarpunt te beweeg. Maak die pasiënte so veilig en gemaklik as wat moontlik is.

Nou is dit tyd vir die toepassing van noodhulp, waarvan bloeding altyd die hoogste plek op die ranglys het. Probeer om nie die pasiënt onnodig en sonder die nodige ondersteuning te beweeg  indien jy dink dat daar dalk ‘n nek- of rugbesering mag wees nie. Kommunikeer sover as moontlik met die pasiënte deur hulle te vra om aan jou te verduidelik waar hulle baie seer of erge pyn het, asook om hul toestemming te verkry voordat jy iets doen. Die wat self in staat is daartoe om iets te kan doen, moet gewys word presies hoe en wat van hulle verwag word. Waak te alle tye daarteen om nie deur impulsiewe en dwase optrede van jou kant af dinge te vererger nie. Onthou dat indien ‘n pasiënt  baie stil lê, die persoon heel waarskynlik in ‘n veel erger toestand mag verkeer as dié wat nog kan uitroep.

Die sesde stap is om seker te maak dat die pasiënte se lugwëe oop is. Verwyder dadelik juweliersware of kledingstukke en gordels wat te styf sit om die bors, nek of buik. Daarna behandel jy mense met breuke deur die ledemaat te ondersteun of vas te draai om verdere beweging en beserings  te voorkom. Behandel ook vir skok deur kalmerend met hulle te praat en hulle gereeld die versekering te gee dat hulle nie alleen is nie en dat hulp op pad is (indien ‘n ambulans ontbied is). Maak beseerdes so gemaklik as wat moontlik is. Dit help om mense se bene ‘n bietjie te lig indien hulle aan skok ly (simptome sluit in bewerigheid, naarheid, lighoofdigheid, borskaspyn, bleekheid met ‘n klam vel).

In en om ‘n ongelukstoneel is daar baie items wat jy kan gebruik om iemand te help, van gereedskap vir spalke tot plastieksakke om bloeding te stop of onder die kop of ledemate te plaas vir elevasie.

Onthou om jou sosiale afstand te hou waar moontlik en slegs te doen wat die beste vir almal, insluitend jouself, is. Jy moet eerstens toesien dat jyself veilig is, daana kan jy andere help.