– Hilton Biscombe.

Jare gelede moes ek met so ‘n kuglaggie, ‘n begripstoets met my standard 5-klas doen dat die vernaamste vorm van instruksie eendag ‘n komper gaan wees. Die lag het vlak om my mondhoeke gespeel, met ‘n gedagtegang wat sê dat dit never sal gebeur nie.

Vandag sluk ek hierdie oortuiging! Dit lê maar net bloot dat ons in ‘n veranderde wêreld leef…

Gesien in die lig hoe die staat in die verlede opvoeding soos ‘n warm patat benader het en opvoedkundige beginsels nie nagekom is nie, moet ons nie verbaas wees oor die wrange vrugte wat ons nou pluk nie.

Een van ons groot probleme is dat die regering destyds, van some place else ‘n opvoedingstelsel ingevoer het, wat duidelik nie hier werk nie. Klasgetalle en die besnoeiing van onderwysers kan nooit so ‘n stelsel regverdig nie.

Nou die dag moes ek wegdoen met ‘n kasvol verouderde boeke wat deur oppie bandwagon-uitgewers gesmous is asof hulle Moses self is, om ons na die beloofde land te neem met die regering vooraan om die Rooi See van kennis te probeer open. Sedertdien versuip ons almal met hierdie onsigbare tropmentaliteit wat ons lewe valslik rig.

Ons kan soos mal bedonnerde vraagtekens innie bos hardloop of ons kan met duidelike voorstelle kom, wat seker maar net deur die opvoeders geneem kan word met duidelike grondbeginsels van die ideaal van onderwys om elke leerder toe te rus met kennis om met die 21ste eeu te deal, wat natuurlik vra vir nuwe benaderings. Die ou model werk nie.

So pynlik soos wat dit is, sal ons onpopulêre besluite moet neem. ‘n Kopskuif is nodig. Nou vra dit vir innovasie wat duidelik nie die regering se sterk punt is nie. Meer as veertig kinders in ‘n klas, is nie ‘n antwoord nie. Nog minder maskers vir Afrika wat deur almal gedra word asof dit fêshin is. Dit wil voorkom of ons byvoorbeeld nie weet dat ons dit moet uitwas na ‘n dag se gebruik nie. My hart gaan uit na die opvoeders wat weer eens met beperkte bronne oor die weg moet kom.

Terloops, nou met fase 3 word maskers ook oorboord gegooi, asof ons glo dat die krisis verby is. Hierdie oortuiging word verder versterk as jy die lang rye voor ons drankwinkels sien staan en jy nie ‘n kat se kans het om jou botteltjie sjerrie te kry nie.

Hierdie maskers kan vergelyk word met die uitdeel van kondome destyds met die vigs-virus, waaroor nog nie ‘n oplossing gevind is nie, wat die laaities met water gevul het en mekaar oor die koppe gemoer het, met kinders uit verskillende agtergronde, wat nie van beter weet nie.

Kennis is mag en ‘n groot veldtog sal eers van stapel gestuur moet word om almal eers op te voed oor hierdie gevaarlike kiem wat duidelik sy lêplek in skares kry en ons skole is die beste plek om dit te doen. Die ou wêreld is besig om te sterf en die nuwe is besig om gebore te word. Op alle gebiede is daar ‘n verskuiwing nodig waar die etiese verhoudings met ons wêreld ‘n vernuwende fokus moet kry.

Om dit nader na die huis te bring hoef ons net die lyding en pyn van ons medereisigers waar te neem. Voorbeelde is legio en die intensie is nie om u skuldig te laat voel nie. Daarvoor het jy skiet, skop en dônner predikers nodig wat gereeld hul stories op ons treine, wat nou ook nie meer bestaan nie, kom smous het.

Tans is daar baie sterftes en ons is met reg bekommerd oor hoe die ou wêreld nie meer funksioneer soos waaraan ons gewoond is nie. Ons kan op ‘n hopie gaan sit en onsself bejammer, maar ons hoef nie ver te gaan soek om te sien hoe wonderbaarlik ons geskape is nie. Ons groot probleem egter is dat ons alles meet aan die ekonomie wat dan kwansuis ons ondergang gaan beteken as ons die mening lug dat daar nie genoeg is nie.

Vir my is daar altyd genoeg. Nie omdat ek geld in die bank het nie, ( oe, help vir Henna!) of grote eiendom (ons weet mos wat aangegaan het met die groepsgebiede) en enige tyd myself op Ali Baba kan beroep om sy cave met diamante en goud en juwele oop te sluit nie. Onthou u nog vir Koning Midas? Die meeste goeie dinge is gratis en dit is wat ons in die nuwe wêreld moet begin sien.

Etiese omgang met ons bronne en aanwend daarvan moet ‘n prioriteit wees. Met hierdie Westerse inslag het ons geleer om afhanklik van die staat te wees. Tè afhanklik, en daarom voel baie van ons so hulpeloos. Die sielkundiges praat van learned helplessness, ja, dis aangeleer as die bakhand gedurigdeur vra en die oophand van die bereidwilliges nou dit verder aanhelp…

O ja, daar’s niks mee verkeerd as u u blessings aan die armes uitdeel nie, wees net oordeelkundig dat dit nie gebruik word vir political scorepoints nie….

Die diefstal van belangrike bronne en die uitbuiting van gesagsposisies soos deur Zuma en sy trawante, het ook daartoe bygedra dat ons nou ietwat verdag is oor alles wat die staat betref, want met hul valse mag kon hulle daarin slaag om alles lam te lê en ons lewensuitkyk ‘n knou te gee.

Natuurlik is daar diegene wat nou die land in die regte rigting kan stuur, maar dit gaan harde werk kos wat vra vir nuwe regeringsmodelle wat nie aan een spesifieke politieke party behoort nie.

Vergun my dus een standpunt: Kinders moet ‘n volle deelname aan die demokrasie kry, en daarvoor is die skool en klaskamer die aangewese plek as jy as onderwyser jou sout werd is. Ja, maar wat nou gemaak met die hierdie Covid-kiem wat alles wil vernietig, ook opvoeding wat die kern van enige samelewing vorm? Ons regering het nie eintlik ‘n plan met opvoeding nie, en as dit enige ‘n troos is, so ook ons groot moonthede oorsee wat nie hondhaar kan afmaak met education en hierdie virus nie! We need a radical shift!

Met vergunning dus, sal ek volgende keer probeer om iets oor innoverende opvoeding in die toekoms te skryf, maar nouja, djoek dit maar hieroor op verkeerde plekke en ek sal baie diep moet grawe en God vra om insig met wysheid te gee as ek weerens die staf opneem na ‘n beloofde land (wat eintlik maar in ons kop is) i.p.v. ‘n skip na Engeland (soos destyds, toe sommiges gevlug het van hierdie ondier, apartheid) wat ons net verder neem van ons eie probleme, maar tog maar altyd by ons bly, as ons nie daai skuif maak om uiteindelik checkmate soos ‘n befaamde skaakspeler uit te roep nie!