– Danie Keet. Andrew Bird op die sirkelroete deur Stellenbosch. Foto: Francois Lombard.

Vir ‘n kranige Stellenbosse atleet was die kansellasie  van die Comrades-marathon nie ‘n rede om nie die afstand van 90 km af te hardloop nie. Hy het sy eie “Comrades” deur die strate van Stellenbosch gedoen.

Die jaarlikse Comrades-marathon sou verlede Sondag, 14 Junie, plaasgevind het en talle Stellenbossers was reg om weer die optrek na Durban aan te pak – om nie te praat van die uitmergelende 90 km tussen Durban en Pietermaritzburg nie.

Soos soveel ander groot sportgeleenthede is die Comrades ook weens die Covid-pandemie afgelas en sal die 95ste wedloop, ’n “af-wedloop” wat in Pietermaritzburg begin en in Durban eindig, nou eers volgende jaar aangepak word.

Andrew Bird en sy kinders Jemma en James en ondersteuners van STS. Foto: Francois Lombard.

Andrew Bird en sy kinders Jemma en James en ondersteuners van STS. Foto: Francois Lombard.

Andrew vier die voltooiing van sy 90 km deur die strate van Stellenbosch. Foto: Francois Lombard.

Andrew vier die voltooiing van sy 90 km deur die strate van Stellenbosch. Foto: Francois Lombard.

Andrew Bird (42), ’n kranige Stellenbosse langafstandatleet en lid van die Stellenbosch Triathlon Squad (STS) wat onder die waaksame oog van Vicky van der Merwe oefen, het besluit om sy eie Comrades op Stellenbosch op ‘n sirkelroete van 10 km te hardloop. Hy het ook sodoende geld vir Helpende Hand Suid-Afrika ingesamel.

Bird het die wedloop voltooi en sover R31 000 vir dié hulporganisasie ingesamel. Hy het net meer as 9 uur aan die 90 km gehardloop.

Alwyn Uys, ‘n para-atleet wat deel van STS is, het ook sy eie “Comrades” gedoen deur van Durbanville tot in Stellenbosch en terug te hardloop.

Bird, ‘n geoktrooieerde rekenmeester van beroep, vertel dat hy al in Desember vir die Comrades begin oefen het, maar het met sy lang hardloopsessies opgehou toe die Two Oceans in Maart gekanselleer is. Hy het slegs binnenshuis fietsgery tydens vlak 5 van die inperking en het weer begin hardloop tydens vlak 4.

“Ek hy het al 3 Comrades-marathonne gedoen met ‘n beste tyd van 9:06 in die ‘af’-wedloop. Ek is mal oor oefen en is ook ‘n kranige driekampatleet. Ek het al die vol Ysterman-kompetisie voltooi, maar hardloop is my gunsteling dissipline, veral wanneer dit in groepsverband by die STS-sessies is.”

Hy oefen elke dag van die week hardloop, fietsry en swem, en is daarom deel van die driekamp-span van STS.

Bird oefen dus saam met die klublede, sowel as op sy eie. Hy het sy eie “Comrades”ook glad nie op sy eie gehardloop nie. Daar was regdeur die dag ‘n paar van sy STS- spanmaats en vriende wat saam met hom gehardloop het vir ondersteuning. Dit was baie spesiaal. Sy bystandspan, sy vrou en kinders, Jemma en James, het vir hom by De Kompanje in Dorpstraat gewag met sy benodighede en om hom te ondersteun. Dit was sy enigste waterpunt op sy roete en hy het ongeveer elke uur daar verbygehardloop en daar kos en water gekry.

Bird vertel dat hy so hard vir die ware Comrades voorberei het, dat hy nie wou opgee nie. “Dit was ook ’n lekker doelwit om my gemotiveerd te hou tydens die inperkingstyd,” het hy gesê.

Volgens Van der Merwe bied STS gewoonlik meer as 20 groepsessies ‘n week, wat bestaan uit hardloop, swem, fietsry en gymnasium werk, vir mense van alle fiksheidsvlakke en ouderdomme aan. Hulle het ook n groep in Somerset-Wes.
“Tydens die inperkingstyd bied ons egter aanlyn-programme aan sodat atlete op hul eie kan oefen. Ons doen ook uitdagings om atlete gemotiveerd te hou.”