– US se afdeling vir korporatiewe kommunikasie.

Watter sielkundige sterkpunte wend adolessente, wat in moeilike omstandighede in lae-inkomste-gemeenskappe woon, aan om hulle te help om stres, vrees en angs te hanteer?

Dít is een van die vrae wat dr Carmen Späth met haar doktorale studie in sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) wou beantwoord.

Späth, tans ʼn nadoktorale navorsingsgenoot in sosiale en gedragswetenskappe aan die Universiteit van Kaapstad, sê talle jongmense wat in hierdie gemeenskappe woon, ervaar dikwels verskeie stresfaktore, soos geweld, wat ʼn impak om hul geestesgesondheid het.

Dr Carmen Späth.

Dr Carmen Späth.

Sy verwys na vorige studies wat getoon het dat mense wat in sosio-ekonomies benadeelde gemeenskappe woon geneig is tot simptome van depressie en angs.

“Dit is daarom belangrik om te verstaan hoe sielkundige sterkpunte die impak van sielkundige stres (m.a.w. depressiewe simptome of angssimptome) op die algehele geestesgesondheid van adolessente versag, aangesien dit daardie sielkundige sterkpunte aan die lig kan bring wat deurslaggewend kan wees vir intervensies gemik op die bevordering van geestesgesondheid en die voorkoming van geestesiektes onder kwesbare adolessente.”

“Sielkundige sterkpunte is daardie faktore (sowel binne as buite onsself) wat ons kan beskerm teen emosionele probleme en ons geestesgesondheid kan bevorder.”

Späth het as deel van haar studie sewe skole in lae-inkomste-gemeenskappe in die Kaapse metropool geïdentifiseer om te bepaal hoe sielkundige sterkpunte adolessente help om sielkundige stres te hanteer en ook om te bepaal watter impak hierdie sterkpunte op hul algehele geestesgesondheid het. Sy het ʼn aantal adolessente gevra om vraelyste te voltooi en 347 adolessente (12 tot 21 jaar oud) se antwoorde is by haar studie ingesluit. Sy het ook individuele opvolgonderhoude met 14 van hierdie adolessente gevoer. Sodoende kon sy insig in hul sielkundige stres, hanteringsvlakke en sielkundige sterkpunte, asook hul subjektiewe ervarings, verkry.

“Ek het bevind dat selfagting, waargenome sosiale ondersteuning en veerkragtigheid moontlike sielkundige sterkpunte is wat hierdie adolessente gebruik om hul daaglikse werklikhede te hanteer. Hierbenewens was sosiale steunnetwerke (ouers, broers en susters, vriende, onderwysers en bure) en aktiewe pogings om ʼn probleem op te los ook faktore wat ʼn positiewe impak op die adolessente het,” sê Späth.

“Hierdie sielkundige sterkpunte en hanteringstrategieë beskerm moontlik die geestesgesondheid van adolessente wat sielkundige stres ervaar. Ons moet dus hierdie sielkundige sterkpunte en hanteringstrategieë as noodsaaklik beskou vir intervensiestudies wat gemik is op die bevordering van geestesgesondheid onder adolessente of die voorkoming van geestesiektes onder adolessente wat simptome van sielkundige stres toon.”

Späth voeg by dat intervensies moet fokus op die ontwikkeling of versterking van selfagting, die verhoging van waargenome sosiale ondersteuning deur strategieë om sodanige ondersteuning te bevorder asook die verhoging van vlakke van veerkragtigheid.

Sy sê hoewel hulle in geweldgeteisterde gemeenskappe woon, vorm party adolessente ʼn band met spesifieke gemeenskapslede, byvoorbeeld hul bure, tot wie hulle hulle wend vir advies oor sekere sake.

“Intervensies moet daarop gefokus wees om adolessente te help om die sosiale verhoudings wat tot hul voordeel kan strek wanneer hulle in nood verkeer, te identifiseer en te versterk.”

Späth voer aan dat benewens geweld, veral bendegeweld, adolessente verhoudings met hul eweknieë as ʼn risikofaktor vir hul geestesgesondheid beskou.

“Party word gespot en geterg of fisiek deur eweknieë mishandel, wat tot vrees en angs lei. Dit blyk ook dat party adolessente ʼn vrees het dat hulle ʼn graad op skool gaan druip, omdat dit hulle sal verhoed om sukses te behaal en hul sosio-ekonomiese omstandighede te bowe te kom.”

Späth sê ʼn verdere risikofaktor vir die geestesgesondheid van adolessente wat in haar studie na vore gekom het, is dat sommige adolessente hul probleme hanteer deur nie daaraan te dink nie – ʼn faktor wat nie met die aktiewe bestuur van sielkundige stressimptome verband hou nie.            

Sy hoop dat haar navorsing ʼn bydrae sal lewer tot studies wat fokus op intervensies om geestesgesondheid te bevorder en sielkundige sterkpunte te ontwikkel.