– Martie Meiring. Bo: Elsa Joubert met Ntombizodumo Eunice Msutwana Ntsata, oftewel die regte Poppie Nongena, se kinders nadat hulle vir 28 jaar kontak verloor het. Foto: @poppiefilm op Twitter.

Elsabé Antoinette Murray Joubert ( 19/10/1922- 14/06/2020)
Nicolaas Georg Steytler (22/04/1922-27/08/1997)

Elsa Joubert, ‘n Bolander, en Klaas Steytler, ‘n Vrystater, was ‘n span. Hulle was getroud, altwee joernaliste en skrywers en altwee mense van hulle tyd.

Met haar dood op 14 Julie 2020 het Elsa 25 boektitels gelewer. Klaas is in 1997 dood met nege titels agter sy naam.

Hul style was teenoorgesteldes. Hulle was ook voortdurend bewus waarmee elkeen besig was. Hulle was mekaar se kritici en aanmoedigers.

Elsa se drif was om mense en plekke in hul verhoudings tot mekaar te stel. Klaas het in die buitewerklike belanggestel. Hy het speurverhale geskryf en ook ‘n sonderlinge boek Zap Zap; in Seepunt gaan dit pienk en plesierig. Hy het selfs geleer om hipnose toe te pas. Klaas het die outsider bewonder.

Elsa Joubert, oorlede 14 Junie 2020. Foto:@poppiefilm op Twitter.

Elsa Joubert, oorlede 14 Junie 2020. Foto:@poppiefilm op Twitter.

Elsa en Klaas kon ure lank oor karakters praat. Sy was gerig op mense, gewone mense, se verhoudings teenoor mekaar.

Albei se passie was om in Afrikaans te skryf. Geen wonder dus dat die twee getroude skrywers in daardie soekende, botsende sestigerjare en veral ook later deel was van die Afrikanerkritiek op die apartheidstelsel nie.

Saam met Jan Rabie en Margery Wallace het hulle ontmoetings gereël met ander skrywers, bruin sowel as swart. Daar was diep verhoudings tussen swart, bruin en wit intelligensia in hul onmiddellike vriendskappe.

Immers was Elsa Joubert toe al, deur haar reise deur Afrika, besonder ingelig en beïndruk deur die swart kulture in Afrika en het sy ‘n diepgaande respek vir die lewenswyse van Afrikane gehad.

In die sewentigerjare het Elsa en Klaas ‘n leidende rol gespeel in die stigting van die Afrikaanse skrywerskring. Klaas sou wel later instem om deel te wees van die Staat se sensuurraad. Gedagtig aanvanklik daaraan dat hy die stem van die kritiese Afrikaner kan wees, kon hy op die duur die oorweldigende politieke en nougesette sienings nie verduur nie, en het hy bedank.

Die twee, toe al albei joernaliste, het in 1948 saam ‘n rugsakreis deur Europa geneem. Elsa was toe al ‘n gesoute reisiger wat die vorige jaar reeds Afrika aangedurf het as reisiger omdat sy bes moontlik as Kapenaar baie min kennis van swartmense gehad het. Die boek Water en Woestyn sou hierop volg. Tydens die reis het sy ‘n verhouding met ‘n Indiër gehad, ene Mahmoud, wat baie beslis ‘n rol gespeel het in haar besondere vermoë om oor grense te verstaan en te skryf.

Na die Europese reis is Elsa en Klaas getroud en vyftien jaar in Johannesburg gevestig waar hy as joernalis gewerk het. Drie kinders is hier gebore, Elsabe, Henriette en Nico.

‘n Hegte familieband het begin en nooit opgehou deur gesprekke, ondersoeke, verstaan-mekaar, verskil-van-mekaar. Die Steytlers was in denke inderdaad liberaal, maar nogtans baie toeganklik vir baie andersdenkers in daardie soms behoudende Afrikanerkringe.

So ingestel op mekaar se werk was die Steytler-familie, dat Elsa en Nico na Klaas se dood kon saam werk om Klaas se onvoltooide manuskrip, Ons Oorlog, te versorg en vir publikasie te voltooi.

Elsa sou voor en na Klaas se dood baie toekennings ontvang. Sy het ‘n sagte, sjarmante manier van voorkoms en praat gehad.  Sy het van mooi klere gehou en graag grappies aangehoor. Veral sou sy belangstel in ander menings, ander mense. Die onsterflike joernalis in haar het haar gedurig vrae laat vra. Sy het opgewonde na stories uitgevra en gelag.

Allermins het sy die ego gehad van ‘n voortreflike skrywer en denker. Sy het daagliks geskryf. Sy was ‘n aantekeninghouer.

Dalk sal Elsa Joubert se nalatenskap miskien te veel oorskadu word deur die opsienbare roman, Die swerfjare van Poppie Nongena. Die boek is in talle tale vertaal, ‘n indrukwekkende rolprent is daarvan gemaak en met haar dood word hierdie boek veral genoem as haar nalatenskap.

Tog is die werklike nalatenskap van Joubert dié van ‘n gedugte romansier wat in ‘n breë register menslikheid raakgesien en weergee het. Missionaris (1988), op die lewe van ‘n onaantreklike, verlore boggelerug-sendeling Aart van der Lingen gegrond, is deur die destydse leidende kritikus André P Brink afgemaak. (Brink het meermale Joubert se werk as te nougeset gevind.) Dit was eers toe prof Ena Jansen die intrinsieke waarheid in Missionaris en veral die karakter van Van Lingen as besondere letterkunde raakgesien het, dat die boek wel sy regmatige plek as ‘n uitstaande Afrikaanse roman gekry het.

Plekke soos Madagaskar, Mosambiek, Angola en Indonesië het lesers van Joubert aan ‘n meesleurende Afrikaans bekendgestel. Maar dit was sekerlik Ons wag op die kaptein wat Elsa Joubert se vernuf van spanning, mensereaksies, denke en vrese verwoord het. Merkwaardig van heirdie vroeë werk (1961) was juis ook die gebruik van gemaklike Afrikaans.

In ‘n onderhoud het Elsa Joubert gesê: “Sonder Afrikaans is ek stom.” Sy kon nie kreatief in Engels dink nie, het sy bely.

Sy sou uiteindelik in Afrikaans ‘n merkwaardige verslag oor ‘n tyd en gees van haar eie lewe nalaat. Sy het Afrikaanse lesers aan hul eie kontinent bekend gestel. Hare was ‘n vernuwende stem en sal ook geken word as die stem van protes, al was daar geen sweem van gedienstigheid in enige van haar werk.

En dit moet sekerlik as een van haar grootste nalatenskappe wees.