– Pietman Retief. Dorpstraat vandag. Foto: Pietman Retief.

Oor Dorpstraat is daar baie geskryf, maar oor “De Wagenweg naar de Kaap” aansienlik minder. Moontlik het die lang naam daarmee te doen gehad, maar dit moes ook meeding met “De Wagenweg naar de Klapmuts”, selfs ook met “De Wagenweg naar de Idasvallei”, en nog langer “De Wagenweg naar de Hottentots-Holland”!

Dit was egter die vernaamste toegang tot en van Stellenbosch se historiese kern en het ‘n belangrike rol gespeel in die dorp se ekonomiese, historiese en argitektoniese ontwikkeling.

Van die Kaapse kant het die verkeer oor die Steenebrug — ja, daar was ook ‘n Plankenbrug— ingekom, en van onder op beweeg tot by die noordelike vloei van die Eersterivier wat die eiland rondom die Drostdy gevorm het.

Die kweekskool is een van die bekendste geboue in Dorpstraat. Foto: Pietman Retief.

Die kweekskool is een van die bekendste geboue in Dorpstraat. Foto: Pietman Retief.

Gelukkig kon baie kunstenaars en tekenaars die kaart van Stellenbosch vir ons bekend stel, vanaf Stade in 1710, tot landmeter Hertzog in 1817. Akkerbome aan weerskante van die straat is deur Simon van der Stel aanbeveel. Ook leivore, om twee redes: eerstens om die tuine in die agterplase nat te lei, maar ook om water te kon voorsien tydens brande. En Dorpstraat het ‘n paar ernstige brande beleef.

Die bekendste gebou in Dorpstraat is sekerlik vandag die Kweekskool aan die oostelike bopunt van die straat. Dit is hier waar die Europese invloed in Stellenbosch afgeskop het toe Simon van der Stel op 8 November 1679 wakker geword het en die dorp na homself vernoem het. Die Drostdy, die geregshuis, is hier opgerig, en het die kantoor en verblyf van die landdros verskaf en dus die gemeenskap bestuur tot by die 1820’s. Die gebou se geskiedenis as Kweekskool het begin in die 1850’s toe daar besluit is om die jong predikante eerder in Stellenbosch op te lei as om hulle Holland toe te stuur.

Net langs die Drostdy was die tronk, met galg en al, waar die latere Rosenhof ontwikkel het. Langs Rosenhof is die Eendracht Hotel (Dorpstraat 161) wat op sy eertydse fondamente herbou is, dan Saxenhof genoem na Pieter Saxe, ‘n Duitse soldaat. Loubser-, Bakker- en Hauptfleischhuis vorm ‘n besondere straatbeeld met die indrukwekkende boogpoort na die agterplaas (nr. 159-153).

Adam Tas vertel van skoenmaker Jacobus van der Berg van Loubserhuis en ‘n woeste bakleiery tussen die Van den Berg-egpaar en “t wijf van Christiaan Martensz”, naamlik Mosterts Marij. Mev. Van den Berg het volgens Tas vir Mosterts Marij met ‘n pik bygekom dat die bloed spat. Die vuiste het geklap en Van den Berg het sy voet op Mosterts Marij se bors geplaas. Volgens Tas het ds. Beck die saak beredder.

Oorkant die Kweekskool is een van die vroegste geboue in Dorpstraat, die Oude Leeskamer (182), wat van besondere waarde is, veral omdat dit op die Kolonies-erf geleë is waar van die eerste erwe uigelê is. Die naam Oude Leeskamer verskyn reeds in geskrifte in die 1800’s,  en verwys na die gebruik as leeskamer of biblioteek. Die Oude Leeskamer se belangrikste bydrae tot die geskiedenis is die besluit van 28 Januarie 1863 wat aanleiding gegee het tot die stigting van die Gimnasium, wat weer gelei het tot die Paul Roos Gimnasium en natuurlik die Universiteit Stellenbosch, soos ons dit vandag ken.

Meeuwes Bakker van Bakkerhuis (55), laer af in Dorpstraat, was een van die groot karakters van Dorpstraat en het teen die einde van die 1700’s met ‘n slaweskool begin, en later ook godsdiensonderrig aan slawe bedien, en het ‘n groot diens aan die dorp en sy mense op daardie stadium gelewer. Hy is deur die bekende Erasmus Smit opgevolg, en die skooltjie het verskuif na die Braak waar dit in die hande van die Rynse sendingaksie geland het.

Die Stellenbosch Gimnasium is in 1865 op Dorpstraat 120 gebou. Dit kan met reg beskou word as die gebou waarin Paul Roos Gimnasium en die Universiteit Stellenbosch hul eerste treë gegee het. Toe dié gebou te klein word in 1874, moes die 123 leerlinge verskuif word na Gimnasiumplein op die hoek van Ryneveld- en Pleinstraat, waar De Warenmarkt nou bedryf word.

‘n Uitstaande baken in Dorpstraat is sekerlik die sierlike La Gratitude, (nr. 95) met sy alsiende oog op die gewel! Bewonderingswaardig, veral omdat ds. Meent Borcherds self, met sy messelaars maar sonder ‘n opgeleide argitek, eiehandig vir die oprigting daarvan verantwoordelik was. Ds. Borcherds was ‘n hoogs begaafde en ontwikkelde mens, ‘n geskiedskrywer, maar ook ‘n digter en ‘n komponis. Hy was vir 44 jaar leraar van die gemeente.

In latere jare het dié eiendom in die hande van Bill Winshaw beland, ‘n Amerikaner van Kentucky wat met 4,000 muile vir die Britse leër gedurende die Boereoorlog hier aangekom het, en die stigter van die latere Stellenbosch Boerewynmakery was. Daar word oorvertel dat hy ‘n glasoog gehad het, en as hy die kelder moes verlaat, het hy die oog uitgehaal, op ‘n vat neergesit, en die werkers oortuig dat hy hulle fyn sal dophou.

Die Joodse handelaars is helaas ook nie meer in Dorpstraat nie. In Dorpstraat 103, nou bekend as Huis Lucy,  was ‘n groep dokters met bekende name soos Spiro, Silberstein, Rosendorff, Basker, Elstein en andere. Die Grand Hotel van Gertie Friedman en haar seun Joel op die hoek van Dorp- en Meulstraat, nou Checkers-sentrum, was ‘n bekende besoekpunt vir studente, en die handelsware winkel van die Perel-familie het menige huise in Stellenbosch in ‘n goeie toestand gehou.

Oom Samie se Winkel, wat reeds in 1904 deur ‘n Dorpstrater oom Samie Volsteedt geopen is, het nie verander nie en is nou ‘n  groot toerisme-aantreklikheid.

‘n Groot verlies was die sloping van die Savantgebou op die hoek van Dorp- en Markstraat, wat die besigheid van ‘n Moslem-sakeman gehuisves het.

Die onderste gedeelte van Dorpstraat was lank bekend as Krige-wêreld. Op drie van die bekende plase, Libertas Parva, of Klein Libertas, Vredelus (63) en Libertasplaas, het drie Krige-broers op ‘n stadium teen die einde van die 1800’s geboer. Vredelust huisves nou ‘n bekende restaurant en Krigeville is op ‘n gedeelte van Vredelust ontwikkel. Die skakelhuise aan die suidekant van Dorpstraat onder Vredelust staan nog bekend as Krige Cottages en is deur Willie, een van die broers, gebou.

Dit was dan ook hier in Libertas Parva waar ene Sybella Krige groot geword het. Terwyl Jan Smuts skuins oorkant die pad in Dorpstraat 50 loseer het tydens sy studentejare, het hy daar vlerk gesleep en Suid-Afrika het haar later leer ken as Ouma Issie! Hulle is getroud in die linkervoorkamer van die gebou.

Heel onder in die straat is Oude Rozenhof wat in 1905 gebou is en wat eintlik bedoel was om ‘n spoggerige hotel naby die Bosman’s Crossing-stasie te word, maar helaas nie ‘n lisensie kon kry nie. Dit het toe ‘n koshuis vir jong dames geword.