Die Covid-inperkingstyd mag nou wel verslap wees tot vlak 3, maar dit is nog lekker ontspannend om tyd te maak om te lees. Hier is drie nuwe boeke wat nou by Protea Boekhuis beskikbaar is, sowel as een van NB-Uitgewers se nuwe boeke wat binnekort beskikbaar sal wees.

By die dag – Eunice Basson
Basson se tweede bundel staan in die tradisie van haar liriese en suggestieryke debuut Leiboom, wat in 2014 deur Queillerie gepubliseer is. By die dag handel oor die skoonheid en besondersheid van die alledaagse bestaan en die wonder van klein oomblikke. Basson se woordskilderye is klankryk, organies en intuïtief, maar sonder sentimentaliteit – klein stillewes en portretstudies van stadstuine, voëls, ’n Life Esidimeni-slagoffer, Dimitri Tsafendas, ’n transitorooftog, Poppie van der Merwe, en kring wyer uit na die honde van Delhi, die papawerbruid van Afghanistan en Alan Kurdi. Soos te verwagte van ’n kunshistorikus tree die digter ook op natuurlike wyse met die beeldende kunste in gesprek. Elke gedig is gestroop maar dawer nog lank by die leser na.

Basson het in 2003 aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) met ’n proefskrif oor die werk van Erich Mayer gepromoveer. Ná ’n kort tydperk as navorser by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing is sy as dosent verbonde aan die Universiteit van Pretoria (UP) en daarna sedert die laat tagtigerjare aan Unisa. Sy tree af in 2011, maar is daarna steeds betrokke by nagraadse studieleiding by drie tersiêre instansies en is ook kunsadviseur vir korporatiewe ondernemings en private kunsversamelaars.

By die dag - Eunice Basson.

By die dag – Eunice Basson.

Die dooies leef - SD Fourie.

Die dooies leef – SD Fourie.

In 2008 skryf sy in vir ‘n M.A.-graad in kreatiewe skryfkuns aan die UP onder leiding van Henning Pieterse, wat sy in 2011 met lof verwerf. Sy verkry in 2009 Lapa-Uitgewers se beurs vir kreatiewe skryfkuns vir hierdie studie. Haar debuutbundel Leiboom was op die kortlys van die Ingrid Jonker-prys.

Die dooies leef (hersien) – SD Fourie
Hierdie boek speel in die Strandveld af, tuisgrond van SD Fourie. Hanna Bagiano, ’n agterkleinkind van Sophie Lourens met wie lesers in Die lanternswaaier kennisgemaak het, skryf haar proefskrif oor die genealogie van die Lourens-familie. Maar waarom sê Hanna se ouma Maryna Lourens dat Hanna nie ʼn Lourens is nie, en waarom het Maryna haar as kleinkind ontken en verwerp? Toe Hanna dagboeke van haar ouma en oumagrootjie Sophie begin lees, kom Hanna te staan voor die Lourens-vloek wat van nageslag tot nageslag oorgedra word.

SD Fourie is ’n boorling van die Strandveld, ’n streek in die Suidwes-Kaap wat strek vanaf die mond van die Kleinrivier tot by die mond van die Breederivier. Sy is ’n toergids en besit die Strandveld-museum op Franskraal. Sy woon by die see, daarom is haar stories vol wind, mis en seesproei. Die dooies leef is, nes haar debuutroman, Die lanternswaaier, oor RSG voorgelees. Die Lanternswaaier het reeds ook in Nederlands verskyn.

Die lanternswaaier (hersien) – SD Fourie
Die jong Sophie Lourens se pa dwing haar om saans ’n lantern te swaai en skepe op die rotse te laat loop sodat strandjutters daarop buit kan maak. ’n Matroos van een van dié sinkende skepe vervloek die Lourens-gesin en hul nageslag. In Die lanternswaaier word die sondes van die vaders en hul skynheiligheid verken. Ou geraamtes klim uit die kas en die vloek van die matroos kom klop aan elke nuwe geslag se deur. Sal Sophie dit kan vryspring? En wie sal haar hart kan wen, Robert of Kerneels? ‘n Lekker lees aan ‘n ou bekende.

Brutal School Ties: The Parktown Boys’ Tragedy – Sam Cowen
NB-uitgewers stel op 26 Junie hierdie nie-fiksie boek deur Sam Cowen, bekend vir haar amper drie dekades op die radio en boeke soos Waiting for Christopher en From Whisky to Water, vry.

Brutal School Ties vertel die storie van hoe Collan Rex, ‘n jong en aantreklike sportafrigter, skuldig bevind is aan 144 gevalle van seksuele aanranding en 14 gevalle van aanranding by die bekende seunskool. Hy het in die hof vertel dat presies dieselfde met hom gedoen is by dieselfde skool.

Cowen kyk na al die gebroke lewens wat agtergelaat is, sowel as na Collan self, en vind meer uit oor die skool se kultuur van geweld en inisiasie. Hulle stilte word uiteindelik verbreek

Die lanternswaaier - SD Fourie.

Die lanternswaaier – SD Fourie.