– Lia Snijman. Bo: Regter Edwin Cameron.

Regter Edwin Cameron is alombekend in SA: Nelson Mandela het hom aangestel as ‘n regter by die Hooggeregshof, hy was tot onlangs ‘n regter by die Konstitusionele Hof, en nou is hy die kanselier aan die Universiteit van Stellenbosch (US). Tog is hierdie oud-Matie se grootste impak vir ‘n sekere gedeelte van die land sekerlik sy werk wat hy gedoen het vir gay-regte, veral met betrekking tot die Grondwet.

Daar word eerste gevra oor sy beste en slegste herinneringe aan die US. “Oei,” sê hy en begin onmiddelik lag. “Die beste herinnering is die vriendskappe wat ek gevorm het,” sê hy. “Ek was diep in die kas en daarvoor maak ek nie verskoning nie. Dit was amper ondenkbaar daardie tyd om uit te kom, ten spyte van die feit dat daar reeds in Johannesburg in 1968 en in New York in 1969 opsigtelike LGBTI-vertonings was, maar ek het steeds hegte vriendskappe gevorm.” Hy voeg by dat die vriendskappe nou nog aan die gang is.

Hy raak skielik meer ernstig en sê: “Ek dink my swakste herinnering gaan oor myself.” Hy verduidelik dat hy nie sterk politiese standpunte ingeneem het nie en eers later tot sy “politieke gewaarwording” gekom het. Cameron sê van sy sienings toe hy aan die US gestudeer het: “Ek het meer insig gehad, maar ek het nie die wilskrag en die moed en die eerlikheid gehad om sterker standpunte in te neem nie. Daar was ander wat dit gedoen het.”

Cameron met Phumi Mtetwa, 'n LGBTI-aktivis in die vroeë 90's.

Cameron met Phumi Mtetwa, ‘n LGBTI-aktivis in die vroeë 90’s.

Cameron tydens die 1990 pride opmars. Foto: Zackie Achmat.

Cameron tydens die 1990 pride opmars. Foto: Zackie Achmat.

“Ek was op die [Studente Raad], maar ek was mak.” Hy bieg dat hy nie trots daarop is nie, maar dat die feit dat hy so “polities skugter” was en dat hy nog in die kas was wel sy latere politieke oortuigings gevorm het. Hy sê dat hy ‘n paar jaar na sy tyd op Stellenbosch gedink het “to hell with this” en sterker politiese standpunte begin inneem het. Hy het dit toe ook op die ou-end besluit oor sy seksuele oriëntasie en dit nie meer weggesteek nie.

Cameron was 29 jaar oud en sou net mooi begin het as regspraktisyn by die Balie toe hy openlik geword het oor sy homoseksualiteit. Dieselfde maand wat hy 30 geword het, het hy sy beroep by die Balie aangepak en saam met sy “eerste manlike genoot” ingetrek.

Hy sê dat dit was ‘n “polities gevaarlike ding om te sê”. Hy verduidelik dat die belemmeringe wat hy as ‘n gay man ervaar het, was nie persoonlik nie, maar struktureel – dieselfde as wat dit is vir ‘n swart persoon met ras-kwessies. Hy sê wel dat hy effens minder teenstand gekry het omdat hy ‘n Oxford-opvoeding gehad het, ‘n wit man was en “ek het myself laat geld”. Hy voeg by: “Ek dink dit was ten dele omdat ek so prontuit daaroor gepraat het.”

Alhoewel hy nie toe ‘n publieke uitspraak gemaak het oor sy seksuele oriëntasie nie, het hy nooit weer na 1982 “daaroor verskoning gevra nie”. Almal by sy werk het dit geweet en sy kliënte ook.

Om openlik te praat daaroor dat hy MIV-positief is, was “baie, baie moeiliker”. Hy het al afgelei dat hy “die besmetting” gekry het tydens die Paasnaweek van 1985 en is eers in Desember 1986 gediagnoseer. “Dit was vir my ‘n geweldige skok en ‘n bron van skande en skaamte.”

Hy het eers in 1999 openlik oor sy MIV-status gepraat. Cameron verduidelik dat dit ‘n “politieke stelling, politieke daad en ‘n politieke stap” was.

Cameron by 'n pride opmars in die 90's.

Cameron by ‘n pride opmars in die 90’s.

Omdat kwessies soos ‘n mens se MIV-status en seksuele oriëntasie so verpolitiseer is, is dit altyd ‘n politieke daad om daaroor te praat sê hy, selfs wanneer dit net binne mens se eie persoonlike kring is. Hy meen dat dit deel van onderdrukking vorm, dus waarom wit mense kan sê dat hul ras nie vir hulle polities is nie, terwyl swart mense weinig daardie stelling sal maak.

Cameron was baie betrokke by die insluit van seksuele oriëntasie by die Grondwet as ‘n beskermde gedeelte van ‘n mens se identiteit waarteen daar nie gediskrimineer mag word nie. Hy noem onmiddellik ‘n “groep Kaapstadse lesbiërs”, onder leiding van Sheila Lapinsky, wat volgens hom ook belangrike bydraes gemaak het. Hy sê dat dit gewoonlik hy en Simon Nkoli is wat die meeste krediet kry.

“Simon was die belangrikste faktor daar, as ‘n openlike ANC-vegter wat tronk toe gestuur is vir sy opstand teen apartheid, en wat openlik gay was. Verstommend! Maar Sheila Lapinsky was die harde werker in Kaapstad wat kontak gemaak het met die ANC.”

In die eerste konsep van die Grondwet was daar ‘n gelykheidsklousule en onder een van die vier hoofpunte is seksuele oriëntasie genoem. Cameron sê dat hulle toe geweet het hulle het ‘n kans en ‘n geleentheid. Hulle het al vroeg ondersteuning begin werf. “Ons was absoluut vasberade. Agt maande nadat die ANC ontban is, het ons die eerste gay pride-opmars in Afrika gehad.” Hy sê dat hulle aangedring het op “trotsheid, gelykheid, die weggooi van skande en skaamte”.

“Dit was ‘n wonderlike dag gewees,” sê hy oor die eerste pride-opmars en sy oë straal. Die hooflanddros van Johannesburg moes toestemming gee vir hul optog, maar dit is nog nie goedgekeur nie. “Ek as advokaat was gereed om ‘n dringende aansoek te bring om die optog te laat voortgaan.” Dit was wel toe nie nodig vir Cameron om op die Vrydagmiddag die aansoek in te dien nie, want die toestemming is gegee.

Hy vertel dat die oggend toe hulle uit die saal van die Institute of Race Relations in Braamfontein gekom het, was daar ‘n ligte lentereënbui wat op hulle neergeval het, maar net daarna het die son uitgekom. Volgens hom was hulle tussen 30 en 50 mense. “Ek was 37 jaar oud. Ek kan nie vir jou sê hoe sterk die gevoel van jubeling en blydskap en trots daar was nie,” sê hy.

Hulle het na die Civic Centre in Hillbrow gestap en die polisie het op pad vir hulle gewag. Daar was Saterdagoggend-verkeer in die middestad wat die polisie vir hulle gestop het sodat hulle kon oorstap. “Ek het net gedink, die polisie stop die ganse verkeer op ‘n Saterdagoggend in Johannesburg vir ons, this is the way it should be.” Hy sê dat daar ‘n paar mense was met papiersakke oor hulle gesigte, sommige as ‘n grap, maar ander “werklik beangs dat hulle herken sal word”.

Op daardie oomblik het een van Cameron se katte besluit dat die onderhoud te ernstig raak en op sy skoot gespring sodat hy ook op die Skype-oproep gesien kan word. “Hy is beslis die mooiste kietsie in die ganse wêreld,” sê Cameron. “Hy vind die warmste plek in die huis,” verduidelik hy soos wat die kat sy lêplek op sy bors vind.

“Ek dink die groot stigmas van ons era is oor ras en oor seks. En beide daardie stigmas het hul bron, hul teelaarde, in mag,” sê hy soos wat ons terugkeer na die meer ernstige onderwerp van sekswerk. Hy praat oor hoe die meeste sekswerkers, maar nie almal nie, vrouens is en dat die minagting dus kom van vrou-wees en ook omdat dit met seks te make het. “Die vrou is nog altyd geminag en seksueel instrumenteel gebruik,” sê hy. Cameron sê dat dieselfde gevoel van skaamte wat hy gevoel het as ‘n gay man en ‘n MIV-positiewe persoon, is wat sekswerkers voel wanneer mense hulle nie met menswaardigheid hanteer nie.

“Dis gevaarlike werk,” voeg hy by. Hy sê dat ‘n belangrike gedeelte van sy ontwaking as feminis was toe hy gelees het oor hoe die meeste vrouens in hul lewe fisies oorweldig gaan word deur ‘n man. Hy verduidelik dat hy dit nooit voorheen ingesien het nie, want hy self is lank en sterk. Hy noem dat daar altyd ‘n lewensgevaar is vir die sekswerkers en dat hulle ongelukkig die mense is wat “wegraak”.

Wanneer hy gevra word oor sy kanselierskap aan die US, sê hy: “Ek voel geëerd, ek voel trots, maar ek voel ook ‘n gewigtige verantwoordelikheid. Ek’s baie bewus van my geslag en my ras, maar ek’s ook baie bewus daarvan dat ek in baie opsigte ongewoon is, veral in die lig van my voorgangers.” Hy sê oor sy voorgangers: “Ek dink nie daar was onkonvensionaliteit ten opsigte van politieke standpunt, of seksuele oriëntasie, of MIV nie.”

“Ek voel ‘n energie vir die werk, maar ek moet nog sien wat dit gaan behels, want ons is op 20 Maart geslaan,” sê hy met verwysing na die Covid-pandemie. Hy is wel in kontak met mense by die US, onder andere die rektor, registrateur en die regsfakulteit. “Ek maak afsprake vir die res van die jaar, maar ek hoop ek gaan hulle kan nakom.”

Hy sê dat hy “ontsag” voel vir die verantwoordelikhede wat voorlê. “Daar is soveel op die spel vir Stellenbosch as ‘n intellektuele instelling, as ‘n oop instelling, as ‘n instelling wat gerig is op billikheid, op toeganklikheid.”

Die gesprek draai na die veel-besproke taalbeleid aan die US en hy noem dat Afrikaans self sy moedertaal is. “My primêre taal van besigheid is lankal Engels, […] maar Afrikaans is nog vir my baie kosbaar, baie na aan die hart.” Hy sê hy “kan nie minder saamstem” met taalvegters wat gesê het dat Afrikaans aan die US weens die nuwe taalbeleid vernietig is nie. “Dis ‘n foutiewe waarneming,” sê hy.

Cameron se groot fokus met wette wat help om stigma teen te werk, is op menswaardigheid. “Daar moet strukturele verandering plaasvind, natuurlik,” sê hy oor kwessies van ras, geslag, seksuele oriëntasie en dies meer. “Dit beteken dat sosiale geleenthede geskep moet word vir mense wat voorheen uitgesluit is.”

Hy noem wel dat daar ook ‘n persoonlike dimensie daaraan is om stigmas te verbreek. As jy in ‘n bevoorregte groep is, moet jy vir jouself en ander in jou groep kan sê hoe om te voel en te dink oor die kwessie, byvoorbeeld wit mense wat met mekaar gesprekke oor ras moet hê. Hy sê dat daar wel ook werk is wat gedoen moet word deur verontregte groepe om hul wanpersepsies van hulself teen te werk. Hy praat oor hoe Steve Biko vir swart mense gesê het dat terwyl hulle vir wit mense moet laat weet dat hulle nie minderwaardig is nie, moet hulle dit ook vir hulself sê en glo. “Dis die werk wat ons almal moet doen,” sê hy.

In 2013 het Cameron ‘n toespraak in Malawi gegee waar hy Afrika-leiers gevra het om die stigma teen die queer-gemeenskap, sowel as mense wat aan MIV of Vigs ly, te bekamp. Oor of daar vordering gemaak is in die afgelope sewe jaar, sê hy: “Ek dink so, ons maak vordering in bloed en in geweld. Ek dink nie dit gaan maklik wees nie, maar ek dink daar het die afgelope tien jaar ‘n kentering in Afrika gekom.”

Hy sê dat die kentering in die queer mense self is. Hy noem Nigerië as ‘n voorbeeld van ‘n baie homofobiese land waar ‘n mens 14 jaar tronkstraf kan kry as jy sê dat jy gelyke regte vir queer mense ondersteun. Dit word gesien as om selfde-geslag huwelike te ondersteun. Ten spyte daarvan kry mens queer mense wat in lande soos hierdie uitkom.

“Ek dink nie hulle kan ons weer in die kas sit nie, die res van Afrika.” Hy noem wel dat hy dit met nederigheid en bejammering sê, want hy vrees daar gaan nog “baie geweld en baie trane” wees. “Maar ons kan nie agteruit gaan nie,” sê hy vasbeslote.

“Die pad vortentoe lê vir ons, wel ek dink nie ek kan sê oop nie, maar daar is ‘n pad vorentoe en dat LGBTI-mense in Afrika nou daardie pad vat.” Hy het nie noodwendig hoop nie sê hy, maar beslis vasberadenheid vir die toekoms.