– Wallace du Plessis. Bo: Die nuwe Ford Raptor is kragtig, hanteerbaar en bied ware rygenot op verskillende terreine. Foto: Wallace du Plessis.

Die Mustang van bakkies, Ford Ranger Raptor. Net daar begin die debat, en vinnig kom die vraag van V8 op. Kan ‘n “Amerikaanse” hoëverrigting-motor enigsins anders as om ‘n V8 te wees?

Eerste indrukke is blywend… uiters sag op die oog. Hy maak ‘n stelling… ek straal krag en selfvertroue uit… heeltemal tereg, want onder daardie enjinkap skuil daar ‘n bi-turbo.

Ek staan hoog en trots op my BF Goodrich-wiele en neem gerus notisie van my Fox-veerstelsel.

Die besonderse brul van sy 2-liter enjin maak dat ‘n mens maklik en baie gou “ingedagte raak” wanneer spoedgrensborde en vermanings by jou verbyglip. Hierdie bees loop so sag en glad soos ‘n cheetah met ‘n satyn-japon. Geen uitdaging is te veel gevra nie en verstellings kan seepglad uitgevoer word alvorens 4×4-roetes of ook die moduskeuses oorweeg word.

Die kajuitruimte se uitleg is goed ontwerp en alle instrumente is maklik bereikbaar, sigbaar en uiters effektief. Daar is regtig baie been- en kopruimte en die sitplekke se rugleunings voor sowel as agter maak ver paaie ry uiters gemaklik.

Die klankstelsel en ook bloutand-funksies is baie goed en regtig baie verbruikersvriendelik. Die skerm is groot en duidelik wat parkering met hierdie bielie baie maklik maak. Die voertuig spog met lekker groot kantspieëls en groot ruite waaruit sig oraloor baie goed is.

Van cheetah gepraat… hierdie voertuig se vermoë om uiters kort te draai en die brutale krag waarmee hy dan daarna uit erg gladde en diep modderdongas herrys, is net eenvoudig ongelooflik. Vrees word regtig met verering vervang en die woorde “regstellende aksies” kry ‘n heeltemal nuwe betekenis wanneer jy met hierdie roofvoël op rowwe terreine gaan vlieg!

My vrou, Danita, sê: “Wanneer jy dalk so ‘n naweek-wegbrekertjie soek of dalk van al jou frustrasies wil weghol – Raptor jou naweek om. Jy sal nooit weer dieselfde voel of lyk nie (ek skat ek het vyftien jaar jonger sonder Botox geword).”

Indien jy ‘n spaargeldjie onder jou matras wegsteek, kry vir jou hierdie “heeltyd-speeltyd-wa” en jy sal nuwe toonhoogtes bereik wanneer jyself sy lof besing, met of sonder harp en lier… sommer om die braaivleisvure na ‘n uiters indrukwekkende 4×4-dag met die manne!

Daar is kragtiger bakkies soos die Amarok V6 en Mercedes X350D. Hulle is ook ‘n bietjie duurder en nie so suiwer gefokus op stofpad-verrigting nie.

Die Raptor spog met heelwat spesiaal ontwikkelde onderdele soos die Watts-tipe kronkelveerstelsel agter wat die standaardbakkie se stelsel heeltemal vervang. Dan is daar die Fox Racing 2,5 duim hoëverrigtingskokbrekers op al vier wiele wat 150 mm wyer uitmekaar sit en ook die Raptor 51 mm hoër laat loop. Die tienspoed-outomatiese ratkas kan met ratspane agter die stuurwiel beheer word, maar die bakkie se blikbrein doen dit regtig doeltreffend.

Die ses verrigtingsmodusse is vir sand, klippe, sport, gemak, normaal en Baja. Laasgenoemde verslap al die beheerstelsels insluitend vastrapbeheer vir n heerlike vry “sports” rit op die spesiaal ontwikkelde BF Goodrich KO2-veelterreinbande.

In ‘n neutedop: Die 2.0-liter-bi-turbodiesel is nie besonder kragtig nie, maar gekoppel aan die tienspoedratkas en sportvering lewer dit briljant gefokuste werkverrigting.

Die kajuit is baie goed uitgelê en toegerus met uitstekende sportsitplekke, Ford se goeie Synch 3 klank- en inligtingstelsel, en sagte bekleedsel waar dit tel. Party sê daar is te veel knoppies op die stuurwiel en instrumentpaneel, maar dit pla my nie.

Die basis prys van die Raptor is R849 900, maar ons toetsbakkie is R853 200 met 4-jaar of           120 000km waarborg.