– Danie Keet. Bo: Meraki voor Covid-19. Foto: Google Street View.

Alhoewel talle restaurante in Stellenbosch swaar kry en met sluiting in die gesig gestaar word, is daar tog ook diegene wat in die inperkingstyd en veral sedert die vlak 3-inperkingsregulasies geld, weer begin sake doen het.

Die meeste restaurante het ooreenkomste met simpatiekgesinde gebou-eienaars aangegaan wat baie sal help om hulle deur hierdie ekonomiese krisis te dra.

Ongelukkig is dit ook so dat gebrekkige bestuur en kommunikasie tussen restaurant-eienaars en werknemers ‘n wrang smaak nagelaat het.

Werknemers van Meraki, een van die gewildste koffiewinkels in Stellenbosch, het gekla dat hulle stief behandel is en nie deur die eienaar, Corlandi Bezuidenhout, op hoogte gehou word met verwikkelinge nie.

Vyf van die werknemers wat bereid was om met StellenboschNuus.com te gesels, het beweer dat hulle sedert die sluiting van die restaurant in Maart nog niks van die eienares gehoor het nie.

“Ons het die dag van die sluiting elkeen ‘n plastieksak met kruideniersware ontvang en dit was dit,” het hulle gesê. Hulle het ook beweer dat die werkloosheidsversekeringsvorms vir hul dienstermyn van ongeveer vyf jaar nie behoorlik voltooi is nie en hulle dus nie uitbetalings van die fonds kan kry nie.

“Op ons vorms is daar geskryf dat ons net vier maande in diens van die restaurant was. Ons het meer as vyf jaar hier gewerk,” het Carley, wat as kelner by die restaurant gewerk het, gesê. “Sover ek weet het drie ander werknemers hul uitbetaling van die werkloosheidsfonds gekry, maar ons ander het nog niks gekry nie.”

Intussen het Bezuidenhout ‘n verklaring uitgereik waarin sy die gebou-eienaar, Paulo Sandri, daarvan beskuldig het dat hy hardnekkig eis dat die volle maandelikse huurgeld betaal moet word. In die verklaring sê sy ook dat hy daarop aandring dat sy 50% van die huurgeld moet betaal, terwyl hy reeds vier maande se huurgeld as deposito terughou. Sy het ook gesê dat sy al ’n jaar lank met hom beding oor verhuringsfooie, toenemende deposito’s en huurgelde.

Sandri, eienaar van die gebou waarin Meraki geleë is, het reeds vroeër bevestig dat hy ooreenkomste met sy huurders aangaan sodat hulle hopelik die pandemie en inperkingstyd kan oorleef.

“Met die aanbreek van die nasionale inperking op 19 Maart 2020 het ons ‘n voorlegging aan al ons huurders gestuur om hulle tegemoet te kom met hul huurverpligtinge tydens hierdie moeilike tyd. Ons voorstel teenoor al ons huurders was ‘n 50% afslag per maand op hul huurgeld vir April en Mei en 30% afslag per maand op Junie en Julie se huurgelde.

“Meraki was een van die winkels wat my aanbod aanvaar het en ons het ook aan kwalifiserende huurders die opsie gebied om ‘n derde van hul deposito’s tydelik terug te ontvang,” het Sandri gesê.

Hy het ook gesê dat hy sedert Julie 2019 in ‘n regsgeskil betrokke is met die huurder oor drie maande se uitstaande huurgeld ter waarde van meer as ‘n R100,000.

“Ons het uit die staanspoor probeer om regstappe te vermy, maar ons pogings om die nodige reaksie van haar te kry was tevergeefs,” het hy vroeër aan StellenboschNuus.com gesê.

Hy het ook sy misnoeë uitgespreek oor die veldtog wat Bezuidenhout op sosiale media voer om haarself te regverdig.

Bezuidenhout het egter gesê dat sy besig is om na verskeie geleenthede te kyk om Meraki op ‘n ander perseel in die dorp te plaas. “Tot dan toe, is daar geen skeidingspakette vir die personeel aangebied nie, omdat ons hoop om ‘n perseel te vind om weer te kan oopmaak in terme van die noodregulasies.”

“Ons gaan alles in ons vermoë doen om ons personeel te akkommodeer en ons het al die voorskrifte gevolg, voordat die noodregulasies afgekondig is, sodat hulle werkloosheidsversekering (UIF) kon eis.”

“Daar is groot ontevredenheid oor die UIF-eise. Verskeie van ons personeel se betalings is gemaak en ander, wat onder dieselfde kriteria val, bly onbetaald. Ek het nou al professionele hulp ingeroep, maar niemand kan meer lig hierop werp nie. Ses uit veertien personeel by Meraki het UIF-betalings ontvang. Alle bydraes is deur die werkgewer oor die indiensnemingsperiode betaal, en ek het ‘n ouditeurskrywe wat dit aan die personeel bevestig, gesirkuleer. Nieteenstaande gereelde navrae by die UIF-kantoor, bly ons navrae onbeantwoord. Daar is verskeie besighede in Stellenbosch wat in dieselfde penarie sit en as restauranteurs, druk ons so hard as moontlik vir ‘n oplossing.”

Bezuidenhout het gesê haar ouditeure het ‘n sertifikaat uitgereik dat alle betalings oor die jare aan die werkloosheidsfonds korrek was en sy het haar verpligtinge teenoor die fonds nagekom.

“Ek het persoonlik by verskeie geleenthede by die fonds navraag gedoen oor die 10 werkers wie se aansoek tot nou toe nie betaal is nie. En die antwoorde was elke keer dat dit ‘in die proses is’. My ouditeur van Somerset-Wes het ook die aansoeke opgevolg, sonder enige sukses. Meraki se personeel is skynbaar een van vele restaurante in die Wes-Kaap wie se personeel stuk-stuk deur die werkloosheidsversekeringsfonds betaal word, sonder enige ooglopende rede,” het sy gesê.

Sy het gesê dat 6 van haar 14 personeellede reeds betaal is en daar geen rede is hoekom die ander nie ook hul geld sal kry nie.
“Dit is vir my harstverskeurend dat van my personeel nog nie betaal is nie, nieteenstaande ons volgehoue pogings. Ons is raadop,” was haar woorde.

Intussen het dit ook aan die lig gekom dat Bezuidenhout met ‘n skare-finansieringsprojek begin het om geld in te samel. Verlede week is daar al meer as R37,000 deur haar op hierdie wyse ingesamel, maar geen uitbetaling is aan haar werknemers gemaak nie.
“Tot en met vandag is die ‘crowd funding’ nog steeds nie aan my uitbetaal nie,” het sy by navraag hieroor gesê.

“Ek het uit my persoonlike bronne kospakkies vir my personeel gekoop en uitgedeel. Ek het tot nou toe vir 38 personeellede in my groep persoonlik kospakkies afgelewer teen ongeveer R1,000 elk, wat ek self befonds het. Tot en met vanaand het ek geen betaling van ‘crowd funding’ ontvang nie,” was haar reaksie op hierdie vraag.

Bertus Basson, bekende restaurant-eienaar van Stellenbosch, het gesê dit is nou die tyd vir gebou- en restauranteienaars is om saam te staan om die bedryf te probeer red.

“Dinge het moelik gegaan, maar gelukkig is restauranteienaars innoverend en het baie ander dinge probeer – soos om kos te laat aflewer of net koffie te vekoop.”

“Dis nie nou die tyd om teen mekaar te werk nie,” was sy pleidooi.