– Danie Keet. Bo: Een van Stellensport se netbalspanne. Voor van links: Keesha van Schalkwyk, Adri Carstens, Jo Prins. Agter van links: Lenka Steenkamp, Alison Malgas, Abeline Olivier, Vanes-Mari Du Toit Proudfoot, Sasha-Lee Petersen, Eliska Kühn, Lara Steenkamp.

StellenSport, die eerste professionele netballiga in Suid-Afrika, het onlangs die klerereeks bekend gestel wat deur die tien deelnemende streekspanne tydens die kompetisie gedra sal word.

Die StellenSport premier-netballiga sal oor 14 weke gespeel word met uitspeelwedstryde en ‘n finale wedstryd om die kampioen te bepaal.

Aanvanklik sou die liga reeds in Maart afgeskop het, maar die Covid-pandemie het ‘n stokkie daarvoor gesteek. Daar word nou verwag dat dit vroeg in 2021 sal begin.

Met die inperkingstyd wat nou op vlak 3 is, kon StellenSport egter sy Erin Burger-klerereeks saam met die borge ten toon stel. Die balle vir die toernooi word deur Living Ball voorsien.

“StellenSport is baie trots daarop om met Erin Burger, ‘n voormalige Protea-speler, vereenselwig te word. Vanes-Marie du Toit Proudfoot, ambassadeur van Proudfit se onderklere-reeks, gaan ook hul verskyning maak in die toernooi. Die sportbra van Produfit het ‘n sakkie wat spesiaal aangebring is vir GPS monitering tydens wedstryde. Spelers kan ook weg van netbal hul selfone daarin bêre as hul gaan draf,” sê Charlotte Scholtz van StellenSport.

Abelien Olivier.

Abeline Olivier van die Blue Cranes (Kaapse Metro).

Keesha van Schalkwyk.

Keesha van Schalkwyk van die Robins (Eden).

Volgens Freda Kemp, uitvoerende hoof van StellenSport en ‘n sportwetenskaplike van Stellenbosch, gaan sy die toernooi gebruik as deel van haar PhD-studie om ‘n aktiwiteitsprofiel van netbalspelers saam te stel.

“Ek hoop om vir die eerste keer netbalspelers tydens speel en oefening lewendig te monitor. Die eerste spanne sal op internasionale vlak lewendige terugvoer kry van die sleutel-prestasiefaktore wat wys watter impak wedstryde op spelers het,” het sy verduidelik.

Oor Cecilia Molokwane, president van Netbal SA (NSA), se opmerking dat sy nie kennis dra van die StellenSport se toernooi nie, het Kemp gesê dat hulle al die president se vrae beantwoord het waaroor sy getwyfel het.

“Ek glo ons gaan haar droom om netbal profesioneel te maak hier in die Wes-Kaap begin en sien nie enige verdere teenkanting van NSA af nie. Ons wag nog vir haar finale terugvoer.”

“Ek dink ons president het ‘n probleem oor die konnotasie van die woord ‘professioneel’ gehad. Dit word egter die StellenSport Netball Premier League genoem en spelers gaan wel vergoeding kry. Die inisiatief wat aanvaar is deur die Wes-Kaap hoop om ‘n voorloper te wees vir ‘n toekoms in netbal vir spelers en met die wêreldbeker-netbaltoernooi net om die draai, is dit net wat ons netbal nou nodig het.”

“Die distrikte van die Wes-Kaap sien uit na die uitdaging wat voorlê en kan nie wag om weer netbal te speel nie,” het Kemp verduidelik.

Sodra die finale datums van die Telkom-reeks bekend is, sal die datums vir die StellenSport-premierliga in samewerking met Wes-Kaap se netbalbestuur vasgemaak word. Daar word ook gehoop dat die Norma Plummer-kliniek, wat weens die Covid-pandemie uitgestel moes word, ook nog ingepas sal kan word.

Die Stellensport-premierliga sal bestaan uit 10 premier netbalspanne uit al die distrikte van die Wes-Kaap. Die tien spanne bestaan uit drie spanne van die Kaapstad-distrik, drie spanne van die Kaapse Wynland-distrik, en een span elk uit die Overberg, Weskus en Sentrale Karoo-distrik.

Daar sal ook ‘n junior klubliga geskep word wat sal bestaan uit spanne van o.14-, o.16- en o.18-spelers.