– Lia Snijman.

Die Kook en Geniet is ‘n bekende boek in elke Afrikaanse huis. Dit is dus ‘n groot vreugde dat die Klein Kook en Geniet weer sy verskyning maak met ‘n herdruk en opnuut vir kinders die kans bied om hul eie kookboek te hê.

Eunice van der Berg, ’n Stellenbosser en nou al vir jare die samesteller van hierdie boek, is weereens die skrywer en toetser van die kookboek. Haar ma is S.J.A de Villiers, die oorspronklike skrywer van die Kook en Geniet.

Snaaks genoeg sê Van der Berg dat daar geen druk op hulle geplaas is om vinnig in die kombuis vaardig te raak nie. “Ek het self as kind graag vir my pa spesiale toebroodjies en sout lekkernye gemaak waarvan hy gehou het. My ma en ons huishulp het vir die kook en bak gesorg, en ek het redelik laat in die hoërskool eers geregte begin maak,” sê sy.

Oor hoe vroeg kinders kan begin kook, sê sy: “As ‘n kind belang stel, kan hy sommer vroeg al op ‘n stoel staan en ‘help’ as ma of pa kook. Klein kindertjies hou gewoonlik daarvan om ‘n koekie of iets te maak waarmee hulle kan help sif, roer en met die deeg kan speel. Warm kastrolle, plate en oonde moet liewer ver weg bly, want ‘n ongeluk gebeur so vinnig.”
Die boek het ook instruksies vir kinders oor wanneer hulle ‘n ouer se hulp moet inroep.

Die Klein Kook en Geniet is beskikbaar in Afrikaans en Engels. Dit word deur NB-Uitgewers uitgegee.

Die Klein Kook en Geniet is beskikbaar in Afrikaans en Engels. Dit word deur NB-Uitgewers uitgegee.

Kinders is bekend daarvoor dat hul vol geite is, maar Van der Berg laat haar nie daardeur onderkry nie en pak dit entoesiasties aan. “Die geite van kinders is regtig baie verskillend en daar is gewoonlik ‘n rede voor. Partykeer is dit ‘n fisiese aversie vir ‘n smaak of tekstuur. Daar kan selfs ‘n allergie wees wat die kind laat sleg voel, maar nie kan verwoord nie,” sê sy.

“Daarvoor is geduld die beste raad en geen dwang gaan help nie. Soms is ‘n emosionele probleem die oorsaak en kom ‘n ouer die beste reg deur die situasie nie te beklemtoon nie. ‘n Rustige, gesellige omgewing waar almal saam eet en waar eenvoudige en voedsame kos voorgesit word, het op die lang duur waarskynlik die minste negatiewe gevolge. Ek sou nie ‘n kind aanmoedig om ‘meer’ te eet nie, net vra of hy genoeg gehad het. Dit raak baie gou ‘n gewoonte om te sê dat hy nog ‘n bietjie moet eet, en dit is meestal teenproduktief.”

“Om ‘n kookboek vir kinders te maak, behels ‘n paar fasette, die keuse van resepte, die bewoording en stap-vir-stap verduideliking daarvan, en illustrasies wat bydra om die begrippe duidelik te maak. Soos in alle kommunikasie met kinders, is dit belangrik dat ‘n mens nie te outoritêr optree nie. Ek glo aan deeglike verduideliking van hoekom ‘n mens iets doen. En as die illustrasies aantreklik is, sal die meeste kinders self vra om iets te maak,” verduidelik sy oor die kuns om ‘n kinderkookboek te skryf.

Sy weet immers waarvan sy praat, die boek het begin as ‘n spanpoging van haar en haar ma in 1982. “Sy het die resepte gekies en getoets, ek het die stappe ontleed en beskryf. Vir kinders is meer detail en verduideliking in die beskrywing van die stappe nodig. Ons was gelukkig dat die Klein Kook en Geniet in ‘n behoefte voorsien het wat steeds bestaan. Oor die jare het die boek se voorkoms ‘n paar keer verander en verbeter. Ek het met die mees onlangse uitgawe ook die teks aangepas.”

Sy noem ook dat die foto’s in hierdie heruitgawe van uiters hoë gehalte is, maar dat die teks dieselfde as die oorspronklike is.
Van der Berg verduidelik dat die resepte oor die jare heel konsekwent gebly het aangesien dit fokus op die basiese metodes van kosmaak en om dit te verduidelik en te illustreer. “Die tegnieke kan dan op ander resepte toegepas word soos nodig. Om byvoorbeeld ‘n witsous of vla sonder klonte te maak, kan in baie resepte toegepas word.” Sy sê makaroni-en-kaas, plaatkoekies en kaasskons bly gewild, maar dat hamburgers byvoorbeeld ‘n nuwer byvoeging is.

Sy is opgewonde oor die verhoogde belangstelling in kosmaak wat saam met die Covid-19 pandemie gekom het. “Ons was verplig om minder staat te maak op kitskos. Saam kosmaak kan baie kreatief wees en ‘n bietjie van ‘n ontdekkingsreis. En die grendeltyd was ideaal, want die meeste van ons het tyd gehad om daaraan te bestee.”

“Ek is baie bederf met ‘n uitstekende bakker op die dorp wat deesdae selfs brood aflewer. Die dag voordat ons ingegrendel is, het ek ‘n hele paar brode by hom gekoop en gevries. Die broodbak laat ek aan my skoondogter oor wat al wonderlik professioneel bak. Ek moet net byvoeg dat my ma gereeld ‘n baksel volgraan-roerbrode gebak het en graag een as geskenk weggegee het. Min dinge is so lekker soos so ‘n warm brood!”