– Wes-Kaapse Gesondheid Departement. Drs. Malika Dollie en Garth Cornellissen wys hoe die tydelike COVID-19-toetseenheid wat personeel gemaak het, gebruik word. Die handskoene word ontsmet tussen konsultasies.

Personeel by Stellenbosch Hospitaal se slim plan om interaksie met pasiënte wat vir COVID-19 getoets moet word, te vergemaklik, het nie net geslaag in sy doel nie, maar dit spaar ook tyd en belangrike toerusting wat in die tyd van die pandemie goud werd is.

Dr. Lawson Eksteen, huisarts by Stellenbosch Hospitaal, vertel dat toe COVID-19 ‘n realiteit geword het in die Wes-Kaap, hul personeel koppe bymekaar gesit oor hoe hulle ‘n konsultasie met iemand wat moontlik COVID-19 kan hê en getoets moet word, meer pasiëntvriendelik kan wees as wanneer die gesondheidswerker die gebruiklike wit oorpak en handskoene dra.

‘n Lid van die span het materiaal soos perspex, ‘n stukkende broeikas en enkele items wat hulle by ‘n plaaslike hardeware winkel gekoop het, gebruik om in sy privaattyd ‘n “toetseenheid” aanmekaar te sit. Deurskynende plastiek skei die pasiënt en gesondheidswerker in plaas van die gebruiklike persoonlike beskermings toerusting (PPE). Die gesondheidswerker kan nou die konsultasie en papierwerk voltooi en dan van die handskoene gebruik maak om die toets te doen.

Eksteen sê hulle het gou besef dat dit moeilik is om ‘n volledige konsultasie te doen, notas te neem en die pasiënt op sy gemak te laat voel terwyl jy die nodige PPE aan het. “Ons wou graag die menslike aspek en verbintenis met die pasiënt behou. Baie mense het onderliggende vrese en bekommernisse. Dit is belangrik dat jy dit op daardie oomblik kan aanspreek.”

Pasiënte se reaksie op die inisiatief het hulle gewys dat hulle in die kol was. Sover het nog nie een pasiënt nié kans gesien vir die toets nie. “Dit is baie privaat en veilig. Een pasiënt het ook gesê dis goed om die dokter behoorlik te sien voor jy getoets word. Die pasiënte is ook baie verbaas dat dit eintlik baie vinnig gaan.”

Personeel by ander gesondheidsfasiliteite het ook aanklank gevind by die idee en gevolglik het Cloetesville Gemeenskapsdagsentrum, Aan-het-pad Kliniek, Kylemore Kliniek en Kayamandi Kliniek soortgelyke toetseenhede gebou.
Intussen is ‘n COVID-19-sifting- en toetsstruktuur by Stellenbosch Hospitaal voltooi en sal binnekort in gebruik geneem word.

Besoekers aan die hospitaal sal eers hier aandoen voordat hulle in die hospitaal inbeweeg vir dienste. Besoekers sal hier vrae gevra word oor hul gesondheid om te bepaal of hulle vir COVID-19 getoets moet word. Hoewel dit sal beteken dat die span se innoverende toetsstasie nie meer gebruik sal word in die hospitaal nie, is Eksteen baie trots op hul inisiatief. “Ons het nooit gedink dit sou so goed werk nie. Dit wys jou wat ons hier in die platteland kan uitrig!”