– Danie Keet. Bo: ‘n Kunstenaarsvoorstelling van die Krige Hotel wat tans in aanbou is.

‘n Unieke konsep in die hotelbedryf word tans op Stellenbosch gevestig met die konstruksie van die unieke Krige Hotel in Krigestraat.

“Ons het besluit om ‘n konsep hier te vestig wat ons glo baie uniek aan Stellenbosch gaan wees. Die sporthotel sal fokus op die talle fietsryers en ander sportlui wat Stellenbosch so gereeld besoek en ons wil aan hulle ‘n spesiale tuiste tydens hul besoeke bied,” sê Johan Botha, van Stellenvest wat die hotel ontwikkel het.

“Die hotel sal veral onder pad- en bergfietsryers bekend gestel word en sal as basis gebruik kan word vanwaar fietsryers die verskillende roetes in en om Stellenbosch wil aandurf. Ons het geriewe geskep waar fietsryers se fietse gediens kan word tydens hul verblyf, dit sal in die kelder gewas word na afloop van ‘n rit en veilig daar geberg kan word.

“Ons gaan ook van plaaslike toeroperateurs gebruik maak om besoekende fietsryers wat die omgewing wil gaan verken, maar onseker is oor die talle roetes wat hier gery kan word, te vergesel.”

“Ons is besig om met die verskillende bergfietsroete-eienaars te onderhandel sodat ons gaste ‘n dag-lisensie kan kry om op alle berg- en veldroetes te mag ry. So glo ons ook dat daar ‘n groot mark geskep sal word vir die verhuring van fietse.”

Volgens Botha sal die Krige Hotel met ‘n vierster-gradering spog wanneer dit teen Januarie 2021 voltooi is.

“Die inperkingstyd weens die Covid-pandemie het konstruskiewerk op die perseel grootliks tot stilstand gdwing en ons sal alles in ons vermoë doen om die werk so vining as moontlik klaar te kry.”

“Die hotel het geen restaurant nie, maar ons sal wel ‘n klein ontbyt aanbied. Ons glo dat jy die plaaslike infrastruktuur van restaurante moet ondersteun en mense kry dus ‘n vrye en wye keuse van plekke waar hulle kan gaan eet.”

“Bo-op die dak van die hotel gaan daar in die aande ‘n kaas- en wyngeselligheid vir gaste aangebied word, sowel as vir besoekers wat sou belangstel. Die uitsigte daarvan af op ‘n somersaand behoort baie besonders te wees,” het Botha gesê.

Krigestraat is al in 1905 gebou met twee stroke erwe weerskante van die straat wat suidwaarts vanuit Dorpstraat na die Eersterivier loop. Dit vorm deel van die historiese hart van Stellenbosch.
Die hotel is binne stapafstand van talle restaurante, winkels en kultuur-historiese besienswaardighede. Dit is ook net om die draai van die wêreldbekende Stellenbosch Academy of Sport (SAS). Daar is ook talle golfbane in die omgewing, wynplase wat gaste kan besoek en skaars 30 minute vanaf die V&A Waterfront en die Kaapstadse internasionale lughawe.

Die luukse hotel gaan alles vir sy gaste bied. Elke suite het 5-sterafwerking, het sy eie klein kombuis, met ‘n kroegyskas, mikrogolfoond, koffiemasjien, opwasbak en eetgerei.

Daar is ‘n gesamentlike sitkamer met ‘n koffiestasie. Elke kamer het twee enkelbeddens wat in ’n dubbelbed omskep kan word. Daar is ook werksplek vir twee mense, parkeerplek in die kelderverdieping en ‘n en-suitebadkamer by elke wooneenheid.