– Universiteit van Stellenbosch. Bo: Harlekynliewenheersbesie. Foto: Ingrid Minnaar.

Uitheemse indringerspesies word vandag as een van die vyf belangrikste bedreigings vir biodiversiteit en ekosisteme wêreldwyd gereken, tog beskou slegs ’n handjievol lande biosekuriteitsmaatreëls as prioriteit.

So waarsku ’n span internasionale navorsers in ’n nuwe oorsig van omgewingsveranderinge wat wêreldwyd aan uitheemse indringerspesies toegeskryf kan word. Die artikel, wat op 26 Junie 2020 in die vaktydskrif Biological Reviews gepubliseer is, maak deel uit van die “World scientists’ warning to humanity: a second notice initiative” wat vra vir ’n dringende verandering in ons benadering tot rentmeesterskap van die aarde en die lewe daarop.

Prof David Richardson, direkteur van die Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie (SIB) by die Universiteit Stellenbosch (US), en een van die hoofouteurs van die artikel, sê: “Terwyl Suid-Afrika grootliks belê het in ’n nasionale program om die negatiewe impak van wydverspreide indringers op ekosisteemdienste te beperk, moet ons baie meer aggressief optree. Dringende intervensies is nodig op sowel nasionale as internasionale vlak ten einde die uitdagings meer effektief die hoof te kan bied.”

Uitheemse spesies sluit plante, diere en mikrobes in wat per abuis, of doelbewus, deur mense ingebring word in gebiede waar dit nie natuurlik voorkom nie.

'n Harlekynliewenheersbesie. Foto: Ingrid Minnaar.

‘n Harlekynliewenheersbesie. Foto: Ingrid Minnaar.

Stompkopkewer. Foto: Samantha Bush en Trudy Paap.

Stompkopkewer. Foto: Samantha Bush en Trudy Paap.

Baie van hulle floreer, versprei wyd en het nadelige effekte op die omgewing, ekonomie of menslike gesondheid.

Hierdie studie wat gedoen is deur ’n internasionale span navorsers van 13 lande, versprei oor Afrika, Asië, Australasië, Europa, Noord- en Suid-Amerika, meld dat die aantal indringerspesies vinnig toeneem, met meer as 18,000 wat tans wêreldwyd as sodanig gelys is.

In Suid-Afrika het ’n onlangse bepaling 1,422 indringerspesies gelys wat genaturaliseer is of indringers geword het, waarvan sommige ’n ernstige negatiewe impak op Suid-Afrikaanse ekosisteme het, so byvoorbeeld, “dorstige” uitheemse boomspesies wat groot hoeveelhede water uit opvangsgebiede onttrek.

Die span navorsers skryf die toename in biologiese indringers toe aan die toename in die aantal en verskeidenheid maniere waarvolgens spesies versprei, en aan die toenemende volumes verkeer wat met hierdie maniere geassossieer word. Hulle bespreek die rol van nuwe maniere waarop spesies versprei,  soos die aanlyn handel in ongewone troeteldiere en plante vir tuinbou, en die vervoer van spesies oor oseane op stukkies plastiekrommel.

Die studie toon ook hoe ander drywers van globale verandering, soos klimaatsverandering, die verandering in hoe en waarvoor grond gebruik word, tesame met internasionale handel, besig is om die impak van biologiese indringing te vererger. Byvoorbeeld: spesies wat deur middel van skepe vervoer word, kan nou in nuwe streke floreer as gevolg van klimaatsverwarming; en die permanente opening van die Arktiese Oseaan met globale verwarming, stel mariene spesies in staat om tussen die Atlantiese en Stille Oseane te beweeg.

Die outeurs beklemtoon dat biologiese indringing bestuur en hul impak getemper kan word. Hulle verwys na benaderings wat elders in die wêreld werk en maak aanbevelings ten opsigte van beter bestuur. Byvoorbeeld: die instel van strenger grensbeheer wat X-straalmasjiene en opsporingshonde insluit, het gelei tot ’n progressiewe afname in die tempo waarteen swamplantpatogene Nieu-Seeland binnegekom het.

Prof Petr Pyšek van die Tsjeggiese akademie vir wetenskappe en die Charles Universiteit in Praag,  asook navorsingsgenoot by die SIB, en hoofouteur van die artikel, sê: “Namate ons meer oor indringer- uitheemse spesies te wete kom, word die probleme wat met biologiese indringing geassosieer word al hoe duideliker. Die bedreiging wat indringerspesies vir ons omgewings, ons ekonomieë en ons gesondheid inhou, is baie ernstig en word al hoe erger. Beleidmakers en die publiek moet aksies om indringing en hulle impak teen te werk, prioritiseer.”

Voorbeelde van indringer- uitheemse spesies met ’n negatiewe impak
Demoinabossie (Parthenium hysterophorus)
Die demoinabossie, inheems aan dele van Sentraal- en Suid-Amerika, is ’n aggressiewe indringer in Suid-Afrika. Dit versprei vinnig, vergiftig wilde diere en vee, en veroorsaak ’n verskeidenheid gesondheidsprobleme by mense.

Harlekynliewenheersbesie
Die harlekynliewenheersbesie, ’n indringerspesie inheems aan Asië, veroorsaak skade aan ekosisteme deur die verkleining van inheemse liewenheersbesiepopulasies. Hulle is ook ’n groot ergernis wat ekonomiese verliese veroorsaak deurdat hulle wyn bederf met hulle bitter sekresies en skade aanrig aan vrugte-oeste.

Denne
Denindringing in die berge van Suid-Afrika se Kaapse blommeryk veroorsaak ’n drastiese afname in stroomvloei vanaf wateropvangsgebiede.

Stompkopkewer
Die stompkopkewer is ’n kewer wat inheems aan Asië is en vir die eerste keer in 2017 in Suid-Afrika aangeteken is. Hierdie kewer, sowel as ’n fungus wat deur die kewer oorgedra word, hou ’n noemenswaardige bedreiging in vir beide inheemse en uitheemse bome in die land. Ten minste 80 boomspesies (wat 35 inheemse spesies insluit) word geraak. Hierdie indringer het alreeds groot skade aangerig deur groot bome in stadsgebiede te laat doodgaan. Die volle omvang van die impak van hierdie indringer op die Suid-Afrikaanse stedelike omgewing, sal slegs met verloop van tyd bepaal kan word. Munisipaliteite staar alreeds hoë kostes in die gesig vir die verwydering van besmette bome.

Wêreldwetenskaplikes se waarskuwing aan die mensdom
Die artikel maak deel uit van die “World scientists’ warning to humanity: a second notice”, ’n inisiatief wat vra vir ’n dringende verandering in ons hantering van die natuurlewe.

In 1992 het ’n aantal prominente wetenskaplikes van oor die wêreld hul name gevoeg by ’n dokument wat gewaarsku het dat die mensdom afstuur op ’n botsing met die res van die natuurlewe (Union of Concerned Scientists, 1992). Vyf-en-twintig jaar later het Ripple et al. (2017) die menslike respons geëvalueer en in ’n “tweede waarskuwing” tot die slotsom gekom dat die mensdom gefaal het om daadwerklike vordering te maak met die manier waarop ons omgewingsuitdagings hanteer. Hulle het gevind dat die meeste van hierdie probleme vererger het.

Die oorspronklike oproep in 1992 is ondersteun deur meer as 1 700 wetenskaplikes, terwyl meer as 15 000 wetenskaplikes in 2017 hulle handtekeninge by die verklaring gevoeg het.

Wat is die omvang van die probleem?
‘n Onlangse analise van uitsterwings wêreldwyd in die IUCN rooilys-databasis (IUCN, 2017) het getoon dat uitheemse spesies bygedra het tot 25% van plantuitsterwings en 33% van uitsterwings van diere wat op land en in vars water voorkom. Intussen word die jaarlikse omgewingsverliese wat veroorsaak word deur spesies wat in die Verenigde State van Amerika, die Verenigde Koninkryk, Australië, Suid-Afrika, Indië en Brasilië ingebring word, op meer as 100 biljoen Amerikaanse dollar bereken.

Aksie teen indringer- uitheemse spesies
Die belangrikheid om aksie te neem teen indringer- uitheemse spesies wêreldwyd, geniet wye erkenning (Millennium Ecosystem Assessment, 2005). Die onlangse wêreldwye bepalingsverslag oor biodiversiteit en ekosisteemdienste deur die Interregeringsplatform vir wetenskapsbeleid oor biodiversiteit en ekosisteemdienste (IPBES), het indringer- uitheemse spesies vyfde geplaas op die lys van drywers van omgewingsverandering wat die grootste impak het. Dit volg naas veranderinge in die gebruik van land en see, die uitbuiting van organismes, klimaatsverandering, en besoedeling.

Oor die Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie (SIB)
Die SIB is ’n interinstitusionele navorsingsentrum met sy hoofkantoor by die US. Sy lede doen navorsing oor die gevolge van biologiese indringing in Suid-Afrika se varswater, mariene en land-ekosisteme. Die doel van die sentrum se werk is om die tempo en impak van biologiese indringing te verminder deur die bevordering van wetenskaplike begrip en die ontwikkeling van navorsings- en bestuurskapasiteit deur middel van nagraadse student-opleiding.

In 2020 het hulle ’n ensiklopediese bepaling gedoen oor die stand van biologiese indringing in Suid-Afrika. Hierdie vryetoegangsboek is beskikbaar by: https://tinyurl.com/y82qygud.