– Lia Snijman. Bo: ‘n Ouer besig met protesaksie buite Laerskool Cloetesville. Foto: Francois Lombaard.

Hoërskool Cloetesville was op 29 Junie toe vir dekontaminasie en ouers het ‘n protesaksie voor dié skool en Laerskool Cloetesville gehou.

 Volgens Bronagh Hammond, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement, sal die hoërskool op 30 Junie weer oopmaak vir klasse. Die skool self kon nie bereik word nie aangesien dit toe is vir sanitasie. Laerskool Cloetesville het ook nie hul foon of e-posse beantwoord nie.

Mark Daniels, voorsitter van Hoërskool Cloetesville se beheerliggaam, se boodskap is op Facebook versprei waar hy vir die ouers van die skool gesê het dat hulle as die beheerliggaam op 29 Junie by die skool sal wees om die personeel vir hul eie veiligheid te keer om die skool binne te gaan, aangesien die hoof en personeel, volgens die skoolhoof, verplig is om skool toe te kom.

Hy het genoem dat daar ‘n Corona-geval by die skool was. Volgens hom wou die onderwysdepartement aanvanklik nie die skool laat disinfekteer nie.

“Ons is almal bekommerd oor ons kinders se skoolwerk, maar ons glo die veiligheid van almal, ook van ons as ouers, is nou die belangrikste,” sê Daniels. Hy het ouers aangeraai om liewers hul matrieks by die huis te hou.

Hammond sê dat elke Corona-geval nie noodwendig beteken dat ‘n skool hoef te sluit nie. Sekere faktore moet oorweeg word, byvoorbeeld die hoeveelheid areas waar die leerder of personeellid was, wanneer laas die leerder of personeellid by die skool was en met hoe baie mense hulle in direkte kontak was.

Hierdie faktore is volgens haar van belang omdat sekere areas van die skool gedisinfekteer kan word sonder dat die hele skool sluit en die virus nie vir langer as 72 uur op ‘n oppervlakte kan oorleef nie. Indien iemand in dieselfde kamer was as iemand wat positief getoets het vir Covid-19, maar wel ‘n afstand van 1,5m tussen hulle behou het, hoef hulle nie hulself te isoleer nie, maar moet hulle wel gemonitor word vir Corona-simpotome.

Hammond verduidelik dat positiewe gevalle nie noodwendig beteken dat ‘n skool moet sluit nie en dat skole eers toestemming moet van die hoof van die onderwysdepartement moet kry. Die meer gedetailleerde protokol kan hier gelees word.