– Hilton Biscombe. Bo: Stellenbosch se stadsaal. Foto: Stellenbosch Munisipaliteit.

Nee, BC beteken nie Before Christ nie, dit kan seker wel so gewees het, gesien in die lig van ou gebruike, lank, lank gelede, toe water en elektrisiteit nog volop en goedkoop was en die gras voor die stadsaal lewendig en Mandela in die tronk en ons gemaksugtig op ons oop stoepe kon sit en die voëltjies in die bloue lug hoor tjilp het.

Die stadsaal het nog altyd by my gespook, omdat daar nog nooit moeite gedoen is om sy ontstaan neer te pen nie. Miskien moet ek diegene inspan wat bietjie meer as ek weet oor die oorsprong-geskiedenis van hierdie gebou.

My insig nou word egter verryk met memories BC, wat opgesluit lê in al die beautiful moments van gemeenskapsfunksies. BC in hierdie geval beteken egter Before Covid, toe alles nog kosjer was, of beter gestel, toe die stadsaal ten volle toeganklik en gebruik was deur die hele Stellenbosch, ongeag ras of kleur…

Ja, die stadsaal, toe apartheid op sy ergste was, was vir ‘n tydjie ‘n no-go zone vir bruinmense waarvan ek en my voorgeslag ‘eienaars’ was en nog steeds is. Dis eintlik maar nou dat ons die konsep van die demokrasie verstaan wat volle eienaarskap van regeringsgoed waarborg en toeken aan almal.

Die munisipaliteit was nog nooit die baas nie. Hulle is maar net die bewakers en oorsigdienaars, namens die hele gemeenskap.

Daar was ‘n tyd toe dit deur die regering van die dag gebruik is as politieke speelbal as teken van mag en oorheersing. Politieke vergaderings, waar ouens mekaar sommer met stoele bygekom het oor politieke verskille, het groot onmin tussen die Sappe en Nattes (politieke partye) veroorsaak oor “the native who caused all the trouble”.

Laat my liewers nie daar gaan nie, maar selfs met die oopmaak, heelwat later, het dit nog groot onmin in die bruin gemeenskap veroorsaak. Ek kon dit duidelik sien toe vuurvreters en politieke ingeligtes eenvoudig net geweier het om daar te gaan. Vandag toi-toi ons!

Gelukkig weet ons nou dat ons altyd besitreg gehad het ten spyte van daardie verraderlike stelsel wat daarop uit was om jou minderwaardig te laat voel. Nou kan ons aangename memories BC oproep.

Die stadsaal is hoofsaaklik gebruik vir danse en feesvieringe deur die bruin gemeenskap, want niks was so lekker soos om op so ‘n hout- en springvloer te skoffel nie, aldus die oue garde wat ‘n meer sentimentele siening oor hierdie gebou gehad het. Daar word vertel dat die timmer- en boumanne van Die Vlakte hul talent aangewend het om later by hul vriende van elders te spog oor hul handewerk. Die jonger mense sal heelwat later, op hul oue ouderdom, trots (soos ek), hierna verwys as die gebou wat deur eie familie gebou is.

As ‘n mens in ag neem dat Stellenbosch ‘n baie ou dorp is, is dit nie verregaande om af te lei dat gevestigde vry slawe-arbeid of beter gestel, hul direkte afstammelinge, ‘n groot bydrae gemaak het tot hierdie imposante gebou nie. Gegewe die pragtige houtsnee- en fynere pleisterwerk, veral in die middedorp, is hierdie invloede duidelik te sien in die stadsaal se afronding.

Maar om nou meer te fokus op die onlangse verlede, voor Covid, bly maar ‘n aangename, warm memory wat die bloed verryk om beelde van engele en witsielige skepsels op te roep. Hel, Hilton, nou maak jy darem die pap dik aan, as jy oordryf met jou vergelykings en idiliese beelde asof jy in Utopia self is, hoor ek ‘n stem uit die eter skree…

But it’s true as God, want hoe anders beskryf jy iets as beskrywingswoorde ontbreek en jy in die lug gryp en nie anders as om hierdie liegbek van Auntie Google te consult nie. Dit help egter nie veel nie, nog minder die ou wat jou vermaan om in suiwer Afrikaans te skryf. As ek dit gaan doen, neem ek die gees van die oomblik weg…

Die gees van die oomblik dus, neem my terug na die grand danse wat gewoonlik deur some well-established organisasie gegee is, nie sodanig om geld in te samel nie, maar meer om af te show, soos maar hierdie uitdrukking gebruik was as jy ‘n bietjie jaloers is oor die grootsheid van hierdie ekslusiewe okasie wat nie vir die “gepeupel” op Die Vlakte bedoel was nie. As jy bekend is met die rolprent The Godfather, sal jy so ‘n idee kry van hoe die here en dames geklee was as hulle die “heilige” grond van die stadsaal betree het.

Die heer Dougie Moses (trotse Stellenbosser) het ietwat trots my die gedrukte menu van die sportklub, Swifts, ‘n tyd gelede, toe hy nog geleef het, gewys, met kreefkelkies as voorgereg en some vleis-ete met ‘n snaakse Franse naam, sjampanje op elke tafel en ‘n regte pudding met regte cream en regte cherries en regte koek!

Dit neem my terug na die onlangse verlede waar amper die hele gemeenskap genooi is na ‘n Moslem-wedding waar rooi kofias, serpe van alle kleure en die Moslem tabberts van die vrouens bygedra het tot die atmosfeer wat wemelend en kleurryk oor die Stadsaal sou strek.

Oosterse kos op die tafel, soethappies en samosas waaroor ek liries kan raak, met my mond wat nou nog water en verlang na vergange dae.

Maar dis nie al nie. Die dansvloer was ‘n plesierplek waar die dans van die “experts” jou laat ginnegaap het oor die quick step en jakkalsdraffies (foxtrot) wat hierdie “experts” by die spesiale danskool in die Volkskerksaal in Banhoek, die spesiale steps deur some dansmeester uit Distrik Ses, aangeleer is.

Miskien is dit beter gestel, as ek noem dat die natuurlike ritme van die danspare hul fyn vernuf ten toon kom stel het onder die ligte van die indrukwekkende kandelare wat spesiaal ingevoer is om die dansvloer subtiel te verlig om die nodige atmosfeer te skep.

Met sy hoë plafon en ryk houtpaneelmure, was jy altyd vervul met awe asof jy ‘n paleis betree het. As jy my nie wil glo nie, gaan try dit! Oe, hene, amper vergeet ek dat dit nou verbode is, danksy Covid!

Maar die stadsaal is ook gebruik vir somber goete waar, veral op ‘n Sondag-gedenkdiens ter ere van die oorledenes van Die Vlakte, hulle herdenk is met krans-opleggings en die brigade wat o.a “Abide with me” speel en jou lei na ‘n tranedal.

Die dorp het ook sy oorlog-gesneuweldes voor die stadsaal, toe daar nog lewendige groen gras met lewendige goggatjies was, vereer met een van daai geleerde speeches wat jy lateraan nie meer verstaan nie. Dit was altyd so polities gelaaid, hang af watter politieke party die flavour van daai jaar was.

Niks het eintlik ge-change nie…

Daar is nog so baie wat ek kan skryf, anders om net te noen dat die banketsaal aan die regtekant van die stadsaal gebruik is vir bruilofte.

Dan ook die kultuuraande van die plaaslike bruin skole, wat vra vir tien bladsye vol, maar kom ons sluit dit maar af met ‘n haasbek dogtertjie wat alleen voor die rooi fluweelgordyne staan om haar gediggie oor ‘n mikrofoon voor te dra:

“The postman
is a busy man
collecting letters in his van…”

Dankie dus, aan die stadsaal wat seker ook maar nou sy plek moet volstaan in virtual reality. Maar sê my, hoe dans ‘n mens nou eintlik op lig?