– Lia Snijman. Bo: Die Toyota US Woordfees.

Die Toyota US Woordfees het hul aansoeke vir 2021 se fees uitgestel na 1 Julie.

“Die sluitingsdatum vir aansoeke is uitgestel ná baie navrae van kunstenaars om ekstra tyd. Verskeie belangstellende kunstenaars is betrokke by die NAF [Nasionale Kunstefees] en Vrystaat Kunstefees wat vandeesmaand aanlyn aangebied word. Vir die eerste teaterskryflaboratorium is 60 aansoeke ontvang en Saartjie [Botha] is baie opgewonde oor die teaterstukke wat hieruit kan ontstaan,” sê Danie Marais, die Woordfees se woordvoerder.

Hul eerste toneelskryflaboratorium waarvan Marais praat, is ‘n geleentheid vir skrywers om toneelstukke van 60 tot 90 minute te skryf tydens die drie maande lange laboratorium. Daar word finansiële ondersteuning gebied aan die wat gekeur word. Dit word ook deur die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) ondersteun en bedryf.

“Ons ondersteun graag skrywers wat verhale vertel wat nie gereeld op Suid-Afrikaanse verhoë gesien word nie. Ons plaas ’n premie op nuwe Afrikaanse werk, maar oorweeg ook Engelse en meertalige tekste,” sê die aankondiging op hul webtuiste.

Die voltooide tekste sal deur ‘n groep akteurs voorgelees word nadat Covid-19 inperkings opgehef is en een of twee tekste sal gekies word om volwaardige produksies vir die Woordfees te wees. “Die laboratorium word in Afrikaans en Engels aangebied en staan onder leiding van die Woordfees-direkteur Saartjie Botha, veteraanregisseur Janice Honeyman en bekroonde aktrise Lee-Ann van Rooi,” sê Marais.

Oor hoe die fees volgende jaar bedryf gan word, sê Marais daar word “verskeie modelle ondersoek”. Hy voeg by: “Daar is egter nog te veel veranderlikes om nou al te sê hoe volgende jaar se fees gaan lyk.”