– Danie Keet. Die onwettige varkplaas in die Papegaaibergnatuurreservaat.

Die onwettige varkplaas in die Papegaaiberg-natuurreservaat, en die toeloop van onwettige plakkers, is weer in die kollig nadat versoeke om die probleem op te los die afgelope drie jaar net op dowe ore val.

Hierdie keer het die burgerregtegroep Afriforum aangesluit by die stemme van talle inwoners van veral Onder-Papegaaiberg, maar ook omgewingsbewuste Stellenbossers wat vra dat die onwettige varkboerdery en plakkery gestop word.

Afriforum het ‘n versoek tot die Wes-Kaapse minister van omgewingsbewaring en omgewingsbeplanning, Anton Bredell, gerig nadat dit aan die lig gekom het dat die Stellenbosch-munisipaliteit dit oorweeg om ‘n gedeelte van die Papegaaiberg-natuurreservaat af te sny, dit te hersoneer en aan mense wat dit tans onwettig beset, aan te bied. Bewerings dat daar reeds tot soveel as 750 plakkershutte in die reservaat opgerig is, kon nog nie bevestig word nie.

Volgens Johardt van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, het die burgerregteorganisasie se Stellenbsoch-tak op 23 Junie vanjaar ‘n dringende opvolgskrywe gerig aan Bredell nadat hulle gehoor het van die Stellenbosch-munisipaliteit se voorneme.

“Die skrywe volg ’n vroeëre skrywe in Maart vanjaar aan die munisipaliteit om dié aangeleentheid aan te roer. Ons het tot nou toe nog geen terugvoer van die munisipaliteit ontvang nie.”

“Die munisipaliteit se voorneme om ’n gedeelte van die reservaat af te sny en mense te ‘beloon’ wat die grond tans onwettig beset, maak ’n bespotting van die streng maatreëls wat ingestel is om die biodiverse ekostelsel van die Papegaaiberg-natuurreservaat te beskerm.

“Die baie seldsame plant Aristea lugens, wat endemies aan die Wes-Kaap is, kom ook in die reservaat voor. Hierdie plant verskyn op die rooilys van bedreigde spesies en is dus in ernstige gevaar om uit te sterf. Die agteruitgang van die natuurlike habitat is een van die bedreigings wat hierdie seldsame plantspesie in gevaar stel en die Papegaaiberg-natuurreservaat kan ’n belangrike rol speel om die voortbestaan van die plant te verseker.”

“Die Stellenbosch-takbestuur het hul ontevredenheid oor die huidige situasie uitgespreek en dringende samesprekings met die minister versoek om alternatiewe te bespreek. Die munisipaliteit se voornemende optrede kan ’n gevaarlike presedent skep. Dit is onaanvaarbaar dat die munisipaliteit nie eens die moeite gedoen het om op ons eerste skrywe te reageer nie en dus is ons genoodsaak om die aangeleentheid verder te voer tot op provinsiale vlak,” sê Van Heerden.

Gemeenskapslede het die probleem al telkemale by die munisipaliteit aangemeld, maar dit lyk of daar voete gesleep word.

‘n Inwoner van Onder-Papegaaiberg het vertel dat daar tans effens minder varke is, maar dat nuwe hokke gebou is.

“Daar lê ook hope verrottende kos rond en daar is geen lopende water nie. Dit is nou waarskynlik ‘n modder-gemors na die baie reën wat daar geval het. Dit klink ook of van die varke siek is omdat hulle hoes. Dit, tesame met die afloop van afvalwater vol mis en uriene, besoedel die omgewing en skep ‘n gesondheidsgevaar,” het hy gesê.

“Die Papegaaiberg Natuurreservaat lê Stellenbosch-inwoners na aan die hart. Daar is lank en moeisaam gewerk om dié besonderse natuurerfenis as ’n beskermde gebied te verklaar. Daarom kan ons as inwoners nie toelaat dat die munisipaliteit sy plig versuim as oorhoofse bewaarder van die reservaat nie,” sê Ria Crafford, voorsitter van die omgewingsakeportefeulje van AfriForum se Stellenbosch-tak.

Stuart Grobbelaar, munisipale woordvoerder, het teen publikasietyd nog nie op navrae gereageer nie.