– Daniel Buchan. Bo: Die Rooiplein en die biblioteek se ingang.

‘n Studie deur ‘n navorser van die fakulteit ekonomiese en bestuurswetenskappe toon hoe skoolleierskap ‘n kritieke rol kan speel om die akademiese prestasie van leerders in Suid-Afrika te verbeter. Die land se ekonomiese ongelykheid en basiese onderwysstelsel is van die swakste ter wêreld.

Die onlangse studie met die titel ‘n Stelselperspektief van Basiese Onderwys in Suid-Afrika is die werk van dr Lieschen Venter van die departement logistiek.

Die agteruitgang van die gehalte van die Suid-Afrikaanse basiese onderwysstelsel, veral vir leerders wat belangstel in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde, is welbekend en gedokumenteer.

Luidens ‘n verslag van die organisasie vir ekonomiese samewerking en ontwikkeling is vyftienjariges in Suid-Afrika tweedelaaste met hul gesyferdheid- en geletterdheidsprestasies in vergelyking met leerders uit 76 lande (Ghana is laaste).

Dr Lieschen Venter.

Dr Lieschen Venter.

Verder is Suid-Afrika laaste op die ranglys van die Wêreld- Ekonomiese Forum wanneer die kwaliteit van wiskunde- en wetenskaponderwys vergelyk word.

Suid-Afrika het ook een van die hoogste vlakke van ekonomiese ongelykheid ter wêreld, met die laagste drie kwintiele van Suid-Afrikaanse huishoudings wat minder as R2,340 per maand verdien en dus onder die 2018 minimum maandelikse inkomstevlak van R6,460 val.

Tog is daar ‘n minderheid leerders (ongeveer 25%) wat funksionele skole bywoon en goeie toetsuitslae behaal. Die meerderheid leerders (ongeveer 75%) woon disfunksionele skole by en hul toetsuitslae is swak.

Die ekonomiese ongelykheid skep die indruk dat die beskikbaarheid van meer fondse die swak akademiese prestasie kan oplos, maar volgens Venter het dié benadering die afgelope paar jaar nie veel vrugte afgewerp nie.

“Die afgelope vyf jaar is byvoorbeeld gemiddeld sowat 20% van die nasionale begroting aan onderwys toegeken. Hiervan word ongeveer R20,000 per kind aan primêre onderwys bestee. Daarteenoor bestee die Keniaanse regering omtrent R4,000 per kind en behaal beter resultate as Suid-Afrika. Ondanks die aansienlike toename in hulpbronne wat in die histories benadeelde skoolstelsel belê is, was daar geen verbetering in die gehalte van onderwys nie.”

Sy het gesê die probleem is sistemies en kompleks en daar is nie ‘n eenvoudige oorsaak-en-gevolg-verhouding nie.

“Om werklike verandering te bewerkstellig, moet alle vorme van skoolleierskap oorweeg word. Skoolleierskap sluit enige agent in wat die beleid vir onderwyshervorming kan opstel, afdwing en implementeer. Dit sluit plaaslike en nasionale regeringsamptenare in, asook skoolhoofde, beheerliggame, gemeenskapsleiers en ouerliggame.”

Haar studie stel die gebruik van ‘n reeks stelseldinamika-simulasiemodelle voor om te bepaal hoe verskillende bestuursintervensies by gemeenskappe, onderwysers, hulpbronne en leerders ekonomiese ongelykheid kan verminder en die onderwysstelsel kan herstel.

Die modelle vergelyk die stelsels van die laer sosio-ekonomiese gemeenskap in die Wes-Kaap met dié van die hoër sosio-ekonomiese gemeenskap in die Wes-Kaap. Die modelle is só ontwerp dat dit gebruik kan word vir ander gemeenskappe met ander eienskappe, of vir enige ander provinsie.

Die stelseldinamika-simulasiemodelle is soos volg:

Die skooleffektiwiteitsmodel (SEM) simuleer die Suid-Afrikaanse basiese onderwysstelsel en toon dat verbeteringsintervensies vroeg, deurlopend en op verskeie faktore benodig word om doeltreffend te wees.

Tradisioneel is oplossingsbenaderings geneig om eenmalig te wees, en/of dis gemik op ‘n enkele faktor, en is dikwels te laat. Die SEM illustreer dat enige intervensie van enige van die rolspelers in die skoolstelsel vroeg, deurlopend en op veelvuldige terreine moet plaasvind. Die SEM dien as bewys vir die noodsaaklikheid van sistemiesverwante denke wanneer daar by ‘n basiese onderwysstelsel ingegryp word.

Die model vir onderwyserseffektiwiteit (TEM) simuleer die loopbaanvordering van onderwysers in die Wes-Kaap en toon dat die getal onderwysers wat in ‘n laerskool aangestel word, ‘n groter impak op hul doeltreffendheid het as die kwaliteit van die onderwysers wat aangestel word.

Prakties impliseer dit dat fondse aangewend moet word om die beroep aantrekliker te maak vir voornemende studente en om salarisse te verhoog. Die beskikbaarheid van ‘n groot beurshulpbron lei tot meer inskrywings vir onderwyskwalifikasies. Daar moet egter moeite gedoen word om die gradueringskoers, wat buitengewoon laag is, te verbeter. In ekstreme gevalle is dit moontlik dat ‘n voornemende onderwyser met ‘n beurs meer kan verdien as ‘n junior onderwyser met ‘n salaris, en dit boonop vir minder werk.

Die model vir vroeë kinderontwikkeling (ECD) simuleer die voorskoolse loopbaan van kinders in die Wes-Kaap. Dit wys dat ‘n verbetering van die gehalte van die programme ‘n groter impak op skoolgereedheid het as om die aantal kinders wat by programme inskryf, te vermeerder.

Programme in vroeë kinderontwikkelingsfasiliteite is gestruktureer om leer en ondersteuning te bied wat geskik is vir die kind se ontwikkelingsouderdom en -stadium. Gebrekkige aandag rakende die gehalte van hierdie programme, veral informele programme, veroorsaak dat die enigste uitkoms meer inskrywings is. Kognitiewe ontwikkeling en skoolgereedheidsvlakke ly daaronder. ‘n Program van gehalte is een waar kinders op die regte tyd en die regte wyse die regte vaardighede aanleer sodat ‘n toename in kwaliteit ‘n positiewe uitwerking op aanleg het. Die grootste toename in kognitiewe vermoëns word veroorsaak deur deelname aan programme vir twee jaar of langer, met ‘n minimum tydsduur van vyftien uur per week (maar verkieslik dertig uur per week), waar kinders ingeskryf word voor die ouderdom van vier.

Die laerskoolmodel simuleer die vordering van leerders van gr. 1 tot gr. 7 in die Wes-Kaap en wys dat die verbetering van leerders se sosiale omstandighede ‘n groter impak op hul akademiese prestasie het as die verbetering van hul klaskamerervaring.

Ingrypings moet fokus op die vermindering van die werkloosheidsyfer van ouers en die verhoging van toegang tot sosiale en sielkundige ondersteuning vir gesinne. Dis in skrille kontras met die huidige oplossing om ‘n steeds groter deel van die nasionale begroting vir die verkryging van hulpbronne by sukkelende skole toe te ken.

Die uitgebreide skooleffektiwiteitsmodel bring al die modelle bymekaar om aan te toon dat ‘n kombinasie van ingrypings nodig is om die akademiese prestasiegaping tussen armer en ryker gemeenskappe in die Wes-Kaap te verminder.

Hierdie ingrypings maak sin in die Wes-Kaapse konteks, aangesien die Wes-Kaapse onderwysdepartement die skoolstelsel verbeter het deur weldeurdagte beleidmakery en bekwame implementering. Om ‘n afname in armoede in gemeenskappe en sosiale ingryping binne die huis te bewerkstellig, verg egter veel moeiliker werk vir ‘n regering. ‘n Kombinasie van intervensies waarvan die uitkoms die naaste is aan die gewenste resultate, moet gebruik word.

Venter het bygevoeg dat verdere werk nodig is om die bevindings van die modelle uit te brei. Dit sal vergelykings tussen die laer sosiale ekonomiese stelsel in die Wes-Kaap en die laer sosiale ekonomiese stelsel in ander provinsies (soos Limpopo) insluit.