– Danie Keet.

Die Stellenbosch-wynroete gaan saam met ander rolspelers in die wynbedryf regstappe teen die regering neem oor die nuwe verbod op die verkoop van alkoholprodukte.

Mike Ratcliffe, voorsitter van die Stellenbosch-wynroetes, het gesê die raad van die wynroete het Maandag ‘n nood- en buitengewone vergadering gehou nadat president Cyril Ramaphosa Sondagaand onverwags aangekondig het dat ‘n algehele verbod op die verkoop van alkohol met onmiddellike effek weer ingestel word.

“Die aankondiging dat daar ‘n verbod op die verkoop en verspreiding van alkoholprodukte geplaas word, het as ‘n skok vir die bedryf gekom. Die raad het eenparig besluit dat die pas aangekondigde regulasies die welstand en volhoubaarheid van die hele waardeketting in die wynbedryf, en al sy mense, ernstig beïnvloed. Ons is veral bekommerd oor die invloed wat die verbod op die groeiende werkloosheid sal hê.”

“Die raad het ‘n sterk en eenparige besluit geneem om ander rolspelers in die wynbedryf te ondersteun om regstappe te neem om die rasionaliteit van die besluite wat deur die minister geneem is, te toets. Mias Schreuder, ‘n senior advokaat, is aan die spits van hierdie aksie en sal met ander wynbedryfsliggame saamwerk, terwyl Anton Melck van Cluver Markötter regsleiding aan die raad sal verskaf,” het Ratcliffe gesê.

Mike Ratcliffe, voorsitter van die Stellenbosse wynroete.

Mike Ratcliffe, voorsitter van die Stellenbosse wynroete.

Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.

Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.

Maryna Calow, kommunikasiebestuurder van Wines of South Africa (WOSA), het gesê die verbod is ’n groot slag vir die wynbedryf.

“Dis bitter hartseer en ook hoogs frustrerend. Die gevolge is beslis dat daar finansiële verliese gaan wees. Ons werk op R250 miljoen per week vir elke week wat daar ’n verbod is op plaaslike verkope.”

“Ons moet natuurlik dan ook in ag neem dat daar addisionele werksverliese sal wees asook plase wat hul deure sal moet sluit, maar die volle impak hiervan sal ons regtig eers oor ’n paar maande kan sien. Op hierdie stadium het ons geen idee hoe lank die verbod in plek gaan wees nie. Is dit twee weke of twee maande? Afhangende hiervan, sal ons die ware impak oor ’n tydperk kan meet.”

“Ons het op die stadium ook geen spesifieke statistieke vir Stellenbosch nie en ons kyk nou na die algehele groter prentjie. Die antwoord op hierdie stadium sou wees om te fokus op uitvoere en dan ook [vir podusente om] hulself te wend tot aanlynverkope vir aflewering wanneer die verbod weer gelig word, want dit sal beslis in die tussentyd help met kontantvloei,” het sy gesê.

Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap, betwyfel of die regering besef watter enorme skade die besluit van Sondagaand 12 Julie om drankverkope met onmiddellike effek op te hef, op die totale wynwaardeketting gaan hê.

“Vlak vyf en vier van die nasionale inperking het reeds ‘n groot nadelige uitwerking op die wynbedryf gehad toe die verbod op binnelandse verkope ‘n inkomste-verlies van meer as R3 miljard tot gevolg gehad het.”

“Ons is uiters bekommerd oor werksverliese wat reeds as gevolg van Covid-19-regulasies in die waardeketting voorgekom het. Na raming kan nog 18,000 werkers geraak word.”

“Die besluit om drankverkope wéér te verbied, gaan ook verdere druk plaas op talle produsente en wynkelders wat reeds enorme skade vanweë Covid-19-regulasies gely het en wat ‘n groot behoefte aan oorbruggingsfinansiering het.”

Rico Basson, uitvoerende hoof van Vinpro.

Rico Basson, uitvoerende hoof van Vinpro.

“Die landboubedryf is nie in die besluit geken of gekonsulteer nie en die impak stop nie by die plaashek of by die kleinhandelaar nie. Daar bestaan ook praktiese implikasies, soos wat van 2021 se oes gaan word as die 2020 oes nog in die kelders gaan wees. Die totale spiritualeë-bedryf, waarvan die oorsprong in die landbou lê, word nadelig deur die opheffing van drankverkope beïnvloed,” het Strydom gesê.

Vinpro, die bedryfsliggaam vir die wynbedryf, het reeds vroeër gewaarsku dat ’n verdere verbod op alkoholverkope ‘n nadelige invloed op die bedryf sal hê.

Die effek van die opening van plaaslike drankverkope op Suid-Afrika se gesondheidstelsel het die afgelope paar weke baie aandag in die media getrek, waaronder berigte dat die kwessie voorgelê is by die nasionale coronavirus-beheerraad.

In reaksie op hierdie aankondiging het Vinpro, saam met die drankbedryf, gewaarsku teen verdere beperkings op verkope, terwyl hulle steeds daartoe verbind is om met die regering saam te werk om die maatskaplike uitdagings wat verband hou met alkoholmisbruik en die impak daarvan op die gesondheidsektor aan te spreek.

“Ten spyte van gereelde skakeling met die departement van handel, nywerheid en kompetisie die afgelope maand, het die wynbedryf geen waarskuwing gekry oor die verbod nie en het ook nie die geleentheid gekry om hierhoor met die nasionale coronavirus-beheerraad te onderhandel nie. Geen oorweging hoegenaamd is gegee aan die onmiddellike logistiese probleme vir verskaffers, verspreiders en die kleinhandel nie.”

“Daar word reeds geskat dat die Suid-Afrikaanse wynbedryf, wat werk aan ongeveer 300,000 mense gee, tot soveel as 18,000 werksgeleenthede kan verloor en dat omtrent 80 wynprodusente en 350 wyndruifprodusente hul besigheid in die volgende jaar sal kan verloor weens die vorige verbod van 5 weke op die uitvoer van alkohol en ’n verbod van 9 weke op plaaslike wynverkope. Die bedryf het ‘n verlies van R3 miljard in hierdie tyd gely.”

“Alhoewel wynuitvoere mag voortgaan, sal die plaaslike bedryf gebuk gaan onder verdere werksverliese deur die hele waardeketting, met kleiner kleinhandelaars wat die swaarste gaan kry.”

Volgens Vinpro het hulle die afgelope week kontak met die regering bewerkstellig en sal hulle voortgaan om die saak te beveg.

“Ons sal ook probeer om gedragsverandering teweeg te bring met die gebruik van alkohol sonder om die lewensmiddele van individue en besighede in die bedryf in gevaar te stel. Die wynbedryf het al die nodige stappe geneem om veilige en verantwooordelike handel te bevorder terwyl matige gebruik van alkohol ook aangemoedig word. Die regering moet egter nou sy verantwoordelikheid opneem om die regulasies toe te pas, insluitend wetstoepassing wat onwettige drankhandel sal stuit.”

Vinpro het ook verduidelikings oor sekere praktiese implikasies van die huidige wetgewing geëis, insluitend oor die vervoer en berging van wyn en ander aktiwiteite in die wynwaardeketting.

“Saam met ons vennote in toerisme is ons aktief betrokke by die uitklaring van onduidelikhede in die huidige regulasies en beywer ons ook vir die opening van sekere dele van die toerisme- en restaurantsektor vroeër as wat geskeduleer is om sodoende verligting te bied aan ons wyntoerismebestemmings. Ons werk ook nou saam met die bedryf om oplossings te vind vir korttermyn uitdagings ten opsigte van vraag en aanbod.”

“Ons is steeds daartoe verbind om oplossings en maniere te vind om besighede en werksgeleenthede in die sektor te red, terwyl ons veilige en verantwoordelike handel en die verstandige verbruik van alkohol wil verseker, en daarmee saam gesamentlik poog om mense se lewens en hul lewensbestaan te beskerm,” meen Vinpro.