– Universiteit van Stellenbosch. Bo: Oseane verdien die mensdom se beskerming.

Die mensdom het ’n nuwe verhouding tussen hom en die oseaan nodig om die voortgesette oorlewing van die verskillende lewensnoodsaaklike funksies van die see te verseker, sê navorsing wat pas in Nature Communications verskyn het.

Die navorsing getiteld A transition to sustainable ocean governance beskryf drie belangrike oorgangsroetes om ’n meer volhoubare toekoms vir die komplekse oseaanstelsel te skep.

“In komplekse stelsels kan die kleinste ontwrigting ’n buite verhouding groot, ingrypende, stelselwye uitwerking hê,” verduidelik een van die outeurs*, Tanya Brodie-Rudolph, ’n navorsingsgenoot verbonde aan die sentrum vir komplekse sisteme in transisie aan die Universiteit Stellenbosch (US).

“Die Covid-19-krisis is ’n klassieke voorbeeld van die bekende ‘vlindereffek’: van die oorontginning van die natuur in ’n vleismark in Wuhan tot ’n wêreldwye pandemie, toon hierdie krisis presies hoe noodsaaklik dit is om die tipe veerkragtigheid te bou wat doeltreffende, soepel reaksies op skielike stelselveranderinge moontlik maak. Dít geld eweneens vir die komplekse oseaanstelsel waarop ons staatmaak. Indien die oseaanstelsel in duie sou stort, sal die gevolglike krisis net so verwoestend wees soos die Covid-19-pandemie. Trouens, dit is nou belangriker as ooit vantevore om te verstaan hoe komplekse stelsels werk, en hoe ons dit ter wille van die mensdom, die ekonomie én die omgewing veerkragtiger kan maak.”

Die eerste van die drie roetes na ’n meer volhoubare toekoms vir die oseaanstelsel is ’n herskikking van bestuurstrukture – onder meer afwaartse en opwaartse genestelde skale van plaaslik na internasionaal – wat op ’n gemeenskaplike visie berus. Die tweede is die bemagtiging van diegene wat op die oseaan staatmaak deur kennisoordrag vir aanpassingsleer, en die verlening van oseaanregte as openbare goedere. Die derde is om eienaarskap te hervorm tot rentmeesterskap deur meganismes soos sertifisering en voormededingingsamewerking, wat aansporings sal voorsien en verantwoordbaarheid sal help bou. Die mariene rentmeesterskapsraad se visserysertifisering-stelsel en regtegebaseerde visseryhervormings soos vangsaandele is belowende voorbeelde van die tipe innovasie wat nodig is.

“Die mens se welstand berus op die biosfeer, wat die natuurlike hulpbronne van die oseaanekosisteme insluit. Omdat veelvuldige eise en stresfaktore die oseaan bedreig, het ons ’n transformasie in oseaanbestuur nodig om die oseaan se bydrae tot die mensdom te handhaaf,” verduidelik Brodie-Rudolph.

“Die gesondheid van die oseaan is deurslaggewend vir die mensdom. Ons moet beter omsien na hierdie gedeelde hulpbron, ter wille van die gesondheid en voorspoed van huidige en toekomstige geslagte, die omgewing, biodiversiteit en die klimaat. Die manier waarop die oseaan tot op hede bestuur is, is ondoeltreffend en weerspieël nie hierdie komplekse verhoudings nie.

“Hierdie navorsing doen aan die hand dat ons nuut moet dink oor die oseaan as ’n gedeelde hulpbron. Boonop toon dit hoe maatskaplike en ekonomiese stelsels kan aanpas en transformeer. ’n Bestuurstelsel wat die komplekse rol van die oseaan as ’n gedeelde hulpbron erken, en voortbou op veranderinge wat reeds aan die gang is, sal die oorgang na ’n florerende verhouding tussen die mens en die oseaan ondersteun.”

Die Nature Communications-artikel is ’n samevatting van ’n blouskrif wat die outeurs in opdrag van die hoëvlakpaneel vir ’n volhoubare oseaanekonomie (kortom die Oseaanpaneel) opgestel het. Die Oseaanpaneel is ’n unieke inisiatief waardeur 14 dienende wêreldleiers momentum opbou in die strewe na ’n volhoubare oseaanekonomie waarin doeltreffende beskerming, volhoubare produksie en gelyke welvaart hand aan hand gaan.

*Outeurs van die artikel sluit in Tanya Brodie-Rudolph en prof Mark Swilling van die Sentrum vir Komplekse Sisteme in Transisie aan die Universiteit Stellenbosch, Mary Ruckelshaus van die Universiteit van Stanford se natuurkapitaalprojek, Edward H. Allison van WorldFish, Maleisië, sowel as die Nippon-stigting se oseaanneksussentrum, Earthlab, aan die Universiteit van Washington, Henrik Österblom van die Stockholm-veerkragtigheidsentrum, Stefan Gelcich van Pontificia Universidad Católica de Chile en Philile Mbatha van die Universiteit van Kaapstad.