– Bo: Basson Pinotage met kerrie-lamskenkels en sambale.

Anthonij Rupert-wyne spog met ’n indrukwekkende wynportefeulje en deel hiervan is die spoggerige Cape of Good Hope-reeks wat ook deel uitmaak van Suid-Afrika se veelgeroemde Old Vines Initiative.

Hierdie reeks, wat gemaak word van druiwe uit Suid-Afrika se oudste wingerde, bestaan uit terroir-spesifieke wyne wat geskep is om die land se wynmaakgeskiedenis wat oor 350 jaar strek, te gedenk. Die eerste oesjaar is in 2011 bekend gestel en dit het gelei tot die stigting van die Old Vines Initiative wat in 2007 deur Johann Rupert geïnisieer is.

Die Old Vines Initiative word beskou ’n waardevolle bydrae tot die beskerming van Suid-Afrika se ryk wynmaakerfenis en weerspieël ook die Rupert-familie se veelvuldige bydraes op ander gebiede soos kuns en argitektuur.

Dit is danksy hierdie poging dat die inisiatief gelei het tot die skep van wyne soos die Cape of Good Hope groendruif semillon van bosstokwingerde. Die wingerde waaruit hierdie wyn geskep is, is in 1950 in die Citrusdalberge aangeplant op die plaas wat vandag aan Henk Laing behoort. Hierdie besonderse wyn het nie net ’n gesogte vyfstergradering in verlede jaar se Platter-wyngids verdien nie, maar is ook aangewys as die gids se “Semillon van die Jaar”.

Die storie agter die ligging van elke wingerdstok is opsigself fassinerend, veral in die lig van die beperkte geskiedkundige rekord. Johan Nel vertel byvoorbeeld van een klein wingerdblok wat in ’n afgeleë droogland gefloreer het danksy wortels wat oor die dekades heen diep by die grond ingegrawe het, van bosstokke so groot soos bome en van interessante rangskikkings van wingerdstokke wat lukraak deur die vroeë boere geplant is. Hierdie stories en meer sal spesiale aandag ontvang op ’n toegewyde webblad wat later vanjaar van stapel gestuur word.

Druiwe vir die Cape of Good Hope-reeks word ook spesiaal verbou op Anthonij Rupert-wyne se Altima- en Riebeeksrivierplase.

Altima, wat naby Villiersdorp geleë is, is in 2008 aangeskaf. Die plaas lê in die Elandskloof, ’n afgeleë vallei wat deur ’n bergreeks omring word. In die winter is hierdie bergpieke gewoonlik met sneeu bedek en soms ook die hoogste wingerde. Die klimaat is kontinentaal danksy die groot daaglikse temperatuurverskille en skep nie net koel klimaattoestande vir die wingerde nie, maar is ook ideaal vir die verbouing van Black Perigord-truffels wat in 2009 bekend gestel is.

Riebeeksrivier is geleë teen die hange van die Kasteelberg in die Riebeek-vallei van die Swartland. Die plaas dateer terug na die vroeë 1700s, hoewel die eerste wingerde eers in 1972 aangeplant is. Ou chenin blanc-wingerde wat laat in die tagtigerjare aangeplant is en cinsaut wat in die vroeë tot laat negentigerjare wortel geskiet het, lewer steeds puik oeste. Die Rupert-familie het die plaas in 2007 aangeskaf, spesifiek vir die produksie van Rhône-kultivars van hoë gehalte.

Die erfenis-geïnspireerde wynreeks se jongste toevoegings, die Riebeeksrivier Chenin Blanc en die Riebeeksrivier Syrah, sluit by die Parel Vallei Merlot, Basson Pinotage, Serruria Chardonnay, Van Lill & Visser Chenin Blanc, Laing Semillon, Altima Sauvignon Blanc, Southern Slopes, Caroline en Sneeuwkrans Pinot Noir aan.