– Pietman Retief. Bo: Oom Samie se Winkel in Dorpstraat.

Die buitengewone omstandighede wat ons lewens deesdae dikteer, het ‘n ou gebruik laat herlewe – die tuisaflewering van kruideniersware, negosieware, selfs voorbereide voedsel!

Min mense is egter bewus daarvan dat dit ‘n gebruik is wat kort ná 1904 reeds in Stellenbosch begin is. In daardie jaar koop Samuel Johannes Volsteedt ‘n winkel in Dorpstraat vir eenduisend pond, en word die eerste winkeleienaar in Stellenbosch wat goedere vervoer na klante se huise. ’n Driewielfiets moes hierdie taak verrig.

Oom Samie, soos hy bekend gestaan het, word ’n karakter as sakeman in Dorpstraat, ten spyte van die feit dat hy sy besigheid bedryf onder die naam SJ Volsteedt, Algemene Handelaar, en later as XL Handelshuis, toe ‘n broerskind die besigheid oorgeneem het. Toe die huidige eienaar, Annatjie Melck, die besigheid met ‘n paar vriendinne oorneem in 1981, was daar by hulle geen twyfel dat die naam van Oom Samie moes herleef nie.

Daar is geen ander besigheid in Stellenbosch wat kan spog met ‘n besigheid wat al vir 119 jaar op dieselfde plek in dieselfde gebou suksesvol bedryf word nie. Oom Samie se Winkel was maar altyd bekend vir sy verskeidenheid van produkte wat te koop aangebied word.

Pietman Retief by die bekende pop op die stoep van Oom Samie se Winkel.

Pietman Retief by die bekende pop op die stoep van Oom Samie se Winkel.

‘n Versameling Matie-baadjies hang in die vol winkel.

‘n Versameling Matie-baadjies hang in die vol winkel.

In die SJ Volsteedt-tyd kon daar omtrent alles in die lyn van voedsel verkry word – van gewone kruideniersware tot produkte soos eiers, botter, kaas, brood en konfyt. En dit was in die tyd voor verkoeling. Aarbeie was ook baie gewild wanneer die boere van Jamestown dit kon lewer. Lekkers het die kinders gelok, en pruimtabak die ouers. Snuif is nog verkoop in spesiaal gevormde kardoesies terwyl sommige klante hulle eie blikkies gebring het.

Juwele soos oorbelle en halsnoere is glo net bo die meelsakke uitgestal, en skynbaar het ‘n brood elke nou en dan een van die “skatte” opgelewer. Kaneel en gare was ook baie gewild.

Die een artikel waarmee Oom Samie nie haastig was nie, was ‘n telefoon. Hy moes volgens oorlewering na die bure gaan om te gaan “oplui”!

Krediet was “op die boek”, sommige by die week, ander by die maand. En dikwels, volgens ou klante, het die boek ook maar “vergeet.” Ouer mense is almal as oupa en ouma aangespreek, en Oom Samie se hart het uitgegaan na die bruin mense met wie hy ‘n baie goeie verhouding gehad het.

 Hy was ‘n baie gemoedelike mens wat baie tyd vir sy medemens gehad het, en is altyd gesien met sy brilletjie met ‘n goue raam, ‘n das en ‘n onderbaadjie.

Hy is begrawe in die ou begraafplaas en op sy grafsteen staan daar bloot die volgende woorde: “Hy was ‘n goeie man.”

Vandag is Oom Samie se Winkel gewild onder plaaslike inwoners vir die groot verskeidenheid van goedere wat aangebied word, maar veral gewild onder buitelandse toeriste wat die besonderse reuk van speserye en ook die verskeidenheid van die winkel opwindend vind.

Annatjie Melck het daarin geslaag om ‘n aspek van ons voorsate wat verlore gegaan het te laat herlewe. ‘n Lewende museum met sy bokkoms, speserye, rooibostee, skaapkoppe, veldskoene en lekkergoed, en ook Muratie se wyn, word met groot liefde bestuur.

Geen wonder dus dat, tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010, Oom Samie se Winkel op die voorblad van die Wall Street Journal gepronk het nie.