– Wallace du Plessis. Bo: Die E-Spresso naby Klipheuwel.

“My nooi is in ‘n nartjie, my ouma in kaneel, daar’s iemand… iemand in anys, daar’s ‘n vrou in elke geur!” lees DJ Opperman se Sproeireën. So ook is daar ‘n nuwe geurtjie uit die Suzuki kombuis – S-Presso.

In my tuisland, Namibië, het ek graag ‘n Espresso geniet by Wecke & Voigts se koffiewinkel. Klein koppie, lekker sterk en jy vat hom soos jy hom kry. Niks by nie.

Net so Suzuki se klein koffiekannetjie op vier wiele – S-Presso.
Klein maar kragtig.
Ietwat anders maar pragtig.

Jy weet wat jy kry. Goeie betroubare enjin, netjiese afwerking, goeie kop- en beenruimte voor en agter, praktiese klank- en inligtingstelsel, en lig op brandstof.

My vrou, Danita, sê: “Die ontwerp is van so ‘n aard dat jy goed voel om langs of in hom te wees – die ongewone plasing van die ligte, die hoog loop op sy wiele en boonop die guitige kleur roep mens om weer na jou te kyk.”

Die 1.0 liter enjin gekoppel met die vyfspoed-handrat of vyfspoed outomatiese ratkas (wat jy in handrat kan gebruik) in die moderne “Heartec”-platform  en ‘n gewig van net 770 kg, beteken dat die koffietjie sommer lekker soet is – die motortjie het genoeg krag.

Die S-Presso ry 180 mm hoog wat beteken dat jy ‘n grondpad kan aanpak, dit kom met elektriesbeheerde voorruite, lugverkoeling en ‘n 239 liter kattebak. Die drie-silinder 1.0 liter motortjie lewer 50 kW en 90 Nm, terwyl dit suinig met brandstof is teen onder 5 l/100km.

Die ruimte word baie goed gebruik. Baie kopruimte en verbasend goeie beenruimte agter. Ons het die GL- en MT-model gery wat die middel van die reeks is, en selfs sy lys toebehore is aanvaarbaar. Lugverkoeling, lekker radio, raakskerm vir slimfone, om ‘n paar te noem. Die ronde instrumentpaneel sit in die middel en dus kan almal die spoed en brandstofgebruik noukeurig waarneem. Die tru-kamera is lekker duidelik – wat parkering maklik maak.

Ek het met twee ander mense die pad gevat na Melkbos oor Klipheuwel en Philadelphia. Terloops, ek kan De Malle Meul in Philadelphia aanbeveel vir lekker koffie en ‘n versnapering. Lekker gery, kan heel rustig teen 120 km/h in vyfde die spoed handhaaf en voel veilig om die draaie. Ons het ook nie die sitplekke deurgesit nie. Die S-Presso werk in die dorp en op die oop pad, ten minste vir ‘n uur of so. Daar is ‘n bietjie windgeruis om die truspieëls op hoë spoed, maar mens kan nog heel maklik gesels.

Studente, huisvroue, middestadbewoners – kortom enige mens wat vinnig korterige afstande moet aflê met gemoedsrus, met ratsheid en versnelling in verkeer en maklik om te parkeer in selfs die kleinste spasies (die trukamera help hier) – kan gerus vir hulle ‘n S-Presso skink. Veiligheid in die S-Presso is goed, met twee lugsakke, ABS en EBD.

Wat is die ander keuses? Renault Kwid (omtrent R160k), Datsun Go (R170k), Hyundai Atos (R160k), Kia Picanto (R190k), Mahindra KUV100 (R165k) and Toyota Aygo (R190k).

Die Suzuki S-Presso-reeks begin met die 1.0 GL MT teen R134 900, GL en MT – R139 900, 1.0 S-Edition MT – R147 900, 1.0 GL+ AMT – R152 900 en die S-Edition AMT – R160 900. Dit kom met ‘n 5 jaar/200 000 km waarborg, 2 jaar/30 000 km diensplan en 1 jaar versekering.

Ek dink die GL+ AMT is waarskylik die model om te kry.