– Danie Keet. Bo: ‘n Toneel in Pleinstraat waar honderde mense Woensdagoggend saamgetrek het. Foto: Danie Keet.

Honderde Stellenbosse restaurant- en gastehuiseienaars, verteenwoordigers van wynplase en ander rolspelers in die gasvryheidsbedryf het Woensdagoggend deelgeneem aan ‘n vreedsame protes in Pleinstraat.

Die protesoptrede was deel van ‘n landywe protesaksie deur besigheidsmense in die gasvryheidsbedryf om die regering se aandag op die probleme wat deur die inperkingsmaatreëls geskep word, te vestig.

Die protesoptrede is deur die restaurantverening van Suid-Afrika georganiseer in ‘n poging om die probleme van die gasvryheidsbedryf in die kollig te plaas.

Nagenoeg 16 000 restaurante is landwyd al permanent gesluit en Stellenbosch het ook nie hierdie valbyl vrygespring nie. Dit het veroorsaak dat van die aanvanklike ongeveer 800 000 mense wat landwyd in die bedryf werk, slegs sowat 400 000 oor is. Na raming is die restaurantbedryf wat voor die Covid-19-inperkings sowat R7 miljard werd was, nou net R1 miljard werd.

Restaurant- en gastehuiseienaars moet steeds huur van derduisende rande maandeliks betaal sonder ‘n omset wat dit regverdig. En geen hulp word tans van die regering ontvang nie.

Restaurante soos Meraki, Trumpet Tree, Mugg & Bean en ander het reeds hul deure gesluit terwyl talle ander swoeg en sweet om hul deure oop te hou. Innoverende maniere om steeds handel te dryf is intussen begin, met talle restaurante wat wegneemetes en – koffie bedien en deur plaaslike verpreiders, soos Seepglad.com, laat aflewer net om aan die gang te bly en hul werknemers te kan betaal.

Die Stellenbosse-wynbedryf is ook ernstig deur die verbod op die verkoop van wyn geraak en talle wynplase staan ook onder die valbyl van sluiting. Na raming is daar reeds 18 000 werksgeleenthede in die wynbedryf, wat werk aan sowat 300 000 mense gee, verlore. Omtrent 80 wynprodusente en 350 wyndruifprodusente staar die skuiting van hul besighede in die gesig. Die bedryf het ‘n verlies van R3 miljard in die vorige inperkingstyd gely.

Talle bekende Stellenbossers, insluitend Bertus Basson, eienaar van ‘n paar restaurante op die dorp, Mike Ratcliffe, voorsitter van Stellenbosch-wynroetes en Jeanneret Momberg, uitvoerende hoof van Visit Stellenbosch, het aan die optrede deelgeneem.

Alhoewel restaurante tans oopgestel is, mag hulle geen wyn verkoop nie en is die aandklokreël, wat vereis dat mense nie na 21:00 op straat mag wees nie, verder beperkend op hul bedrywighede.

Momberg het gesê sy is oorweldig deur die opkoms en solidariteit waarmee die gasvryheidsbedryf in Stellenbosch saamstaan in hierdie protes.

“Dit is nie net restaurante nie, maar ook gastehuise en wynplase, almal wat geaffekteer word. Die realiteit is dat vir elke werk wat verloor word, is daar ‘n klomp honger mense en ons sosiale probleme in Suid-Afrika gaan net verdiep. Ons wil net gehoor word,” het sy in ‘n raserige Pleinstraat gesê (sien die videogreep).

Intussen word die hofsaak wat deur Stellenbosse wynboere teen die regring oor die verbod op wynverkope aanhangig gemaak is, eersdaags aangehoor.

Deelnemers aan die protes het met toutjies van meer as 1 m elk ‘n menslike ketting van die sirkel by die kruising van Bird- en Pleinstraat tot verby die stadsaal, aan weerskante van die straat en gewapen met plakkate en baniere, hul misnoeë met die sluiting van restaurant en die verbod op wynverkope te kenne gegee.

Op die plakkate is aangedui hoeveel werksgeleenthede verlore gaan terwyl die inperkingsmaatreëls in plek is.