– Hilton Biscombe.

Om te sterf en tog te lewe is een van die kontradiksies van die lewe. Jy staan verbysterd as jy verneem van die sterftes regoor die wêreld. ‘n Tyd gelede, toe corona nog nie in die lug was nie, het die getal sterftes in al die wêreldoorloë my geskok gelaat en dit deur ons eie hande, doelbewus, vir liefde en Vaderland, wat ons wêreld stukkend gelaat het.

Dis nou weer so.

Maar hierdie keer is dit nie doelbewus nie! The jury is still out on this, terwyl Donald Trump nou die blaamseptor swaai en met shifting eyes als wil verbloem met sy duistere aandeel wat rapid soos ‘n mal, reusagtige haas deur sy land skarrel.

Amerika is toe nie so great nie. In fact Afrika is greater, maar tog is ons nederig hieroor (as ons dit aan Ubuntu meet) as leierskap vra dat ons die doodsvirus verwerk en aanpassings maak. Maar dit bly ook hier ‘n struggle, want die grootskaalse paniek oor die die hele wêreld vra moed as ons die dood in die gesig staar.

Die verskil tussen ons en Amerika egter, is dat ons dit erken, maar dat Donald met daai groot ego van hom, en Bybel in die hand, dit nie kan of wil tem nie. Sy lees van die situasie in sy land is maar baie vlak. So ook van ander wêrelddele, wat maar afhanklik is van dollars en die afwesigheid hiervan kan net swaar ellende skep.

Nou moet u mooi verstaan dat hierdie afhanklikheid patrone is wat uit die verlede kom om die kunsmatige greatness van Amerika aan die lewe te hou. Trump weet dit en daarom gebruik hy dit as ‘n speelbal om andere te manipuleer.

Een van die seerstories nou, is dat hy sy dollars van die Wêreld Gesondheidsorganisaie onttrek, wat seer sekerlik nog meer ellende skep.

Donald, in geval jy nie wil weet nie, die wêreld is in ‘n krisis!

Als wat ek hierbo skryf is ietwat gewaagd, gesien in die lig van professore wat hierdie goed bestudeer en dus diepere kennis aanwend as hulle hul studente oor die lug in die politieke wetenskappe onderrig. Ek is maar ‘n leek wat dit betref, waar die skoenmaker hom by sy lees moet hou, as ek skryf en vergeet dat die sisteem my stem in toom wil hou. My wegbreek-mentaliteit kan toegeskryf word aan ‘n rebelsheid wat gebore is toe Stellenbosch besluit het om Apartheid te baar.

Om met die dood te deal vra moed, so ook om geliefdes daaraan af te staan. Niemand waag dit egter om hieroor te skryf nie, omdat dit so somber is. Ek verkies dit omdat dit so helend is. Dood bly egter dood en pynlik en dit laat almal so hulpeloos voel. Die sterkte lê egter in die erkenning dat ons sterflik is en dat die lewe die dood se ling is. Die een kan nie sonder die ander nie. Dit word nog meer ooglopend as jy soos ‘n ouman soos ek, op hierdie stadium van sy lewe, al baie aan die dood moes afstaan. Dit volg dus vanselfsprekend dat die heling wat die dood meebring, my nou goed bedien. Ja, jy word nie daaraan gewoond nie, veral nou met al die beperkings wat jou so hulpeloos laat.

Alles word van jou ontneem met hierdie virus, as ons besef dat die dood van gerief en aardse goed, jou kwesbaar laat en jou lei tot ongemaklike vrae oor jou plek in dit alles.

Dit lei my na na die gedig van Totius dat die wêreld nie ons woning is nie, wat ietwat vertroosting bied. Gaan lees dit gerus. Gerustellend en diep. Net soos die Here is my Herder as jy dit verstaan of ‘n poging aanwend om dit te lees en dit nie net beskou as ‘n versie wat jy opsê as die blok benoud raak nie.

Maar hierdie metgesel wat ons die dood noem, bring die lewe meer in fokus as ons nou met corona meer waardeer en besef dat hoe meer haas, hoe minder spoed ‘n waarheid ontbloot wat jou, met Job se geduld, in ‘n lang ry laat staan vir ‘n boksie vuurhoutjies, ‘n skroefdraaiertjie, ‘n choppie of for that matter ‘n stukkie soesys…

Die grappie hierbo, is eintlik maar net om die vrees virrie dood te verbloem. Ons almal is maar vulnerable en ons weet nie wanneer hierdie dief van suurstof kom nie.

But let’s call the shots, as ons luister na ons wetenskaplikes, wat ook nie die geval is as ek my oë oor die dorp laat dwaal nie. Of ons is baie dom of “slim” en dat net die masker die beste verweer is. Nee, jy sal ook ver moet staan en nie in ander se nekke blaas soos ‘n Blou Bul nie.

Jou sekslewe sal jy moet opskort en net beperk tot jou intiemste one-partner. Vir diegene wat dink dat die Kaap nog Hollands is en domastrant jy jou vryery met klompe sommer so innie Bos wil laat geld, sal dit nie ‘n verrassing wees as jy een van die “uitverkorenes” is nie.

In my kinderdae was daar ‘n movie wat in die local cinema gespeel het, ook nou relevant, omdat die composer (Ennio Morricone) van daai klankbaan onlangs gesterf het, met Clint Eastwood in die dramatiese sphagetti-rol van ‘n gunslinger met die gepaste titel, Death rides a horse. As ek nou dink aan ‘n nuwe titel, Death rides on air, met die ganse mendom in hoofrolle.

Maar kom laat ons hierdie corona, soos die gunslinger van ouds, vol gate skiet. Die probleem egter is dat ons hom/haar nie kan sien nie dus maar daai masker dra en jou afstand hou.

StellenboschNuus.com weerspieël ‘n verskeidenheid opinies. Die menings in die stuk is die van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig die mening van StellenboschNuus.com nie.