– Cornelia de Kock.

Die heersende pandemie het die wêreld, soos ons dit geken het, onherroeplik verander. Die meeste Matie-studente is klaar met aanlyneksamens.

Dit het my laat wonder hoe op aarde daar bo alle twyfel vasgestel kan word dat die aangestuurde leêr die betrokke student se eie werk is. Hoe kan bepaal word dat daar geen studiemateriaal naby die kandidaat was nie?

So veertig jaar gelede was getroude vroue meestal huisvrouens. Op Stellenbosch het eksamentoesighou aan voltydse ma’s die geleentheid gebied om bietjie uit te beweeg en terselfdertyd ekstra geld te verdien.

Ekself het begin deur saans toesig te hou en soos my kinders groter geword het, kon ek ook by oggend- en middagsessies betrokke raak.

Toe ek uiteindelik halt geroep het, het ek meer as dertig jaar-ervaring van die mees vervelige werk op aarde gehad.

Die Nuwe Suid-Afrika het baie deure vir alle bevolkingsgroepe oopgemaak. Indien ’n eggenoot by die Universiteit werksaam was, ongeag die posbeskrywing, kon die ander helfte opsiener word. ’n Matrieksertifikaat was die enigste voorvereiste.

Op hierdie manier het vroue uit alle vlakke van die Stellenboschgemeenskap skouer aan skouer saamgewerk en toegesien dat studente eerlike werk lewer. Hegte bande is oor kleurgrense heen gesmee. Aanlyneksamens het ook hierdie vroue van ’n broodnodige, ekstra inkomste ontneem.

’n Ervare toesighouer sien onmiddellik wanneer ’n student iets oneerliks doen. Jy stap by die sitplek verby, hou aan met stap en kyk dan om – die student se oë is direk op jou gefokus.

Wanneer jy dan nader stap om die persoon te konfronteer, klop jou hart in jou keel. Jy gaan sit langs die student, lig sy eksamenboek op en daar lê die “crib notes”.

Jy sien die man peuter die hele tyd met sy potloodblikkie, gaan sit langs hom en vra die blikkie… die blikkie is vol wiskunde-formules.

Daar is natuurlik diegene wat meesters in die kuns van eksamenoneerlikheid is – hul word nooit uitgevang nie. Elke keer wanneer ’n mens ’n student op heter daad betrap, wonder jy: Waarom?

Waarskynlik om te slaag of hoë punte te behaal. Ongelukkig word dit soms teruggevoer na druk van die ouers. Een so ’n geval was die student wat vir my gesê het, sy pa het geen geleerdheid nie en verwag van hom om ’n kursus te loop waarin hy nie belanggestel het nie.

’n Derdejaar-regsstudent het flou geval, pas nadat ek haar aantekeninge by haar afgeneem het. Die oomblik toe sy bygekom het, was haar eerste woorde: “Wat gaan my ma sê?”

Blykbaar sou hierdie eksamenoneerlikheid op die student se studierekord verskyn en sou sy nooit tot die regsberoep toegelaat kon word nie.

Dalk moet ouers liewer hierdie wysheid van Grantland Rice by hul kinders inprent:
“When One Great Scorer comes to
write against your name, he marks,
not that you won or lost, but
how you played the game.”

StellenboschNuus.com weerspieël ‘n verskeidenheid opinies. Die menings in die stuk is die van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig die mening van StellenboschNuus.com nie.