’n Hele paar lekkerleesboeke het pas hul verskyning op die rakke by Protea Boekhuis gemaak. Daar is iets vir almal en dit is beslis die moeite werd om daar ’n draai te gaan maak.

Die dag toe ons Krismis gaan soek het – Wini Esterhuizen
Dit is opregte, uit-die-hart-uit vertellings, jeugherinneringe en kontreistories. Dit herinner aan Dana Snyman in die opregtheid en eenvoud daarvan en die nostalgie wat dit oproep. Klein Wini is ’n “ouderwetse” kind en gaan op vyf skool toe, waar sy die meeste van teken hou. Sy wens sy was so mooi soos Marlene Dumas, wat in dieselfde skool was. Maar sy het rooi vlegsels en sproete soos Pippie Langkous. Sy praat te veel en noem ’n ding by die naam. Sy word gestraf omdat sy tieties op ’n papierpop teken. Sy het ’n hart vir hoenders. Sommige stories is oor mense wat sy raakgesien of verbeel het. Die verhale word gekenmerk deur humor en deernis en ’n oog wat nie wyk nie, wat immer die ironiese besonderheid waarneem.

Wini Esterhuizen is boervrou op Koës in Namibië. Sy is ’n alleenmens en skryf al jare stories. Sy is ook ’n uitmuntende amateurfotograaf, met ’n goedkoop kamera. In haar fotografie sowel as haar stories is haar oog vir detail duidelik en haar gekantelde kop. Sy het eenmaal op ’n kunswedstryd op laerskool eerste prys vir haar tekening van haar troetelhaan gewen. Sy het die prys voor Marlene Dumas weggeraap, wat slegs eervolle vermelding gekry het. Wini is ’n reisiger van stofpaaie en duine, ’n optekenaar en vergaarder van stories.

Die Rietrotte en die raaisel 3 – Nerine Ahlers
Dis die eerste oop naweek vir die graad 8’s. Maar Daniël, Malebo en Antonie is gehok, met juffrou Faure van alle mense as die onderwyseres aan diens! Almal weet sy is so koud soos ’n vrieskas. Reg om jou plat te vee sonder om ’n oog te knip. Wat as Joachim reg is en sy Pieter laat verdwyn het?

En dan is daar die mans met die swart pakke – wat niemand wat iets van hulle af weet lewend sal los nie … Wat sou dit wees waarna hulle soek? Hoërskool is nie vir sissies nie!

Nerine Ahlers matrikuleer aan die die Hoërskool Menlopark en studeer verder aan die Universiteit van Pretoria, waar sy ’n MA-graad verwerf. As gekwalifiseerde taalonderwyseres gee sy Frans op hoërskool.

Nerine en haar man woon in Pretoria. Hulle het twee dogters. Sy skryf ook sketse, kortverhale, tienertoneelstukke en radiodramas. Sy is mal oor lees en skryf, vertaalwerk, stap en hou graag vakansie by die see en in die wildtuin saam met haar gesin.

Sy is die skrywer van Onkant en medeskrywer van Liefde is …, Ek en jy, Weg en die gewilde SSS-reeks wat insluit Selfone, skelms en sjokolade; SMS’e, skurke en spinnekoppe; Sepiesterre, sokkies en skobbejakke; Seesand, sonbrille en smokkelaars; Spoke, speurders en straatkafees; Skaduwees, skatte en skelmstreke en Soene, sonroom en seestrome. Liefde is … en Selfone, skelms en sjokolade ontvang albei ATKV-Kinderboektoekennings.

Wanneer gode slaap – Erwin Mortier
Met sy vyfde roman, Wanneer gode slaap, kruip die Vlaamse outeur Erwin Mortier onder die vel in van Helena, ’n byna honderdjarige vrou wat probeer om herinneringe om te skakel in taal. Sy kyk terug op haar kinderjare, die liefdes wat sy geken het, haar huwelik en haar ervarings van die Eerste Wêreldoorlog – in België die “Groot Oorlog” genoem – wat sy saam met haar ma en broer in Noord-Frankryk meegemaak het. Daar het sy egter ook haar man, die Britse soldaat en oorlogsfotograaf, Matthew, ontmoet en aan sy sy die gruwels van die oorlog met haar eie oë gesien. Gaandeweg ontstaan ’n intieme panorama van haar vaderland en ’n gelaagde en gestileerde teks wat ontgin wat en hoe daar nog verder oor die Eerste Wêreldoorlog geskryf kan word.

’n Teks wat afspeel op die raakvlak tussen groot geskiedenis en intieme menselewens, taal en buitewêreld, verbeelding en werklikheid, geskiedskrywing en poësie en wat vorm gee aan die onvermoë van woorde om werklik kontak te maak met ander. Hierdie roman is nie oor groot gebeurtenisse tydens die oorlog nie, maar die effek wat dit op gewone mense gehad het.

Die Belgiese outeur Erwin Mortier is in 1965 gebore en het in 1999 opslae gemaak met sy debuutroman Marcel. Hierdie roman het talle pryse gewen en is vir die mees hoog aangeskrewe Vlaamse en Nederlandse literêre toekennings genomineer. Sy daaropvolgende romans, waaronder Mijn tweede huid, het hom as een van die leidende outeurs van sy generasie gevestig. In 2009 ontvang hy die AKO Literaatuurprys vir Godenslaap.

Die knorrige kwêvoël – Julia Donaldson
“Kwêvoël sit rustig in haar nes hoog daar bo, met haar grys opwipkuif en haar wakker kraaloë.”
Die ander voëls wil graag met haar speel en gesels, maar Kwêvoël wil net uitgelos word. Toe sy egter in die moeilikheid beland, besef Kwêvoël dat ons almal ’n vriend of twee nodig het.

Julie Donaldson het van die wêreld se mees geliefde prenteboeke geskryf, soos die The Gruffalo (in Afrikaans deur Philip de Vos vertaal as Die goorgomgaai) en What the Ladybird Heard. Van 2011 tot 2013 was sy Brittanje se Children’s Laureate en het sy ’n Orde van die Britse Ryk ontvang vir haar bydrae tot kinderliteratuur. Julia en haar man, Malcolm, verdeel hul tyd tussen Wes-Sussex en Edinburgh en reis graag. Julia was baie in haar noppies toe sy tydens ’n besoek aan Suid-Afrika die geroep van ’n kwêvoël met haar eie ore gehoor het, maar sy is glad nie so gretig om ’n honger grypklouvoël teë te kom nie.

Catherine Rayner is ’n bekroonde skrywer en illustreerder. Sy het illustrasie aan die Edinburgh College of Arts gestudeer, en woon steeds in dié stad saam met haar man en twee seuns. In 2008 is Catherine aangewys as een van BookTrust se tien Beste Nuwe Illustreerders, en in 2009 het sy die gesogte CILIP Kate Greenaway-medalje gewen.

Jaco Jacobs het die boek vertaal. Jaco het B.A. Kommunikasiekunde en sy honneurs in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi, voordat hy by Volksblad in Bloemfontein begin werk het, en daarna as uitgewer by ’n bekende uitgewery. Deesdae spits hy hom voltyds op skryf- en vertaalwerk toe. Hy het sy eerste boek, Pretpark, reeds aan die einde van matriek geskryf (hoewel dit eers heelwat later gepubliseer is). Sy eerste boek wat verskyn het, was Troetelgedrog (2001). Sedertdien het hy al meer as 170 boeke vir kleuters, kinders en jong volwassenes geskryf. 

Die goorgomgaai – Julia Donaldson
Vandat Die goorgomgaai die eerste keer 20 jaar gelede as The Gruffalo verskyn het, het dit ‘n internasionale klassieke kinderboek geword. Meer as 13.5 miljoen kopieë van die boek is wêreldwyd verkoop. Dit is in 76 tale wêreldwyd vertaal.

“’n Muis gaan stap deur die donker bos.
’n Vos sien die muis en hy dink aan kos.”

Loop verder saam met die vindingryke muis deur die donker bos en ontdek wat gebeur wanneer hy ’n vos, ’n uil én ’n honger goorgomgaai raakloop…

Julia Donaldson is een van die top kinderboekskrywers wêreldwyd. Sy was die VK se Children’s Laureate van 2011 tot 2013 en het al meer as 100 boeke vir kinders geskryf. Haar boeke het al verskeie pryse gewen, onder andere die Red House Children’s Book Award en die Blue Peter Award. Sy woon in Glasgow, Skotland, saam met haar man, Malcolm.

Axel Scheffler is ’n illustreerder van top internasionale kinderboeke. Sy illustrasies is in meer as 30 lande gepubliseer en sy werk word wêreldwyd uitgestal. Hy is veral bekend vir The Gruffalo en Zog and the flying doctors. Hy woon in Londen, Engeland.

Ander titels van dié skrywer-en-illustreerder-paar wat in Afrikaans by Protea Boekhuis beskikbaar is: Superwurm (2014), Rower Rot (2014), Kris de Kat (2014), Tjokkie (2014), Zok (2014), Stokman (2014, 2016), Die Stories uit die Eikehout (2016) en Amok op ’n besemstok (2018).

Philip de Vos (1939) is die vertaler van hierdie boek. Hy is veral bekend as fotograaf, skrywer en digter. Hy doen baie rymvertalings en het heelwat lirieke vir animasieprogramme op TV geskryf. Hy is ook al bekroon met die ATKV-kinderboektoekenning (1989), M.E.R.-prys (1996) en die Alba Bouwer-prys (1998). In 2004 het hy ’n IBBY-toekenning ontvang vir sy vertaling van Die spree met foete.

Die vyfde mevrou Brink – Karina M. Szczurek
Die vyfde mevrou Brink is Karina M. Szczurek se memoir van haar lewe voor, tydens en ná haar huwelik met André P. Brink. Die Pools gebore Karina was sewe-en-twintig toe sy dié bekroonde skrywer, twee-en-veertig jaar ouer as sy, ontmoet het en hulle daarna ’n dekade lank bymekaar was. Sy skryf oor hulle verhouding: van die eerste ontmoeting in Wene, Oostenryk, haar verhuising oor vastelande heen om by hom te wees in Kaapstad, hoe sy standvastigheid in hulle huwelik gevind het, tot hoe sy uiteindelik die uitdagings van André se kwynende gesondheid in die laaste paar jare van sy lewe moes hanteer.

Hierdie openhartige vertelling is die verhaal van twee skrywersgeeste – ’n huldeblyk aan ’n huwelik wat tragies kortgeknip is, maar ook aan ’n liefde wat ’n leeftyd sal hou. Die boek is uit die Engels (The Fifth Mrs Brink) vertaal deur Erika Viljoen.

Karina is in Jelenia Góra, Pole, gebore en het in Oostenryk, die VSA en Wallis gebly voordat sy ’n tuiste in Suid-Afrika gevind het. Sy is ’n redakteur, skrywer, literêre kritikus en die stigter van Karavan Press, ’n onafhanklike uitgewershuis. In 2020 vestig sy die Philida-letterkundeprys wat jaarliks toegeken word aan oeuvres wat literêre uitnemendheid toon. Sy woon in Kaapstad met haar katgesin.