– Lia Snijman. Foto: Van Joandre Cloete se kuikens wat sy verkoop.

Joandre Cloete kom oorspronklik van Idasvallei af en het in bestuursposisies gewerk. Nou is sy ‘n hoenderboer in Joostenbergvlakte met haar eie besigheid, Our Poultry Place.

“My hart is nog beslis in Stellenbosch,” sê sy. Beide haar kinders gaan ook skool op die dorp.

Cloete was deel van die korporatiewe wêreld, maar sy sê dis nou “geen lipstiek en lang naels” vir haar nie. Sy het in 2016 begin met die projek, want sy was op kraamverlof vir haar tweede seun. Die minder geld wat sy gemaak het en haar algemene rusteloosheid, het haar na boerdery gedryf. Sy is wel steeds ‘n deeltydse student in besigheidsbestuur.

Hoekom hoenders spesifiek? “Vet weet, ek sou nie ‘n kalfie kon groot maak nie,” lag sy. Sy verduidelik dat kalfies te lank vat en dat dit is soos om ‘n ekstra kind te hê. Sy noem hoenders haar “passion project”.

Sy het aanvanklik in die informele nedersetting Mfuleni geboer, maar sy moes haar besigheid begin vergroot en daar was nie meer genoeg ruimte nie. Sy sê sy kon nie munisipale grond gehuur kry in Stellenbosch nie, so toe het sy in Joostenbergvlakte grond begin huur. 

Joandre Cloete op haar plaas.

Joandre Cloete op haar plaas.

Die kuikens is in hul verhittingstoestel.

Die kuikens is in hul verhittingstoestel.

Sy is al van 2017 af op die landelike ontwikkelingsdatabasis, maar het nog niks so bekom nie.

Sy het ook reeds in 2016 vir Stellenbosch-munisipaliteit gekontak oor hulp vir die huur van grond vir landboudoeleindes, maar hulle kon haar nie help nie en sy het dus self begin soek. Dis hoe sy in Mfuleni beland het. Sy produseer omtrent 2000 kuikens elke 2 weke. Sy noem dat grond maar ‘n groot kwessie bly. As sy haar eie stuk grond kan besit en nie hoef te huur nie, sal sy meer stabiliteit en sekuriteit hê.

Toe voëlgriep in 2017 die Wes-Kaap getref het, kon broeierye nie boere veel help nie. Cloete het die gaping in die mark gesien en vir mense kuikens begin voorsien. Sy het gevorder na 4000 tot 8000 kuikens per week. Boonop mentor sy nog sowat 200 opkomende boere. Sy sê hulle is almal in die Kaapse Wynlande, nes haar boergemeenskap en kliënte.

Sy beskryf Our Poultry Place as ‘n “one stop chicken shop”. Sy vertel dat sy alles daar aanhou wat enigiemand sal nodig hê vir die produksie van batteryhoenders (die tipe hoender wat mense eet), vanaf voer tot produkte om die hoenderhok skoon te maak. Sy doen ook konsultasie vir diegene wat vir die eerste keer met hoenders begin boer. Sy sê dat dit op die oomblik baie goed gaan met die winkel en voeg by: “My foon is gewoonlik soos ‘n call centre.”

Sy sê sy het vier jaar gelede die naam vir haar besigheid gekies, maar dat sy nie kon weet dit sal regtig tot sy reg kom nie. Volgens haar is dit “eintlik fantasties”. 

'n Gedeelte van die hoenderplaas.

‘n Gedeelte van die hoenderplaas.

Sy wil egter nie stop by haar huidige sukses nie en wil nog graag ‘n werkswinkel aanbied vir mense oor hoe om met hoenders te boer. Sy glo dat dit belangrik is vir mense om te sien wat hulle alles gaan moet doen, want mense het ‘n “droom en ‘n visie”, maar party s’n “raak ‘n nagmerrie”. Hulle moet weet dat hulle aktief betrokke moet wees en nie sommer vinnig gaan kan ryk raak nie, veral nie sonder harde werk nie, sê Cloete.

Boonop wil sy kinders help opvoed oor boerdery, want sy voel dat skole net op buitemuurse aktiwiteite fokus wat meer glansryk is in plaas van meer noodsaaklike aktiwiteite soos landbou. Sy hoop dat die onderwysdepartement die belangrikheid van landbou sal raaksien en die kinders betrokke kry. Cloete wil graag volgende jaar na skole gaan om hulle op te voed en sal ook graag ‘n maatskaplike program begin in die landelike gebiede in “my dorp, Stellenbosch”. Sy sê dat as sy vir een persoon kan leer hoe om te boer, dan kan hulle hulself voed en ook hul bure.

Sy wil graag vir kinders van ‘n jong ouderdom af blootstel aan landbou, want alhoewel dit nie glansryk is nie, kan dit wel winsgewend wees. Sy sê ook dat dit belangrik is vir ‘n gesonde nasie – in terme van gesondheid en die ekonomie. Sy praat verder oor hoe alle produkte van hoenders herwinbaar of hergebruikbaar is, byvoorbeeld hoendermis maak goeie kompos vir gewasse.
Nog van haar toekomsplanne is om ‘n voerfabriek en ‘n broeiery met dag-oue kuikens te begin in Stellenbosch om haar dienste vir die boere in haar area te kan bied.

Sy sê daar is ‘n verandering onder verbruikers wat nou meer bewus is oor gesondheid en volhoubaarheid. Dit pas haar goed, want haar kuikens is almal vrylopend. Haar boerdery is al semi-kommersieel en sy is ‘n lid van die Stellenbosse Landbougenootskap. “Ek is geëerd om ‘n lid van ‘n organisasie te wees met so baie jare van ondervinding in die landbousektor,” sê sy oor die landbougenootskap.

Cloete is op die oomblik besig met SAB Tholoane se program waar haar besigheid een van 64 is wat deurgedring het uit ‘n poel van 3500 entrepreneurs. Dit fokus op die ontwikkeling van besighede en as deel van hierdie ontwikkeling het sy ‘n mentor gekry.

Sy verduidelik in die geval van die mense wat sy mentor, is “hulle sukses ook my sukses”. Sy sê sy het ongelukkig nie kapitaal om oor te dra aan hulle nie, maar sy het wel kennis. Sy sê altyd vir die opkomende boere: “Vergeet van Google, want ons doen dit nie soos kommersiële boere nie.” Sy moedig hulle eerder aan om vir haar te vra. “Laat ek jou beste vriend wees,” sê sy.