– Danie Keet. Bo: Een van Stellensport se netbalspanne. Voor van links: Keesha van Schalkwyk, Adri Carstens, Jo Prins. Agter van links: Lenka Steenkamp, Alison Malgas, Abelien Olivier, Vanes-Mari Du Toit Proudfoot, Sasha-Lee Petersen, Eliska Kühn, Lara Steenkamp.

Die pad is nou oop vir StellenSport om met sy netballiga voort te gaan nadat ‘n vergadering tussen NetballSA en StellenSport die afgelope naweek suksesvol afgehandel is.

“Ons het onduidelikhede uit die weg geruim en hopelik kan ons nou voortgaan met verdere beplanning vir die liga, die eerste ernstige netballiga in Suid-Afrika,” sê Freda Kemp, hoof uitvoerende beampte van StellenSport.

“Daar was aanvanklik onsekerheid oor die liga en hoe dit by die nasionale netbalprogram gaan inskakel. Ons het nou alle haakplekke met ons kommunikasie uitgestryk en kan nou voortgaan met ons beplanning. Ses van die presidente van die Wes-Kaapse netbaldistrikte wat by die liga betrokke sal wees, was ook by die vergadering en ons is nou almal op dieselfde bladsy – insluitend die president van Netball SA, Cecilia Molokwane, en Blanche de la Guerre, Netball SA se uitvoerende hoof. Die vergadering is gelei deur Bennie Saayman, president van die Wes-Kaapse netbaldistrik.

“Ons het ons aangepaste planne en skedule aan Netball SA gestuur en hoop om later vandeesweek nog ’n finale goedkeuring vir ons liga te kry. Die liga sal baie vir Suid-Afrikaanse netbal beteken en ons die kans gee om netbal van laerskoolvlak af op professionele wyse te ontwikkel en nuwe geleenthede vir ons netbalspelers te skep. Ons gaan ook Molokwane se slagspreuk ‘om netbal na die mense te neem’ by ons bemarkingsaktiwiteite betrek,” het Kemp gesê.

De la Guerre het dit bevestig en by navraag gesê dat die vergadering goed afgeloop het en dat almal nou presies weet wat die doelwitte is.

“Daar is nog ‘n paar punte wat uitgestryk moet word, en dan sal ons weer vergader om finaliteit te bereik,” het sy gesê.

 Die StellenSport Premier Netballiga sal oor ‘n tydperk van 14 weke gespeel word, met uitspeelwedstryde en ‘n finaal om die kampioen te bepaal.

Freda Kemp, die hoof uitvoerende beampte van StellenSport.

Freda Kemp, die hoof uitvoerende beampte van StellenSport.

 Aanvanklik is daar beplan om die liga reeds in September af te skop, maar weens die Covid-19-pandemie moes die planne aangepas word.

Die toernooi sal deur die 10 premier netbalspanne uit al die distrikte van die Wes-Kaap gespeel word en die getal spanne per distrik is gekies op grond van die grootte van die distrikte en die geregistreerde netbalgemeenskap wat deel is van die Wes-Kaapse netbalfederasie. Drie spanne van die Kaapstad-distrik, drie van die Kaaspe Wynlande, en een span elk van die Overberg, Eden, Weskus en sentrale Karoo, gaan deelneem.

Daar word ook beplan om ‘n junior klubliga te begin met spanne van o.14-, o.16-, en o.18-spelers wat hieraan sal deelneem.

Die 10 spanne is: Kaapse wynlande (Falcons, Eagles en Swifts), Kaapstad (Seahawks, Blue Birds en Blue Cranes), Weskus (Penguins), Overberg (Flamingos), Sentrale Karoo (Larks) en Eden (Robins).