– Lia Snijman. Bo: Stellenbosch Hospitaal. Foto: Google street view.

“Die verbod op verkoop van alkohol wat heringestel is, bied wel verligting aan noodeenhede en ‘n merkbare afname in traumagevalle word tans bespeur. Dit was ook die geval toe die verkope van alkohol vroeër verbied is.”

Dit is wat die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement by monde van hul kommunikasiebeampte, Leensie Lötter, sê.
“Die coronavirus-pandemie plaas reeds groot stremming op ons noodeenhede en met die bykomende las van alkoholverwante trauma en tyd wat in die noodeenheid spandeer word, asook baie beperkte teatertyd, verkeer die noodeenheid onder geweldige druk om nooddienste betyds te kan lewer wanneer die verkoop van alkohol wettig is,” sê sy.

Lötter het verder genoem dat hul departement die gemeenskappe in die Kaapse Wynlande wil herinner dat die hospitale se noodeenhede slegs vir noodgevalle gebruik moet word. “Ons versoek asseblief pasiënte om, waar gepas, eers hul plaaslike kliniek of gemeenskapsorgsentrum te besoek voor hulle na die noodeenheid kom. Hou asseblief in gedagte dat dit nie die noodeenheid se rol is om siekbriewe uit te reik nie, maar om in werklik lewensbedreigende omstandighede op te tree,” sê sy.

Sy verduidelik dat hulle nou ‘n verwysingsbeleid het wat mense wat nie noodsaaklike gevalle is nie, na primêre gesondheidsorg verwys.

Stellenbosch Hospitaal se toets- en sorteereenheid is amper gereed en sal help met die sorteer van Covid-positiewe pasiënte sodat hulle nie onnodig in kontak kom met mense nie.