– Hilton Biscombe.

Dis sonde om so ver weg van mekaar net soos die veraf verlate gelëe windmeuelens innie Karoo  te leef. Dis mos waar die stof en son maters is en die plaasdam net modder oplewer, waar paddas diep skuiling soek as hulle wag vir die belofte van water.

Net hierdie belofte is alreeds ‘n teken van voorsienigheid, waar die versugting altyd beteken dat dit goed is om te lewe. Die lewe dan, net soos in die wêreld van paddas,’n wegglip-kans wat verskansing bied teen die eerlikheid van die liefde wat somtyds seker maar ‘n seerstorie kan wees, want dit vra ‘n oopbreekplesier wat nie sommer ooglopend is nie.

Soos ‘n granaat wat oopgebreek word met talle rooi pitjies, soet met ‘n effense bitter nasmaak of soos ‘n geboorte, enige geboorte wat wegbreek na die lig toe.

‘n Blootstelling en kwesbaarheid soos ‘n bokkie wat bewe voor ‘n jagter se aanslag. Dan, die bloed, as hy kolskoot tref, as ‘n vloeibare kern van bloed-warmte wegkwyn in die barre aarde in. Maar tog bied dit nog altyd lewe, in die vorm van voedsel, as dit onsigbare organismes voed wat in ‘n eie mikro-wêreld leef, maar tog deel is van die groter geheel.

Dis die liefde. ’n Groot woord. Dis waar, dit omvat alles. Deur en deur. Van deur tot deur en hart tot hart soos ons leef en probeer om mekaar oor kunsmatige grense heen te vind.

Dis eers later as dit soos ‘n onsigbare gewete sukkel om geskryf te word, maar tog uiteindelik die deurleefde woorde op oudag vind in die verkalking van are en die skermutseling in die brein as dit toegee in die wêreld van vergeet met Alzheimers se siekte.

’n Verlangse hopie onmin wat nou die vrede probeer vind in woorde wat belangrik is, maar al hoe skaarser raak. Veral vir diegene wat luister, want nou praat die liefde die sterkste in fluisterings waar die oor fyner ingestel moet word om te luister na die byna onhoorbare fluswoorde van stukkies memories wat soos spikseltjies op die horison van die gewete verskyn en verdwyn.

“Ek het lief”, is die onsigbare, maar stom, minnewoorde in die oë van ons geliefdes as ons ook ons eie refleksies daarin sien en wonder oor die grootste van alles as dit losgemaak word van alle dinge en ons tot oordenking roep.

Dis dan dat ons ons geliefdes met vertroue in Sy omhelsing plaas as ons probeer om die liefde weer, in die kringloop van die lewe, te vind, en met ons eie gewetensreis, Via Dolorosa, in hierdie mooie land te reis en weet dat alles goed in God se hande is.

En nou met Covid-19, met sy dodelike inslag, vra dit nog baie meer as ons waarneem hoe sterftes regoor die wêreld plaasvind en dat ons almal maar kwesbaar is en baie bewus raak van ons eie sterflikheid. Maar natuurlik bly hoop, wat omvat word deur die liefde, ons steun, as ons ons vertroue plaas in die God van ons harte.

Dis maar ‘n treurige gesig as ons deur middel van ‘n lugbeeld al die groot getal grafte in Brasilië waarneem en jou ontstig, soos net die dooies kan. Blaam sal nie veel help nie, maar onverskilligheid soos met die geval van die pres. Bolsonaro van hierdie land wat nou geforsfeer word om masker  te dra deur wetgewing. Deur sy bravade het hy ook nou die virus opgedoen.

Trump, wat sy bondgenoot is, hou steeds vol met sy ‘kanades asof hy die duiwel se gesant is en die korpsgees van die wêreld wil beheer. G’n wonder dat sy eie bloedniggie na hom verwys as ‘n sosiopaat in haar nuwe boek oor hom nie. Trump gebruik mindgames om ander te beheer en maak impulsiewe besluite en voel nie skuldig oor kwaad wat hy aan andere doen nie.

Hierdie mans leef in ‘n wêreld wat hulle self skep en besef nie dat “wat jy aan andere doen, jy ook aan jouself doen”, maar dan is daar ook die goeie stories waar goeie mense met ‘n hoë etiek omgaan in die brëer gemeenskap.

Die uitdeel van kospakkies en die algemene armoedeverligting kan net goed vir die mensdom inhou as jy waarneem hoe andere regoor die wêreld dit doen. Uiteindelik kry ons die boodskap van Jesus wat die skare bedien het met genoeg brood en vis wat seker maar die boodskap tuisbring dat die Bybel nog net so relevant in 2020 is vir ons probleme, wat nou wil blyk dat dit onoorkomlik is.

Nee, ek’s nie ‘n predikant nie en nee, ek hou nie veel van sedeprekies nie, maar die duisende voorbeelde van die goedgunstigheid regoor die wêreld doen mens goed om gereken te word as deel van die mensdom.

Die Dalai Lama het dit reg as sy wysheid van toepassing is op die human condition. The I that is we…

We must conceive of ourselves as part of one community. We must support that one humanity through own spiritually-based community, and not put our own ahead of that community. If we want a better world, we must act now.

Laat liefde sigbaar, nog meer raak, as die julle, ons raak as hulpverlening die liefde nog meer liggaam in hierdie mooie wêreld gee.

Moedhou dus, aan alle Suid-Afrikaners, die dans van donker en lig sal altyd met ons wees en mag ons nooit vergeet dat ons LIG is en dus grensloos! Laat ons ope arms na mekaar strek wat uiteindelik sal lei tot die heling van hierdie skone, maar geknelde land en die uiteindelike wegvlug van die Covid-19 virus, deur ons toedoen.

StellenboschNuus.com weerspieël ‘n verskeidenheid opinies. Die menings in die stuk is die van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig die mening van StellenboschNuus.com nie.