– Pietman Retief. Bo: Die Ou Landbousaal in Die Laan. Foto: Elsabe Retief.

Een van die vergete, en amper verlate, historiese geboue in Stellenbosch is skielik herontdek en het selfs in hierdie moeilike tye weer lewe gekry. Wat meer is, die beloftes om betrokke te wees by die herontwikkeling van toerisme na Stellenbosch is ‘n wesenlike mootlikheid.

Sekerlik die belangrikste area van historiese waarde in die geskiedenis van Stellenbosch as dorp is waar Simon van der Stel een oggend in November 1679 wakker geword het in ‘n beboste area op die walle van die rivier, wat toe reeds sy naam as Eersterivier ontvang het. Hy het summier die plek sy naam gegee – Van der Stel se bosch!

Die Drostdy, en later die Kweekskool, het tot hierdie dag belangrikheid en bekendheid aan hierdie spesifieke omgewing gegee.

Sowat drie eeue later het egter nog ‘n gebou bygekom toe die landboubedryf ‘n geleentheid gesoek en gekry het om hul produkte bekend te stel. Landbouskoue was algemene praktyk vir baie jare, en die area langs die Eersterivier in die Laan is teen die einde van die 1800’s ontwikkel om vir hierdie behoefte te voorsien. Genaamd Menagerie, was dit die plek waar landbouprodukte, diere en voēls uitgestal is.

Die behoefte het ook ontstaan om konfyte, koeke en ander gebak uit te stal, wat gelei het tot die bou van die saal in 1908 nadat die gebied aan die munisipaliteit oorhandig is.

Anna Kruger wat Ithemba Crafts vanuit die Ou Landbousaal bestuur, asook Crafts Alive, ‘n mentorskaprogram vir kunsvlyt-entrepreneurs. Foto: Elsabe Retief.

Anna Kruger wat Ithemba Crafts vanuit die Ou Landbousaal bestuur, asook Crafts Alive, ‘n mentorskaprogram vir kunsvlyt-entrepreneurs. Foto: Elsabe Retief.

Nana Wagner en Karen Platter by voorbeelde van viltwerk wat in die Ou Landbousaal gemaak word. Platter bied tans viltwerkklasse in die Ou Landbousaal aan. Foto: Elsabe Retief.

Nana Wagner en Karen Platter by voorbeelde van viltwerk wat in die Ou Landbousaal gemaak word. Platter bied tans viltwerkklasse in die Ou Landbousaal aan. Foto: Elsabe Retief.

Deur die jare is die Ou Landbousaal gebruik vir ‘n verskeidenheid van doeleindes soos danse, etes, troues, sport soos pluimbal en rolskaats, selfs politieke partye se aktiwiteite en musiekuitvoerings. Buite die saal was daar ‘n outydse “band stand” waar blaasorkeste op Sondagmiddae gespeel het.

Vanaf die 1930’s het die Ou Landbousaal egter sy aantreklikheid verloor en die gebou het so bouvallig geword dat daar oorweeg is om dit te sloop, wat gelukkig nie gebeur het nie.

Die Stellenbosch Museum het in die 1960’s belangstelling getoon in die moontlikheid om ou landbou-implemente daar ten toon te stel, wat geblyk het onprakties te wees. Daar word steeds artifakte gestoor wat deur argeoloog Hennie Vos opgegrawe en aangeteken is.

Die hulp van Peter Barlow van Rustenberg-wynlandgoed is deur die museum ingeroep en R20 000 later was die Ou Landbousaal  geskik om ‘n uitstalling van Stellenbosch se geskiedenis uit te stal  tydens die Drie-eeuefees in 1979.

Ná nóg ‘n periode van agteruitgang is die gebou onlangs opgeknap en geverf. Nou vind die verbygangers die deure oop, met genoeg parkering, koffie en buitemuurse sitplekkies.

Die eerste om onlangs in te trek was die Stellenbosch Trail Fund, wat betrokke geraak het by die ontwikkeling van fietsroetes teen Stellenboschberg en elders. Dit het tot gevolg gehad die betrokkenheid by die skoonhou van die rivier en selfs die aanplant van inheemse bome.

Meer onlangs het Adventure Shop ingetrek, wat betrokke is by die bevordering van toerisme, fiets- en staptoere, Vinehopper se privaattoere, en nou selfs E-bike se verhuring van elektriese fietse.

Net so opwindend was die onlangse intrek van Crafts Alive, ‘n projek van Anna Kruger om kunsontwikkeling te bevorder in die verskillende gemeenskappe van Stellenbosch. Die motivering is om kunstenaars uit die gemeenskappe die geleentheid te gee om hul talente te ontwikkel, in produksie te gaan en daardeur ‘n inkomste te verdien.

Daar word nou saamgewerk met die Stellenbosch Kunsvereniging in hierdie verband.

Met die geskiedenis van die landbouskou in gedagte was dit logies dat die aanbod van tradisionele geregte ook aandag sou geniet, en nou word ligte ontbyt- en middagetes ook aangebied. Kokke uit die verskillende gemeenskappe in en rondom Stellenbosch kry nou ‘n geleentheid om hul produkte uit te stal en daardeur ‘n inkomste te verdien.

Kultuur- en kunsverenigings word ook genooi om hul vergaderings en werksessies hier te kom hou. So herleef die Ou Landbousaal as ‘n middelpunt van kulturele- en ontspanningsaktiwiteite vir die hele gemeenskap.