– Universiteit van Stellenbosch. Bo: ‘n Kaapse pelsrob van ongeveer 3 jaar oud besig om te drink. Die kalf in die voorgrond is ongeveer 5 maande oud. Foto: Anna N Osiecka/Sea Search.

Sommige Kaapse pelsrob-ma’s (Arctocephalus pusillus pusillus) kan hulle kalfies vir veel langer soog as wat voorheen aanvaar is, en daardeur waarskynlik so hul afstammeling se kans op oorlewing vergroot.

Die waarneming van hierdie ongewone gedrag is nou gepubliseer in die vaktydskrif African Zoology in ‘n artikel getiteld “Prolonged nursing in Cape fur seals (Arctocephalus pusillus pusillus) at Cape Cross colony, Namibia”.

Navorsers betrokke by die Namibiese dolfyn-projek, ‘n navorsingsprojek wat deur Sea Search Africa onderneem word, het hierdie waarnemings gemaak by die kolonie wat hou by Kaap Kruis in Namibië. Kaap Kruis is een van die wêreld se grootste broeikolonies van Kaapse pelsrobbe en bestaan uit byna 210 000 diere. Terwyl die robbulle slegs teenwoordig is gedurende die broeiseisoen, bly die robkoeie met hul kroos heeljaar lank by Kaap Kruis, en jag in die waters van die omgewing.

Superma: 'n Kaapse pelsrobkoei soog 'n jaaroue babakalf (regs) en 'n 2-jarige kalf tegelykertyd. Foto: Anna N Osiecka/Sea Search.

Superma: ‘n Kaapse pelsrobkoei soog ‘n jaaroue babakalf (regs) en ‘n 2-jarige kalf tegelykertyd. Foto: Anna N Osiecka/Sea Search.

Robwelpies word nou waarskynlik langer gesoog. Foto: Anna N Osiecka/Sea Search.

Robwelpies word nou waarskynlik langer gesoog. Foto: Anna N Osiecka/Sea Search.

Dr Anna Osiecka, hoofouteur, sê Kaapse pelsrobbe speen hulle kalfies normaalweg binne die bestek van ‘n jaar.

“Dit wil voorkom asof sommige verkies om hierdie band met hulle kalfies vir langer te bou, of om selfs onverwante kalfies te soog. Aangesien robmelk baie ryk aan vet en proteïen is, kan hierdie ekstra ‘verniet’-kos so ’n kalf ’n voorsprong gee. Jong robbe kry op hierdie wyse die kans om groter te word en sodoende hulle kans op oorlewing te vergroot, alvorens hulle die wye wêreld op hul eie hoef aan te durf.”

“Vir manlike kalfies kan dit beteken dat hulle ’n groter kans het om ’n trop te beskerm en ’n nageslag te kan hê wanneer hulle volgroeid is, aangesien groter bulle neig om meer suksesvol hierin te wees,” verduidelik sy.

Wat ons weet oor moedersorg onder Kaapse pelsrobbe?

Kaapse pelsrobbe is die enigste robbe wat in Suider-Afrika aanteel, binne ’n gebied wat strek vanaf suidelike Angola tot Port Elizabeth in Suid-Afrika. 

“Hierdie diere is gedurende die vorige eeu tot op die rand van uitsterwing gejag, maar met die nodige toepaslike beskermingsmaatreëls het hul getalle herstel en is hulle nou volop oor die hele verspreidingsgebied,” sê dr Simon Elwen, ’n mariene soogdierdeskundige, en direkteur van Sea Search.

Wanneer hulle volwassenheid bereik, skenk elke vroulike Kaapse pelsrob jaarliks geboorte aan een enkele kalf.

Die Kaap Kruis-kolonie in Namibië bestaan uit ongeveer 210 000 robbe. Foto: Danie Keet.

Die Kaap Kruis-kolonie in Namibië bestaan uit ongeveer 210 000 robbe. Foto: Danie Keet.

Kalfies word gespeen teen 10 tot 12 maande en indien hulle vroeër van hulle ma’s geskei word, veroorsaak dit dikwels hulle dood. Ten einde hierdie lang soogtydperk te kan volhou, spandeer ma’s byna die helfte van die tyd in die see op soek na kos, terwyl hulle die kleingoed alleen op land agterlaat in groot jongelinggroepe.

Volgens dr Tess Gridley, ’n nadoktorale genoot by die Universiteit Stellenbosch se departement plant- en dierkunde, is Kaapse pelsrobbe ’n fassinerende spesie. Sy lei die navorsingsprojek oor hulle biologie en gedrag in Suid-Afrika en Namibië.

Osiecka sê die waarnemings bewys dat ma-en-kind-verhoudings nie so eenvoudig is as wat voorheen aanvaar is nie.

“Koeie kan aanhou om hulle ouer kalf te soog indien die huidige jaar se kalf doodgaan of dood gebore word. Dit is tot groot voordeel van die ouer kalfies: hulle kan vinniger groei en dit sal uiteindelik hulle kans op oorlewing en voortplanting as volwassenes verhoog.”

Dit impliseer ook dat robbe hul familielede oor ’n tydperk van jare heen kan herken en hulle sosiale bande kan behou.

Alhoewel dit fisies baie van haar verg, kan ’n koei ook by ’n verlengde soogtydperk baat. Die feit dat sy van oortollige melk ontslae kan raak, voorkom mastitis en in sommige gevalle kan dit eenvoudig meer doeltreffend wees om ’n ouer, gesonder afstammeling te ondersteun.

“In sommige spesies verhoed die soogproses toekomstige swangerskap  – ons weet nog nie of dit wel die geval is by Kaapse perlsrobbe nie, maar indien wel, kan ’n verlengde soogtydperk ook ’n jaar sonder ’n swangerskap tot gevolg hê wat die koei in staat sal stel om haar fisieke welstand te  herstel voor ‘n volgende swangerskap,” sê Osiecka.

Verlengde soogtydperke is al by ander pelsrobbe waargeneem, alhoewel dit dikwels toegeskryf is aan “melkdiefstal” of aan persoonsverwarring waar koeie onverwante kalfies soog.

“Dit is nie waar in die geval van ons waarnemings nie. In al hierdie gevalle was die robkoeie bewus van die situasie en het sy dit toegelaat – al snuifend aan die suigeling. Dit is hoe hierdie diere mekaar herken en dit dui daarop dat die koeie die suigelinge ken en aanvaar.”

Osiecka wys egter daarop dat daar steeds baie is om te leer. “Ons waarnemings, en inderwaarheid alle beskrywings van ongewone soogpraktyke in pelsrobbe, is gebaseer op opportunistiese waarnemings. Ons is steeds nie seker oor hoe robkoeie besluit om die afstammelinge vir ’n langer tydperk te soog, en, of hoe, aanneming by hierdie spesie plaasvind nie. Langer, toegewyde studies is nodig om die sosiale dinamika van hierdie diere beter te verstaan.”