– Eunice Visagie.

Bo: Angelo Kerspuy.

Verby is die dae wat belowende jong sokkerspelers Stellenbosch moet verlaat om hul drome van professionele sokker te bewaarheid.

Angelo Kerspuy staan op die Idasvallei-sportgronde se sokkerveld waar die Stellenbosch-sokkerklub (SFC) presies ’n jaar gelede promosie na die Absa Premierliga gekry het deur die Nasionale Eersteliga te wen. Kerspuy het daardie dag die trofee omhoog gelig in wat sy laaste wedstryd as ‘n beroepspeler was. Dit was egter die begin van die volgende hoofstuk in Kerspuy se sokkerlewe.

Die 34-jarige boorling van Idasvallei het net een seisoen vir SFC gespeel, maar is nou die klub se spanbestuurder. Hy kry nou die kans om te sien hoe die teenwoordigheid van ’n professionele sokkerklub besig is om jong spelers se planne vir die toekoms te verander. Voorheen moes belowende spelers na ander groot stede in Suid-Afrika of selfs Afrika trek om hul drome te bewaarheid.

As jongeling moes Kerspuy sy dorp verlaat op soek na ’n loopbaan as professionele sokkerspeler. Hy het tyd in Mosambiek spandeer voor hy 15 seisoene vir Vrystaatse klubs Bloem Celtic (10 seisoene) en Free State Stars (5 seisoene) gespeel het.

“Sokker is in my bloed. In ons hele familie se bloed. Almal speel sokker,” vertel Kerspuy laggend terwyl hy uitkyk oor die veld voor hom.

“Ek was in Laerskool Brückner de Villiers en het gematrikuleer by Lückhoff voor ek by die Noordwes Universiteit se Mafikeng kampus gaan swot het. Dit was egter net tydelik. Al wat ek wou doen is sokker speel en toe die eerste geleentheid hom voordoen het ek dit aangegryp.”

Met die 2018/19-seisoen het die Stellenbosch-sokkerklub nuwe eienaars gekry in die vorm van die Stellenbosch Akademie vir Sport. SAS het ’n drie jaar plan gehad om die klub op te bou en vir die Premierliga te kwalifiseer. Dit het alles egter toe in een seisoen gebeur.

“Ek moet eerlik wees. Voor SAS die klub gekoop het, het ek niks geweet van die Stellenbosch Akademie vir Sport nie. Met die nuus het ek egter begin rondvra en meer probeer uitvind. Ek was immers nog ’n speler van die klub en wou weet wie is nou in beheer. Ek was natuurlik bly dat ’n Stellenbosse besigheid die klub gekoop het, want dit is vir die dorp en sy spelers. Toe ek egter meer begin uitvind en leer wat die transaksie alles behels, was die blydskap en dankbaarheid intens.”

“Dit was die begin van ’n nuwe hoofstuk vir my sport in my dorp. Dit was ook ’n gevoel van UITEINDELIK! Stellenbosch was nog altyd ’n trotse sokker-dorp, maar mense weet dit nie. Nou moet SFC nog net sy tuis-wedstryde hier in Stellies speel, dan is alles soos dit moet wees!”

Dit impak van die klub is egter nie net op die beroepsvlak nie. Daar is die ontwikkelingspan – die Multichoice Diski-span – wat net vir o.21-spelers is. Daar is dan ook die Akademie vir o.14-, o.16- en o.18-spelers.

“Met die bevordering na die Premierliga het daar soveel deure oopgegaan. Nie net vir spelers van Stellenbosch en die Wynland-distrik nie, maar vir alle spelers van regoor die land wat graag wil deel wees van geskiedenis. Dit is hengse groot vir die hele dorp van Stellenbosch.”

Volgens Kerspuy sou dit ongelooflik spesiaal gewees het om in die Premierliga met ’n Stellenbosch-trui te speel, maar die rol wat hy as spanbestuurder vertolk en om te sien hoe die spelers om hom groei, maak alles die moeite werd.

“Ek is nie jaloers op die spelers wat die kans kry wat ek nooit gehad het nie. Dit sal my niks baat nie. Vir my is die belangrikste dat spelers wat nou wel die besonderse kans kry, dit met albei hande sal aangryp en die beste van die geleentheid sal maak.”

Daar is tans vier Stellenbosse-boorlinge wat in die Premierliga-groep is. Hulle is die doelwagters Lee Langeveldt en Keegan Poole en die aanvallende spelers Deano van Rooyen en Ashley du Preez. Langeveldt het soos Kerspuy Premierliga-ervaring by ander klubs gaan opdoen. Van Rooyen en Du Preez het egter danksy SFC hul Premierliga debuut gemaak. Poole moet nog sy eerste verskyning in die Premierliga maak.

“Angelo is ’n hardwerkende persoon. Hy was as speler iemand wat altyd ekstra gedoen het en nou as ons spanbestuurder gaan hy uit sy pad om ons spelers se lewe makliker te maak,” het Du Preez vertel.

“Ons het in dieselfde gemeenskap groot geword en ons het ook vir dieselfde klub, Nelsons FC , gespeel. Ek was baie jonger so het nie in dieselfde span gespeel nie, maar toe hy Idasvallei verlaat om vir Bloemfontein Celtic te gaan speel, het ek besef dat ek ook dit sal moet doen as ek soos Angelo wil wees. Die dag wat Angelo hom by Stellenbosch FC aangesluit het, was een van die gelukkigste dae van my lewe. Hy was immers nog altyd iemand na wie ek opgekyk het. Hy het ook sommer van die begin af sy ervaring met ons almal gedeel.”

“Sy invloed op my en die hele gemeenskap is baie groot en verrykkend. Toe ek meer wedstryde begin speel het, het hy waardevolle raad gehad oor hoe om ’n held te wees in jou gemeenskap. Ofskoon Angelo nou nie meer op die veld saam met my is nie, is hy steeds daar voor en na elke wedstryd wat ek speel.”

Nóg ’n boorling van Idasvallei Garth le Roux – tans SFC se algemene bestuurder – het ook Angelo se impak op en van die veld benadruk.

“As speler het hy verskeie struikelblokke oorkom om die sport op die hoogste vlak te beoefen. Hy is verseker ’n inspirasie vir die jong opkomende spelers van die Stellenbosse omgewing.  Met sy aanstelling as spanbestuurder hoop en vertrou ons hy kan sy ondervinding en kennis aanwend om nie net die plaaslike talent nie, maar ook die klub as geheel tot groter hoogtes aan te vuur.”

Kerspuy het ’n spesiale boodskap vir jongelinge in Stellenbosch. “Vir die plaaslike spelers moet ek benadruk dat hulle nie die situasie as ’n gemaksone moet sien nie. Dit sal die grootste fout wees wat hulle moontlik kan maak. Behalwe dat jy nie kan groei in ’n gemaksone nie, is SFC nie net beskore vir Stellenbossers nie. As jy die kans kry om te speel, moet jy altyd jou beste gee en met trots speel.”