Pieter Cronje

Covid, post-covid – die nuwe normaal?

Pas die term? Gaan ons ophou braai, rugby speel en vergaderings hou? Hoe gaan ‘n wêreld ná die COVID-19 -pandemie lyk? Baie worstel met die vraag.

Ons is nie almal in dieselfde bootjie nie – ons is almal in ‘n storm in verskillende bote: van luuks en stormsee-bestand tot stukke dryfhout waaraan ons vasklou. Dieselfde wêreld lyk so verskillend as die lens waardeur jy daarna kyk.

“Nuwe normaal” is eintlik net ‘n segswyse en nie ‘n korrekte of vakkundige beskrywing van die werklikheid nie.

Die wêreld verander sedert sy ontstaan en bewoners pas aan om te oorleef, te leef en hul leefplek te “verbeter”. Soms bereik hulle die teenoorgestelde!

Yuval Noah Harari verduidelik in sy boek 21 Lessons for the 21 st Century hoe bio- en inligtingstegnologie asook klimaatverandering (en nuwe siektes sonder medisyne) daardie aanhoudende verandering al vinniger gaan maak.

Politieke en ander ideologieë raak uitgedien en gebrekkig, sakepraktyke en gemeenskappe gaan anders werk. Sy raad: bly nuuskierig, leergierig, by, leer nuwe vaardighede, herontdek, herverpak en herbemark jouself om ekonomies relevant en waardevol te bly.

Ken jouself werklik sodat die algoritme-eienaars, met wie jy vryelik deur o.m. jou slimfoon jou persoonlike inligting en gedrag deel, nie ‘n groter invloed op jou denke en optrede kry nie. Jou keuse: hierdie beskrywing is ‘n nagmerrie of geleentheid!

Covid-19 het hierdie veranderingsgrafiek dramaties laat klim. Wanneer die kurwe tydelik minder steil raak, sal ons steeds kwesbaar vir siektes, ekonomies-maatskaplike en politieke sotheid bly, maar hopelik ons hoërorde-Covid-insigte oor omgee, die natuur, bevraagtekening en ouliker werk en leef behou. Ons het dinge wat werklik saakmaak, herontdek en herbevestig.

Pieter Cronjé is 'n onafhanklike internasionale konsultant van Stellenbosch. Hy gee deeltyds klas by die Universiteit Stellenbosch, is betrokke by internasionale motorwedrenne en adviseer van korporatiewe tot professionele ondernemings in leierskap, kommunikasie, handelsmerkbestuur en sakegroeistrategie. Hy was kommunikasiedirekteur van die eerste onafhanklike verkiesing in 1994 en ook van Stad Kaapstad. Hy was nou betrokke by groot projekte in verskeie ekonomiese sektore, die 2010 Sokker Wêreldbeker en het ook Brasilië en Rusland besoek om dié lande met hul Wêreldbekers in 2014 en 2018 te help.

Pieter Cronjé is ‘n onafhanklike internasionale konsultant van Stellenbosch. Hy gee deeltyds klas by die Universiteit Stellenbosch, is betrokke by internasionale motorwedrenne en adviseer van korporatiewe tot professionele ondernemings in leierskap, kommunikasie, handelsmerkbestuur en sakegroeistrategie. Hy was kommunikasiedirekteur van die eerste onafhanklike verkiesing in 1994 en ook van Stad Kaapstad. Hy was nou betrokke by groot projekte in verskeie ekonomiese sektore, die 2010 Sokker Wêreldbeker en het ook Brasilië en Rusland besoek om dié lande met hul Wêreldbekers in 2014 en 2018 te help.

Viktor Frankl het in Man’s search for meaning, ‘n belangrike waarheid uit sy oorlewing van die Nazi-moordkampe gedeel: ongeag wat met jou gebeur, kan niemand jou besluit oor hoe jy daarop reageer, van jou wegneem nie.

“Nuwe normaal” is ‘n poging om ‘n nuwe omgewing wat niemand volledig begryp nie lomp te probeer beskryf. Maar, as jy jouself of ander daarmee kan help, kies die avontuur- bo die nagmerrie-scenario.

StellenboschNuus.com weerspieël ‘n verskeidenheid opinies. Die menings in die stuk is die van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig die mening van StellenboschNuus.com nie.