Bo: Kleine Zalze se chenin blanc.

Danie Keet

Met die amptelike chenin blanc-maand pas agter die rug en die opheffing van die verbod op die gebruik, verkoop en verspreiding van wyn, is dit dalk die regte tyd om ‘n bietjie te kyk na een van Suid-Afrika se voorste wynkultivars, chenin blanc.

Kobus Basson, een van Stellenbosch se voorste wynmakers op Kleine Zalze, beklemtoon die veelsydigheid van die kultivar.

“Chenin blanc is ‘n baie veelsydige kultivar. Dit is dus moontlik om ‘n wye verskeidenheid wyne en wynstyle van chenin blanc te maak. Dit is beslis nooit vervelig om met chenin te werk nie. Chenin blanc is nie ‘n baie moeilike en komplekse kultivar om mee te werk nie. Dit is dus relatief ‘maklik’ om ‘n standaard goeie wyn van chenin blanc te maak. Dit is heelwat moeiliker om ‘n unieke en uitstaande wyn te maak en hier speel wingerde en kelderpraktyke ‘n baie groter rol.”

“Die trosse is groot en relatief kompak so dit is baie belangrik om nader aan die oes en tydens nat periodes die wingerd fyn dop te hou vir botrytis en suurvrot.”

“Ek hou van ‘n vars en vrugtige tot komplekse en ryk, vonkel tot soet en selfs gefortifiseerde chenin, so baie keuses! Indien ek ‘n styl moet kies, dan sal dit beslis die meer komplekse en ryk styl wees. Ons werk hoofsaaklik met ouer chenin blanc-wingerde en dit is die styl wat die ou wingerde natuurlik soos ‘n handskoen pas. Dit is ook die styl wat dit daartoe leen om werklik uitdrukking te gee and die unieke terroir van die spesifieke wingerd,” sê Basson.

Basson meen ook dit is taamlik maklik om die verskillende style chenin blanc te identifiseer.  “Aan die vars en vrugtige kant verwag mens prominente vrugtige aromas op die neus. Hoofsaaklik koejawels, pynappel, grenadilla en soms ‘n bietjie sitrus op die neus wat dan deurdra na die smaak.” 

“Die vrugkarakter word ondersteun deur genoeg suur om die varsheid te behou. Aan die ander kant van die spektrum sal die wyn minder prominent vrugtig wees, maar heelwat meer kompleks, ryk en mineraalagtig op die smaak. Die styl sal meer dikwels as nie ook gepaard gaan met gisting in hout en houtveroudering. Die invloed van die hout sal dus ook deurtrek na die neus en smaak van die wyn. Die balans van suur, tekstuur, mineraalagtig, vrug, hout en varsheid moet behou word,” sê hy.

Oor Suid-Afrika se chenins in vergelyking met oorsese kultivars, sê Basson: “Dit is moeilik om vinnig te verduidelik, maar in kort kan mens dit soos volg opsom: ons het ‘n Mediterreense klimaat wat oor die algemeen warmer is as in die Loirevallei in Frankryk en die wyne wat ons maak sal dit reflekteer. Chenin uit Suid-Afrika sal dus oor die algemeen meer ryp en vrugtig wees, terwyl die wyne van ‘n koeler klimaat meer elegant en gestruktureerd sal wees.”

“Chenin blanc kom nou voor in 23 lande, maar in realiteit kompeteer ons waarskynlik met veral Frankryk, Argentini, die noorde van Kalifornië en Nieu-Seeland. Ek dink egter ons kan met gemak sê dat ons die leier is in die produksie van chenin blanc met ongeveer 53% van die aanplantings in die wêreld op eie bodem. Die Loirevallei in Frankryk sal egter altyd beskou word as die oorsprong van chenin blanc en hulle bly ons grootste kompetisie, maar eintlik bondgenoot om die kultivar se status wêreldwyd te bou.” 

Basson glo ook dat weens chenin blanc se veelsydigheid dit feitlik op enige tyd en by enige geleentheid geniet kan word.

“Een goue reël bly egter dat dit die beste is om chenin blanc saam met vriende en familie te deel en te geniet. En saam met kreef is dit ‘n onverbeterlike kombinasie,” meen hy.

Vir Christo Pienaar van Nuy-wynkelder is chenin blanc belangrik en die grootste kultivar in hul kelder.

“Die kultivar beloon jou as jy moeite doen in die wingerd en by die kelder en omdat dit by ons ons  grootste kultivar is, kan ons lekker daarmee eksperimenteer. Chenin Blanc is makliker om te maak as byvoorbeeld sauvignon blanc, aangesien dit nie so suurstof-sensitief is nie. Die sap oksideer dus nie so maklik nie en die geurprofiel is ook groter as byvoorbeeld sauvignon blanc.”

“Hier in die Nuy is ons klimaat bietjie warmer en droeër as in Stellenbosch en is ons siekte druk nie hoog nie. Die feit dat ons ook aanvullend besproei, kan ons die waterbehoeftes self aanvul en bepaal.”

“Ons maak meestal die ongehoute vars en vrugtige styl. Die gehoute vat-gegiste chenin blanc is maar ‘n klein gedeelte van Nuy se produksie.”

“Chenin blanc is maklik herkenbaar en die meeste verbruikers by ons wynverkope hou daarvan. Hul herken en assosieer maklik met die mengelmoes van vrugte geure in die wyn, veral die lekker vars koejawel-  en vrugteslaai-geure. Hierdie is ‘n baie veelsydige kultivar aangesien jy vrugtige ongehoute wyn, komplekse vat-gegiste wyn, semi-soet tafelwyn en edellaatoes van die kultivar kan maak.”

“Maar,” beklemtoon Pienaar, “Chenin blanc moet herkenbaar wees, nie na sauvignon blanc proe nie en ‘n goed gebalanseerde suur met ‘n lae pH en 12,8 vol % alcohol hê. Dan drink en verouder hy op sy beste. Ons chenin blanc-wyne het meer vrug en ons drink ons wyne in dieselfde oesjaar. Die Franse styl neig meer na hout-  en bottel-verouderde wyne waaraan die Europese mark gewoond geraak het. Ons sal maar altyd met Frankryk kompeteer, maar hulle klop ons wyne nie op vrug en sonskyn nie.”

Pienaar glo jy kan chenin blanc voor en gedurende ete geniet, asook as ‘n edellaatoes saam met lekker kaas as nagereg.

“Vir my is ‘n lekker vars en vrugtige styl chenin blanc saam met koue hoenderslaai ‘n wenner,” som hy ‘n goeie kombinasie van chenin blanc en sy gunsteling gereg op.

David Nieuwoudt van Cederberg-kelder, en ook ‘n chenin blanc-meester, sê die kultivar is ‘n baie “underrated” variëteit. 

“Dit gee jou vryheid om mee te speel in die kelder. Dit is soos klei in jou hande met oneindige opsies. As jy dieselfde aandag aan chenin blanc gee wat die meeste wynmakers aan sauvignon blanc spandeer, kan jy ‘n wêreldgehalte wyn maak.”

“Daar is ‘n rede waarom chenin blanc die mees aangeplante kultivar in Suid Afrika is. Dit is maklik om mee te boer en die terroir word baie mooi in die wyn weerspieël.”

“Ons maak ‘n Cederberg chenin blanc-styl! Met my eerste probeerslag in 1997 was dit die eerste ongehoute Veritas dubbelgoud chenin blanc. Tot vandag toe is die styl ‘n gunsteling.  Ek sê altyd: ‘Clean-cut, fresh and alive.’”

“Chenin word tradisioneel in warmer areas in Suid-Afrika geproduseer en die styl is gewoonlik voller en vetter. In Cederberg het ons ‘n koel kontinentale klimaat en kry dus hoër sure, dus meer aromatiese vrug komponente. Chenin moet mooi vrug en varsheid weerspieël, selfs as dit gehout is. Sitrusskil, ryp appel en mooi elegansie op die pallet is vir my ‘n vereiste.”

Nieuwoudt meen Suid-Afrika moet sy eie chenin-style waardeer. “In die haas om die Franse style na te boots, gaan die Suid-Afrikaanse eienskappe soms verlore.  Ons probeer die groot, vet style maak, maar wat het geword van die vars vrugtige Suid-Afrikaanse chenins wat baie op ons rakke verskyn. Dit is juis die uniekheid van die varser Suid-Afrikaanse chenin blanc-styl.  Dit is eie aan Suid-Afrika en ons hoef met niemand te kompeteer in daardie marksegment nie,” glo hy.

Vir David is chenin blanc, soos vir soveel ander Suid-Afrikaanse wynliefhebbers, ‘n “all-rounder”.

“Ek kan dit enige tyd vanaf 11:00 in die oggend geniet en drink dit saam met alles – vanaf ‘n Kaap Agulhas-geelstert op die kole, lekker geurige plaashoender tot ‘n lekker pastagereg.”

Gevra or sy gunsteling chenin, sê hy: ”Definitief Cederberg se Five Generations Chenin Blanc 2018 met Koekie, wat al meer as 25 jaar vir ons kook, se oondgebraaide plaashoender… Ongelukkig deel Koekie nie haar resepte nie…”

Abe Beukes van Yonder Hill glo ook die grootste eienskappe van chenin is bruikbaarheid en verouderingspotensiaal.

“Jy kan amper enige wynstyl van dit maak, behalwe rooiwyn. My familie kom van Kamieskroon en die vorige motornommerplaat van Kamieskroon was CBU. My een oom het altyd aangevoer dat dit staan vir die mense van daardie wereld Common, But Useful.”

“So voel ek ook oor chenin, dalk vandag nie meer so algemeen nie, maar steeds uiters bruikbaar vir enige styl.”

“Van die beste verouderde plaaslike witwyne wat ek al gedrink het was van chenin blanc gemaak. Dink byvoorbeeld aan Gunther Brozel se Nederburg Late Harvest en Edellaatoes-wyne van die 1970’s,” sê hy.