Hilton Biscombe

Dit was in die lente van September 1940 toe die oproep kom dat die sterk en gesonde mans van Die Vlakte, die bruin woonbuurt van Stellenbosch, die Wêreldoorlog in Noord-Afrika moet betree.

Met die vooruitsigte van ‘n goeie pensioen en betaling, het hulle die opoffering gemaak om almal in die beskaafde wêreld te beskerm. Dit het hulle geglo, en was vas oortuig dat dit die regte ding is om te doen. Die plaaslike kerke het hul seën oor al die mans van die dorp gegee wat hulle ietwat trots gelaat het.

Frank Biscombe, my pa, was een van hulle, so ook sy broer James , wat nie hul entoesiasme kon inhou nie, soos dit maar die gewoonte van jongmense is, vir hierdie groot “avontuur”.

Gou was hulle wreed ontnugter met die kilheid van die dood. Oop verswerende wonde en bloed het hulle met afgryse vervul. Hul pa, trots Engels, se woorde, toe hulle hul geboortehuis verlaat het, in the King’s language, was dat hulle moet onthou dat hulle dit doen vir “King and Country”.

In Noord-Afrika se barre woestyn het dit maar moeilik gegaan as die koning met sy gesante in Engeland om hul ovaalvormige tafel besluit het hoe om nog ‘n aanslag te benader.

As ek dan ‘n goeie beskrywing van hierdie soldate moet gee, sal die beskrywing  wees dat hulle woestynrotte was. Hulle het ook as so plaaslik bekend gestaan, maar in Engels as Desert Rats, wat ook later as ‘n bynaam vir Nelsons-sokkerklub, wie se deure vir almal oopgestaan het.

Die benaming Desert Rats kom van holgate waardeur hulle rats moes kruip om hulle teen die aanslag van Hitler se blitzkreig te beskerm.

Was dit nie vir hierdie twee stuks wat ek my pa en sy broer kon noem nie, wie se sweethearts by die tuis op hulle wag, het hulle maar voort laat ploeter in ‘n onbenullige oorlog. Alle oorloë is onbenullig as ek nou die mening lug soos die dokumentêre programme oor die beeldradio in volkleur met bloed en al jou inlig en jou met afsku vervul.

Net soos Apartheid was dit ‘n aanslag teen die gees! Ja, oukei, teen die vlees ook.

Baie het van hierdie slagvelde gekom, erg getraumatiseerd wat diep in hul verstande ingekruip het en die grondslag gelê het vir die nageslagte. G’n wonder daar’s nog steeds die diepliggende wonde wat wording kry in geweld, hetsy teen vroue, kinders en selfs ander mans nie. Die grondslag was gelê.

Nou kry ons mense soos Trump (mister fake news) en Zuma (mister deceiver), wat katspronge oor die hurdles wat hulle self geskep het, wil gee. Ons het basiese ordentlikheid in hierdie wêreld nodig.

Trump, dis reg ja, blaas nog meer, sodat daai vel kan bars soos ‘n laaitie wat met sy bubble gum probeer kry om dit groter as sy gesig op te blaas as dit later sy soetigheid verloor en bubble-plof oor sy mombakkies met oranje hare en al. Mense, ons moet ons fokus anders kry…

‘n Plakkaat hier,’n kreet daar en crowds of people is very impressive en dis presies wat die ego wil hê om kragdadig af te show soos ‘n pronkvoël wat sukkel om sy staan vol te hou.

Some say it is an important part of the democratic process; seker maar so, maar as dit jou impotent agterna laat voel van ‘n regering wat net deur die motions gaan en hul voordoen as freedom fighters, laat dit jou wonder.

Ek sien egter in my geestesoog hoe versoekskrifte in ‘n laaitjie iewers beland, waar dit gebêre word vir die volgende regering om mee te deal, wat seker ook met lam boude deur die dans van die makabre gaan, om te wys dat hulle darem iets doen. Maar natuurlik ja, protes is nou deel van die storie en die storie is nie altyd waar nie. Dis tyd om dieper te kyk; die skills om goed raak, te sien en te interpreteer.

Hier kan ek Martin Luther King aanhaal, maar laat ek liewers nie daar gaan nie. Wat van Gandhi uit sy graf oproep? Mohammed? Miskien Salomo, of nader aan ons huis, Mandela? En dan is daar Jesus se bergpredikasie. Dis baie meer radikaal as wat ons dink, en radikaal beteken nie afbreek en destroy nie! It started out well, maar baie lewens is nou verlore en verwoes onder die dekmantel van ‘n valse stryd van vlees en bloed…

Ons moet eenvoudig ander oplossings vind en anders begin dink.

Wat van die hele storie oor onsself verander? Laat ons begin om te weier om onsself in donker lig te sien. Laat ons dit omswaai en die goeie kry om aan ons almal te behoort. Maar hier moet ons oppas dat hierdie einste ego nie weer wil begin blaas en blaas om die strooihuisie wat ons self  gebou het om te blaas nie. Stewige klip is ‘n antwoord, maar dan moet ons bereid wees om eelte op daai palms te kry.

Dare I remind you of Zimbabwe? Nee, Bob was nog nooit my uncle nie. Mister Freedom ja, wel so, vanaf geboorte af, toe Apartheid hom wou voordoen as geskenk van die gode en nou nog sy alie elke dag sien.

Ons is egter gemaak van sterstof, soos saamgestel deur die Almagtige waar alle moontlikhede in ons opgesluit lê, waarvan die liefde die grootste is.

Truth to Power!

Reg so, alleman/-vrou, of praat ek bog? Teen nou sal u seker wonder oor die opskrif van hierdie skrywe. Laat my dus toe om dit aan die hand van ‘n storie of vergelyking toe te lig.

Met hierdie corona-gedoente kan dit kan net sowel in 1953 gewees het, as jy in ag moet neem hoe vinnig dit versprei het.

“Oem Daantjie herrit vannie Kaap gebring!” was ‘n lompe verklaring, toe dit sy lêplek op Die Vlakte kom kry het. Maar hy was nog nooit in die Kaap nie, so loop die gerug wat allerhande ander stories wakker maak asof die ontnugtering uit ‘n lang sluimering ontwaak het.

Daai tyd was daar nie sprake van auntie Corona nie, maar van ‘n ander “kiem” wat nie so genoem wil word nie…

Dit was egter deur ‘n polisieman bevestig dat ‘n brand by 67 Van Ryneveldstraat ontstaan het, waar ou tannies met blou hekel- en breigoed gereed gestaan het om hierdie hoogs aansteeklike blessing uit te deel aan ‘n nuwe geboorte. Die fire brigade het gou agtergekom dat hierdie vuur onblusbaar is en dat dit nie rook was soos hulle dit ken nie. Dis nie verstikkend nie en brand nie jou oë nie. Maar daar is een kenmerk vir alle vure waarmee hulle elke dag te doen kry; as jy te naby kom, gaan jy verskroei. Hierdie een egter, het dit nie gedoen nie.

“Dit kô vannie hiemel!”, was die fluistering wat saam met die ongeloof verklaring soek.
“Dis Moses se brandende bos!”, was ‘n ander fluistering.
“Die engele mettie goue swaarde behoede ons!” was ‘n vrees-mening wat swaar in die lug gehang het.

Oumensies met suurklontjie-bekkies het rustig op hul voorstoepe gesit. Net hulle het geweet waaroor dit gaan. Mrs Jacobs, die vroedvrou, het met ‘n ligte stap en selfvoldaanheid verklaar dat ‘n klong met linkerbiene, bruin vel, amper kroeshare en sommer met ‘n eerste tand gebore is in hierdie huis in Van Ryneveldstraat wat nou aan die brand is.

Eers was daar paniek, want hy kon sy ma se kannetjies stukkend byt, maar die klong was slim, he knows a bargain when he sucks one….embrosia on the go, all the time! Daar en dan het hy haar tot heilige verklaar en rustig soos ‘n otjie vir die vaal moere gesuig.

Intussen het die vuur, onblusbaar sy gang gegaan. Gissinge was nog steeds daar. Maar niks gebeur  dan met hierdie klong en sy ma in hierdie huis nie! Knus tussen sy ma se soog rykdom het hy die liefde ervaar. Daai diepe liefde wat enige ma, op enige plek in hierdie ganse wêreld uitdeel al kom dit nie so voor as ons die verwaarlosing voor ons waarneem nie.

“Uiteindelik het die Here gekom!”, het Eerwaarde hardop van hom laat hoor toe hy hierdie groot vuur sien, want hy ken immers die Bybel, maar diegene wat dink hulle weet van beter het gou ook hul eie mening gelug.

“Die Here kom oppie wolke, en hierdie een met die rooi gloed, is vannie duiwel!” En diegene wat effens versteurd is het alles geglo en in hul kop rondgekrap en google-eyed na die vuur gestaar.
Miester se verklaring het gou by sy leerders posgevat toe hy noem dat Nero sy viool gespeel het toe Rome brand. Miester was altyd so; polities ingestel en daarop uit om die jonger klomp bewus te maak van die sisteem wat sterk teen hulle tel en dat hulle hulself moet toerus vir hul eie oorlewing. Vir sy bydrae en moeite het hy op Robbeneiland beland, but it was time well spent, want daar’t hy geleer van die vuur van drif en passie en warmte wat net in die hart gebore kan word, onblusbaar, soos nou, met die geboorte van hierdie klong op 4 Mei, 1953.

Maar die liefde het ook sy lêplek in Stellenbosch kom kry, lank lank gelede toe dit nog nog pure bos was, maar met elke geboorte was daar die sprankel van hoop dat dit hernu kan word. Dit hang van ons af as om met nuwe oë na die vuur van ons harte kyk.

En hierdie huis van liefde staan die huis nou nog op erf 2437 met die grootte van grond: 1500 vk. meter.

Dis nog altyd ons huis, soos baie ander huise op Die Vlakte, minus die gesneuweldes wat deur geniepsigtige geeste platgegooi is, het die vuur ook na alle ander huise versprei, ongeag of hulle deur die geel monsters, met die vreetname van Caterpillars wat bakstene en beton verorber het soos sweet, big and gigantic lollipops!

Mag hierdie selfde gees van die liefde ons dra en onderhou in hierdie tyd van die Covid. Dit vra nou vir ‘n hernuwing sonder die geniepsiges wat net fake news wil versprei met hul vibrating phones, so onverskilling die donker nag in…

Dis tyd om te luister na ons wetenskaplikes wat lank reeds weet dat ons in die moeilikheid is, as ons nie in ons pasoppens vir hierdie brandende vuur van ‘n Covid is nie, wat regtig kan skroei unlike daai vuur op Die Vlakte wat nou nog met liefde warm brand in die eertydse bewoners se harte, vandaar die liefdesverhaal wat opgesluit lê in die bloed van almal wat struggle en dit sluit die rykes ook in. Die verskil egter is dat ek of ons dit weet, maar dat daar nog baie is wat nog met ‘n soekkersie in donkerte rond vroetel.

StellenboschNuus.com weerspieël ‘n verskeidenheid opinies. Die menings in die stuk is die van die outeur en verteenwoordig nie noodwendig die mening van StellenboschNuus.com nie.