Bo: Veritas toekennings 2020.

Die SA Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV) het aangekondig dat hulle die eerste organiseerder van wynkompetisies is wat wêreldwyd die leiding neem met implementering van sanitasiestelsels vir wynbeoordeling tydens die Covid-19 pandemie. 

Daardeur sal die 2020 SA Jongwynskou en die Veritas-toekennings, met meer as 2000 inskrywings altesaam, die sanitêre standaarde van wynkompetisies tot ’n nuwe vlak neem met die gebruik van ultra-violet en osoon lug-en-oppervlaksanitasietegnologie. Dít, benewens die toepassing van omvattende, spesiaal geformuleerde protokolle, om die veiligste Covid-19-omgewing moontlik vir die beoordelaars en personeel betrokke te verseker. 

SANWSV, die aanbieder van hierdie kompetisies – wat elk oor vyf dae, onderskeidelik vroeg- September en middel-Oktober beoordeel word – spog ook dat hierdie samewerking met Tharo Wine, ’n Stellenbosse kuipery en sanitasiediens-spesialis met sy merkwaardige UV-verwante Uvozone-stelsel, ’n eerste vir die wynbedryf sal wees. 

Daarbenewens word ’n protokolraamwerk van 65 bladsye vir virus-beskerming ingespan, wat deur ’n gesondheidspraktisyn met ervaring van die ontwikkeling van relevante riglyne vir grootskaalse industriële aanwending, verfyn is. 

“Ons het hierdie reëlings in die belang van die Suid-Afrikaanse wynbedryf ingestel en neem die leiding deur die mees gevorderde maatreëls moontlik te implementeer om ’n veilige en gesonde omgewing vir ons beoordelaars en personeel te skep,” het die organisasie se voorsitter, Christo Pienaar, gesê. 

Christo Pienaar, die SANWSV voorsitter.

Christo Pienaar, die SANWSV voorsitter.

Hy het bygevoeg dat meer as 1000 inskrywings vir Veritas verwag word, wat op 9 September sluit. Die Jongwynskou het reeds meer as 800 inskrywings ontvang. Die beoordeling by elkeen van hierdie kompetisies betrek sowat 70 personeel en beoordelaars in 18 beoordelaarspanele op die 650 vierkante meter perseel, naamlik die Nederburg-veilingkompleks in die Paarl. Die panele is afgeskaal van sewe en vyf lede onderskeidelik by die Jongwynskou en Veritas, na drie lede elk, om die getalle te beperk ter wille van optimale Covid-19-distansiëring.

Wynand Hamman, algemene bestuurder van Tharo Wine, wat die sanitasie-toerusting verskaf, het gesê: “Dit is ’n groot voorreg om ons tegniese kennis en UV- en osoon-tegnologie aan SANWSV beskikbaar te stel vir hierdie twee prominente wynskoue. Dit is ons beskeie bydra tot die land se wynbedryf in hierdie moeilike tye van die Covid-19-pandemie.”

Hamman het beklemtoon dat die daaglikse Uvozone-sanitering elke vierkante sentimeter van die perseel sal dek – elke tafel, stoel, venster, bottel en proeglas – gedurende die nag voor elke dag se beoordeling. Verder sal elke beoordelaar daagliks ʼn elektroniese keuringsvorm  ontvang om inligting omtrent hul gesondheidstoestand in te vul alvorens hulle die huis verlaat.

Die Uvozone-stelsel is oor 15 jaar deur Tharo Wine ontwikkel – aanvanklik gefokus op eikehoutvat- en wyntenk-sterilisasie, maar dit word vandag ook ingespan vir die lug-sterilisering van koelkamers, wynkelders en stoorfasiliteite, kantore en veel meer.

Hierdie stelsel gebruik UV-C-ultravioletlampe en UV-lampe wat osoon produseer. Die UV-C-lig, verduidelik hulle, is kiemdodend en deaktiveer die DNS van bakterieë, virusse en ander patogene en vernietig daardeur hul vermoë om te vermenigvuldig en siekte te veroorsaak. UV-C-lig, spesifiek, beskadig die nukleïen-suur van mikro-organismes deur kovalente verbindings van aanliggende basisse in die DNS te vorm. Sulke verbintenisse verhoed DNS om ontsluit te word vir replikasie en die organismes is dan nie in staat om te reproduseer nie.

UV-C-lig is ’n uitnemende steriliseerder vir oppervlaktes, water, lug, ens. Die bestraling van die UV-lampe is skadelik vir die menslike vel en oë; dit moet dus slegs in spasies gebruik word waar geen mense of diere teenwoordig is nie.

Die osoon-sanitering van die lokaal sal slegs gedurende die nagure voor die aanvang van proesessies gebeur en daarna elke nag vir die duur van die beoordeling.

Die osoon-produserende lampe sal vir twee ure gedurende die vroeë aand aangeskakel word en die lugversorging-stelsel sal die osoongas regdeur die perseel versprei. Daarna sal die kiemdodende UV-lampe op hul beurt geaktiveer word en help om die oorblywende osoon in die lokaal vir tot vier ure lank op te breek en dit veilig vir menslike toegang te maak.

Tharo beskik oor die nodige metingstoerusting om UV-bestraling- en osoon-vlakke te meet en te verseker dat die perseel veilig is vir mense.

Intussen is  SANWSV se unieke protokol-lys vir veilige beoordeling reeds hoogs suksesvol by die  Novare SA Terroir Wyntoekennings se beoordeling geïmplementeer, wat die volgende maatreëls ingesluit:

  • ’n Aanlyn vorm vir keuring (“screening”) wat daagliks deur alle beoordelaars, organiseerders en werkers voltooi moet word
  • Temperatuur-keuring en hand-sanitasie by aankoms
  • Verpligte gesigmaskers en die handhaaf van ’n veilige afstand van 2 m tussen beoordelaars, asook persoonlike handsanitasie
  • Slegs een hanteerder van glase wat op skinkborde geplaas word, met skoon glase vir elke rondte wyne en een hanteerder van skinkborde per paneel
  • Alle glase en koffiebekers word in ’n spesiale skottelgoedmasjien teen 80°C gewas.

Die Jongwynskou beoordeling vind van 31 Augustus tot 4 September plaas en die Veritas-beoordeling van 12 tot 16 Oktober by die Nederburg Veilingkompleks in die Paarl, wat voldoende ruimte vir sosiale distansiëring van al die beoordelaars, beamptes en personeel bied.