Bo: Hoër Meisieskool Bloemhof.

Na meer as vier maande tuis het die Hoër Meisieskool Bloemhof se graad 8’s en 9’s ook teruggekeer skool toe. Die graad 8’s is op Maandag, 18 Augustus terugverwelkom terwyl die graad 9’s op Donderdag, 20 Augustus teruggekeer het.

Wat sê Bloemhof se graad 8’s oor die terugkeer skool toe?

“Ek was meer opgewonde as gestres om terug te wees,” sê Lana Oberholzer en voeg by dat sy nie kon wag om al haar maats weer te sien nie. Joscelynn van Wyk beaam dit: “Ek was vreeslik opgewonde om my vriende en onderwysers te sien, maar ook op die selfdetyd senuweeagtig omdat ek nie geweet het wat om te verwag nie.”

Om leerders op die nuwe wyse van oggendkontrole en sifting in te lig, is ’n deeglike gids saamgestel en aan hulle en hul ouers beskikbaar gestel. Marizaan Nortjé het die eerste oggend se sifting as “interessant” beleef, “want ons moet eers in rye wag om gescan te word en toe kon ons eers klas toe gaan”. Sy sê egter dat sy baie bly is om weer terug te wees.

“Die oggendsifting was baie vinniger en eenvoudiger as wat ek verwag het,” sê Joscelynn. “Alles is goed beplan en beheer en, al is dit nie lekker om die heeltyd ’n masker te moet dra nie, is dit lekker om weer my Bloemhof-baadjie te kan aantrek en tyd saam met my Bloemhof-sussies te kan spandeer.”

Chrystan Wagenstroom was nie bekommerd oor terugkom nie. “Ek was selfversekerd en ek het geweet dat die skool alles in hul vermoë sal doen om my veilig te hou. Die siftingsproses was baie maklik en vinnig en ek voel baie positief daaroor,” sê sy. “Ek is bly om terug by die skool te wees by en my opvoeding te bevorder. Die skool het die proses baie maklik gemaak.”

Om seker te maak dat die nodige veiligheidsprotokol gevolg word, is al Bloemhof se leerders nie gelyktydig by die skool nie: Graad 8’s en 9’s is twee keer per week fisies by die skool terwyl graad 10’s en 11’s drie keer per week in die klas is. Die graad 12’s het hierdie week met hul Septembereksamens begin.